15 September – ‘n Boodskap van wanhoop

1 Samuel 28

Ons het verlede week gehoor oor hoop. Vanoggend hoor ons iets van wanhoop. Wanhoop is ’n verskriklike ding. Hier in hoofstuk 28 sien ons die toonbeeld van ’n man in wanhoop. Vanoggend hoor ons van die laaste nag in Saul se lewe, die nag voor hy sou sterf. Dit is werklik ’n wanhopige verhaal.

Die hoofstuk begin natuurlik met die kort insetsel van Dawid. Dit het ’n sekere belangrikheid ten opsigte van die posisie wat Saul homself in bevind. Dawid het skuiling gaan soek by die huis van Agis, die koning van Gad. Vandaar het hy sekere prominensie verkry deur vyandige volke aan te val. En Agis hoor ons in die laaste vers van die vorige hoofstuk, het Dawid nou vertrou en tot so ’n mate dat Agis vir Dawid nou selfs deel van sy weermag maak en hom sy lyfwag maak. Dit is natuurlik ironies, want Dawid is die gesalfde, hy is die een wat Israel moet beskerm teen die Filistyne, maar nou het hy homself al so ingewurm by die Filistyne, dat hy nadergesleep word om die laaste groot geveg teen Israel mee te maak. Nou Dawid mislei vir Agis natuurlik, as hy nadergetrek word sê hy vir hom: (lees vers 2a). Dit is dubbelsinnig. Dit is een van daai antwoorde waar mens nie regtig lieg nie, maar jy sê ook nie die volle waarheid nie.

In vers 3 beweeg ons dan weer terug na Saul toe. Ons hoor dat Saul in ’n verskriklike moeilike posisie is. Hy besef nog nie dat hy sy laaste 24 uur van sy lewe op aarde bereik het nie. Dit is in hierdie paar verse vooraf duidelik dat hierdie moeilike posisie van Saul verband hou met Dawid nie meer by die Israeliete is nie – as die Filistyne hulle leer gereed kry en Saul trek ook op by Gibea en hy slaan sy oë op na die leer van die Filistyne, was hy bevrees, sy hart het gebewe.

Hoekom is hy as ervare kryger so bevrees? Hy het nie sy held by hom nie, dit is wat ons in hierdie eerste paar verse hoor – Dawid, die man wat tienduisende verslaan het, veg nou vir die vyand. Saul het hom weggejaag – hoe moes hy nie dit berou het nie. Dit is die eerste ding wat Saul bevrees maak vir hierdie goot geveg.

Tweedens hoor ons dat Samuel dood is. Wie was Samuel – hy was die man wat vir Saul koning gemaak het. Hy was die man deur wie die HERE gepraat het. Samuel is nou dood. Ons lees dan ook in vers 3 hierdie vreemde vers aan die einde, nie net dat Samuel dood is nie, maar dat Saul na sy dood die dodebesweerders en die waarsêers uit die land verwyder het. Nou dit het natuurlik al ’n hele ruk gelede gebeur.

Dit is miskien ook die moeite werd om onsself te herinner wat die Woord van God oor dodebesweerders leer: Ons lees in Eks. 22:18 (lees). Die doodstraf word geëis. Ook in Lev. 19:31 (lees); Dodebesweerders is onrein, want hulle wil die dooies aanraak. Lev. 20:27 (lees). Deut. 18:10 (lees). Wat ’n tragedie om nou op die punt van ons teks herinner te word dat Saul eens op ’n tyd hierdie mense uit die land verwyder het. Wat ’n tragedie om nou te sien hoe hy hierdie einste mense gaan raadpleeg.

En laastens en miskien die ergste is vers 6 (lees). Die HERE is nou stil. Hoor ook die ironie: wie was dit wat die Urim en Tummim gebruik het om die HERE te raadpleeg: dit was die priesters. En wie het al die priesters laat doodmaak? Dit was Saul, want hy het gedink die priesters konkel agter sy rug met Dawid. Sonder Dawid, sonder Samuel en sonder die HERE. Dit is die wanhopige posisie waarin Saul homself in bevind het, ja deur sy eie toedoen.

Ek dink hier is iets om te leer hier vir ons almal ook. Dit maak regtig nie saak hoe groot Christen jy 25 jaar gelede was nie. Dit is wie jy vandag is wat saak maak. Dit maak nie saak of jy in die NG Kerk Koringberg gedoop, gekatkiseer en belydenis van geloof afgelê het nie – wat saak maak is of jy vandag nog aan daardie beloftes van God vashou. Dit maak nie saak hoe goed jou kerkbywoning, stiltetyd en watookal nog in die verlede was nie, wat doen jy vandag? Kyk na Saul – hy het die Filistyne vernietig en die dodebesweerders en waarsêers uit die land verwyder, maar kyk waar eindig hy. Laat dit as ’n waarskuwing aan jou dien vanoggend om versigtig en getrou in jou geestelike lewe te wees.

So dit is die redes vir Saul se wanhoop. En die diepte van sy wanhoop is duidelik uit wat hy volgende doen. Hy gaan en sien ’n dodebesweerder. Wat ’n tragedie. Let op hoe maklik hy ’n medium in die hande kry: “vind vir my een” sê hy, en amper voor hy klaar gevra is sê sy dienaars: “Daar is ’n vrou op Endor.” Die tyd toe dodebesweerders uit die land verban was lê vêr in die verlede. Jy vind hulle nou maklik. Almal weer van hulle. Nou doen Saul die een ding wat hy nie moet doen nie: hy is aan die HERE ongehoorsaam om uit sy wanhoop te kom.

Dan hoor ons van hierdie interessante ontmoeting tussen Saul en die heks. Saul vermom homself. Hy vra die vrou om vir Samuel op te roep en uit haar skok wil dit voorkom of sy nie geweet het die is Saul voor haar nie en ook nie geweet het watter Samuel nou sal verskyn nie. Nou die teks sê nie dat die vrou vir Samuel opgeroep het nie, nee sy sien vir Samuel opkom – dit wil lyk of die HERE vir Samuel gestuur het om ’n laaste woord van profesie te bring. En as die vrou vir Samuel sien weet sy onmiddellik dat dit Saul is wat vermom voor haar sit.

Let ook op hoe sy vir Samuel sien: ’n ou man kom op sê sy, met ’n mantel om: die teks maak dit dan duidelik – “Saul het geweet dat dit Samuel was.” Hoe weet Saul dit is Samuel? Natuurlik uit sy mantel – want onthou 1 Samuel 15 – Saul word verwerp deur die Here en soos Samuel wegloop gryp Saul sy mantel en skeur ’n stuk af en Samuel sê vir Hom: ‘soos jy my mantel geskeur het, het die Here jou koninkryk van jou af weggeskeur.’ Dan hoor ons natuurlik ook in daardie hoofstuk dat Samuel nooit weer vir Saul tot die dag van sy dood gesien het nie. En hoe moes Saul nie dit berou het nie.

So verskriklik soos die opkoms van Samuel moes wees die aand, soveel erger moes sy woorde gewees het. Ons lees in vers 16 (lees). Daar kon geen groter wanhopige woorde gewees het wat Samuel die dag gehoor het as dat die HERE sy vyand geword het nie. Die Here werk nou aktief om hom tot ’n val te bring. Terugskouend klink die woorde van Samuel in hoofstuk 15:23 dan soos ’n profesie (lees). Gemeente ongehoorsaamheid aan God in een aspek van jou lewe, is ongehoorsaamheid in al die aspekte. Saul het miskien wonderlike dinge vir die HERE gedoen is sy jeug, maar Samuel herinner hom – maak nie saak hoeveel mooi goed jy gedoen het nie, jy was steeds ongehoorsaam aan die Woord van die Here. God is nou jou vyand. Ja, Saul het gedink dinge sal regkom as hy die HERE paai met offergawes, of vir Dawid om die lewe bring sodat die profesie teen sy huis nie tot vervulling gaan nie. En nou in sy laaste wanhoop gaan sien hy ’n vrou om die dooies vir hom op te roep. Sien hy gaan sy eie weg, soek sy eie eer en bewandel ’n pad wat daarop uitloop dat God hom as koning verwerp en Dawid in sy plek kies.

Hy gaan ’n afdraande pad. Hy begin Dawid haat, probeer hom vermoor en verstrik homself steeds dieper in die ongeluk. Dit beteken egter nie dat Saul ophou om hom nog soms vroom te gedra nie. So lees ons byvoorbeeld dat Saul by geleentheid aan die Siffiete wat aan hom kom verklap het waar Dawid skuil, gesê het: “Mag die Here julle seën omdat julle saam met my voel” (1 Samuel 23:21). Dit klink vroom genoeg. Hy praat asof hy verontreg word, en God as die barmhartige sy saak sal hanteer en daarom diegene sal seën wat hulle oor hom ontferm. Maar dis misplaaste vroomheid, want sy hart is in werklikheid vol haat en boosheid.

Dit is altyd die kenmerk van valse godsdienstigheid: God word opgeëis vir die mens se eie sondige doel. Tot God word om hulp geroep, God word as bondgenoot in die eie stryd aangespreek, God word geannekseer, maar sonder egte bekering tot Hom. Ja, selfs voor hierdie geveg met die Filistyne lees ons dat Saul die HERE geraadpleeg het. God word ingespan vir die bereiking van die mens se eie begeertes, maar sonder om te vra of daardie begeertes in ooreenstemming met God se wil is. God moet die mens dien, in plaas daarvan dat die mens God dien.

Ons kan in ons poging om God te manipuleer om ons wil te doen, onsself baie vroom voordoen, Dan is ons godsdienstigheid is in werklikheid selfdienstigheid. Ware godsdienstigheid is presies die teenoorgestelde: die oorgawe van ons hele lewe aan Hom en sy wil, die vashou aan sy beloftes en die soek van sy eer.

Ons lewe hoef nie soos die van Saul te wees nie. Soos ons van 1 na 2 Samuel beweeg sal ons dit sien: Dawid het verskriklik gesondig – egbreek en moord staan teen sy rekord. Maar wat is die verskil tussen hom en Saul dan? As Dawid met sy sonde gekonfronteer word deur die profeet van die Here dan skeur hy nie sy mantel stukkend of probeer die HERE paai of sê: “ag ons het maar almal foute nie.” Nee, Dawid erken, hy bely. Selfs hier waar hy gehoor het hy gaan môre sterf, lig Saul nie ’n vinger om homself voor God se genadetroon te verootmoedig nie. Van alles wat ons van die HERE hoor in Sy Woord is dit moeilik om te glo dat Hy nie tog Saul genadig sou wees as hy hom verootmoedig het nie.

Gemeente daar is baie van Saul in elkeen van ons. En tot die mate wat ons soos Saul is, is ons vyande van God. Maar lees ons in Romeine: terwyl ons vyande was van Hom, is ons met God versoen deur die dood van Sy Seun. Ons rebellie verdien ook die dood, maar God het Sy Seun gestuur om die dood op Homself te neem. In Christus versoen God sy vyande met homself. Dat Hy ons vriende kan noem. En daarom as jy vanoggend nog ’n vyand van God is, hoor sy uitnodiging van versoening deur Sy Seun. Moet nie vanoggend soos Saul jou hart verhard nie. Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is. Roep Hom aan terwyl Hy naby is. Moet nie soos Saul na strooihalms gryp wanneer jou einde naby kom nie. Nou is die regte tyd. Nou is die dag van verlossing.

Na wie anders sal ons dan gaan om ons met God te versoen? “God bewys Sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (Rom 5:6).

Amen

Kommentaar