Die sentraliteit van die evangelie (2): Galasiërs 2: 11-21

Om te memoriseer: Galasiërs 2:20

“ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”

Die Woord:

15Ons is Jode van geboorte en nie sondaars uit die heidene nie. 16En tog weet ons dat ‘n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.

17As uit ons soeke na vryspraak in Christus geblyk het dat ons ook sondaars is, beteken dit dan dat Christus in diens van die sonde staan? Beslis nie! 18Maar as ek die bepalings van die wet wat ek nietig verklaar het, weer laat geld, dan maak ek myself daarmee tot ‘n oortreder. 19Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, 20en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. 21Ek verwerp nie die genade van God nie. As ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.

Oordenking:

In ons gejaag is dit maklik om vlugtig die Woord deur te lees eerder as om dit in te neem. Maar tog glo ons hierdie is die geïnspireerde Woord van God. Neem ‘n oomblik om stil te staan, dank God vir die Skrif en vra Hom om met jou deur hulle te praat vandag.

Toe Christus plekke met ons verruil het aan die kruis, was dit nie bloot om ons te spaar van die straf wat ons verdien nie. Hy het groter planne as dit gehad. Hy was besig om ‘n nuwe tipe  mensdom te skep vir ‘n nuwe tipe wêreld.

Maar dit verg die dood van ons ou self aan die kruis deur Christus om voorsiening te maak vir die opstanding van ons nuwe self deur sy krag (sien 1 Kor. 2:14).

Paulus is bewus hiervan. In ‘n sekere sin, het hy gesê: “Alles wat deel van die ou ek was is saam met Christus gekruisig.” Sy lewe was radikaal verander.

Soos ons die kruis en onsself oordink as “saam met Christus gekruisig,” wat sien ons? Christus het sy hele menslike bestaan op daardie kruis geplaas: sy liggaam, sy emosies, sy reputasie – sy identiteit. En vir die groter heerlikheid wat geopenbaar sou word, dit was absoluut die moeite werd vir hom.

Om die heerlike nuwe lewe wat Christus vir ons voorberei het te ontvang, beteken dat iets gedoen moet word aan die ou lewe (sien Fil.3: 7-11 en Lukas 5:38).

Hom kan ek nou met vreugde dien

in ruimte deur sy kruis voorsien.

’n Liefde so volmaak en vry

eis alles, alles ook van my

Isaac Watts 1707 (vertaal Attie van der Colf 1989/2001)

Nadenke:

Ons wil graag mense help om te leer hoe om in ooreenstemming met die waarheid van die evangelie te leef in elke sfeer van hul lewens. Wat beteken die evangelie in jou werkplek? Om ‘n naaste te wees? Om iemand te wees wat ander lief het? Soos die evangelie jou vorm, verander dit die kultuur wat jy skep en vermeerder uitdrukkings van God se hoop regoor ons land.

Gebed:

Vir jou hart

Oordink die plekke in jou lewe waar jy nie toelaat dat die kruis daar alles beheer nie. Erken jou swakheid en vra Christus vir oorvloedige genade om daardie dinge te verruil vir die vreugde wat Christus bied.

Vir jou kerk

Dank die Here vir broers en susters in jou gemeente en bid dat genade al ons verhoudings met mekaar sal deursuur.

Vir ons gemeenskap

Bid dat soos jy werk daar waar God jou geplaas het, dat jy bewus sal wees van daardie aspekte van jouself wat nie konstant die versoenende liefde van Christus weerspieël nie en vra Hom om daardie dinge te kruisig.

Kommentaar