Die sentraliteit van die evangelie (5): Galasiërs 2: 11-21

Om te memoriseer: Galasiërs 2:20

“ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”

Die Woord:

19 Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, 20 en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. 21 Ek verwerp nie die genade van God nie. As ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.

Oordenking:

In ons gejaag is dit maklik om vlugtig die Woord deur te lees eerder as om dit in te neem. Maar tog glo ons hierdie is die geïnspireerde Woord van God. Neem ‘n oomblik om stil te staan, dank God vir die Skrif en vra Hom om met jou deur hulle te praat vandag.

Vers 20 sê vir ons hoe hierdie ervaring van dood tot die wet en lewe tot God is: “ek is saam met Christus gekruisig, 20 en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.” Toe Christus gesterf het sê Paulus, het hy ook gesterf. Wat bly dan oor vir hom in die lewe?

Hy sê “Christus lewe in my.”Nadat hy alles agtergelaat het, bly Christus. Hy het opgestaan uit die dood en sy lewe oorgeneem. Dit is bekering. ’n Christen is nie ’n persoon wat in sy kop die leerstelling van die Bybel glo nie. Die duiwel glo ook die Bybel is waar. Maar wat help so ’n geloof? ’n Christen is ’n persoon wat gesterf het saam met Christus en wie se hele lewe nou beheer word deur Christus. “20 en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.”

Die nuwe “ek” kyk weg van myself af en vertrou op Christus. Van die oomblik af wat jy wakker word in die oggend tot die oomblik wat jy aan die slaap raak saans, kyk die nuwe “ek” weg van jouself af en kyk na Christus.

Wat ’n wonderlike manier om te leef!

Nadenke:

Paulus was daarvan beskuldig dat hy Christus die agent van sonde maak as hy homself as dood vir die wet beskou. Hy wys die teendeel is ook waar – godsdienstigheid is net so groot struikelblok vir die evangelie as ongodsdienstigheid. Die evangelie is nie godsdienstigheid of ongodsdienstigheid nie, die goeies is nie in en die slegtes uit nie, dit is iets totaal anders. As jy versoen wil wees met God deur mooi te leef gebruik jy eintlik maar net die evangelie as ’n manier om jouself te verlos. Tensy ons die evangelie verstaan as iets totaal anders as moraliteit, gaan ons altyd aan God gehoorsaam wees vir ons onthalwe en nie syne nie.

Gebed:

Vir jou hart: Oordink sy genade totdat dit jou verander. Bid dat jou geloof nie net in jou kop sal wees nie, maar ook in jou hart.

Vir jou kerk: Bid dat die kerk nie die evangelie tot blote moraliteit sal verklein nie, maar dat ons die diepte en rykdom daarvan keer op keer mag ontdek.

Vir ons gemeenskap: Bid dat Christene ons gemeenskap mag vernuwe, nie deur met die Bybel onder die arm rond te loop nie, maar deur lewens wat gesterf het vir die wet en nou lewe vir Christus.

Kommentaar