Oor ons

Die NG Kerk Koringberg deel ons Christelike geloof in besonder met daardie kerke wat uit die Reformasie van die 16de eeu gegroei het, en daarom onderskryf ons die Drie Formuliere van Enigheid – die Nederlandse Geloofsbelydenis (1559), die Heidelbergse Kategismus (1561) en die Dordtse Leerreëls (1618-1619).

Ons is ‘n plattelandse gemeente binne die Sinode van die Wes-Kaapland se grense, ongeveer 120km van Kaapstad.

Na veel wik en weeg is daar op 23 Oktober 1923 oorgegaan tot die afstigting van die vêrste uithoeke van die gemeentes van Moorreesburg en Hopefield en wel in die graanpakhuis te Warrenscamp, deur die Ringskomissie van die Ring van die Paarl, bestaande uit dr. M.J. van der Westhuizen en di. H.J. Pienaar en D.J. Malan. Die wuiwende graanoes wat tydens die afstigting juis pragtig in die aar gestaan het, het blykbaar die deurslag gegee wat die naam van die gemeente betref, naamlik Koringberg.

Dadelik het die nuwe gemeente aan die werk gespring en in Maart 1924 is reeds die eerste Dankfees gehou, wat £1,050 byeengebring het. Vroeg in dieselfde jaar is die pastorie begin, wat in 1931 vergroot is. Ook is dadelik begin met ’n saal, wat reeds in Nov. 1924 kon ingewy word en wat die gemeente sou dien as plek van aanbidding vir die volgende 25 jaar

Na die goeie aanvoorwerk deur die konsulente, ds. G.L. van Heerden en ds. P.A.M. Brink, is ds. A.C. Stegmann op 18 Julie 1924 as eerste leraar van die gemeente bevestig. In elke opsig het hy gedurende sy geseënde werktyd van 3 ¾ jaar die fondamente van die gemeente heg gelê. Gedurende sy bediening is die dorpie uitgelê en die eerste verkoop van erwe, onder uiters deeglike voorwaardes, was ’n reuse—sukses. In 1925 en 1926 is, onder sy besieling, al die bloekombome langs die dorpie se strate en op die berg aangeplant.

Na sy vertrek op 4 April 1928 kon op sy fondament voortgebou word deur ds. J.H. van Rooyen vir byna drie jaar, ds. J.J.D. Malan vir sewe en ’n halfjaar, ds. F.P. du Toit vir byna ses jaar en weer vir vyf jaar deur ds. J.J.D. Malan, wat op 22 Julie 1951, weer na elders vertrek het.

(uittreksel uit Ons Gemeentelike Feesalbum, 1952)