Bedaar, Christus sit aan die regterhand van God

Dit is hierdie naweek byna twee maande sedert ons laaste Sondag bymekaar, toe min wetende wat wag. En al voel dit ver terug én ons ver uitmekaar, reik ons harte en gebede tóg oor die afstand en onsekerheid heen.

Ons besef dat die impak van hierdie pandemie en die ekonomiese- en sosio-maatskaplike gevolge daarvan, véél wyer strek as wat ons kon dink.  ‘n Groeiende kommer en gevoel van onsekerheid het in ons gemeenskappe posgevat.  Werkgewers en werknemers is onseker, skoolbesture soek naarstigtelik na planne, kinders se drome oor ‘n matriekjaar of sportseisoen val uitmekaar, bejaardes is bang vir gesondheidsrisiko’s, die winter breek aan en honger neem toe. Dis teen hierdie agtergrond dat die Woord vanoggend na ons kom uit Kol. 3 en ons herinner dat Christus aan die regterhand van God sit.

Ons moes weens die verbod op samekomste die kerkdeure toetrek vir eredienste en só gaan dit lyk my nog ‘n hele ruk moet bly. Danksy tegnologie het die krisis wél ‘n kans gebied: ons kon boodskappe opneem en uitstuur “ons aanbidding het ‘n uitreik” geword, ‘n getuienis. Weens die ontwrigting waaronder skole deurloop, het ek eers gewag – maar, vanaf Sondag, 24 Mei, hervat ons ons kategese weer, elke ouer het ‘n leiersgids en ek sal ook kyk hoe ons die kinders dan nou wel digitaal kan bereik. Volg gerus ons uitsending (Woensdae, Sondae oggende en aande) op Facebook, YouTube of ons WhatsApp groep.

Die kerkdeure het toegegaan, maar ons werk gaan voort.  Ons hou vol met die weeklikse etes by Sopkombuis (skenkings is steeds welkom), ons Kosbank help ook mense wat oor ons pad kom en ons bydraes aan die ACVV en Koringberg dagsorg gaan voort. Ons is ook saam met die breër gemeenskap in Koringberg besig met ’n projek om maskers vir “Hopland” te vervaardig en te versprei, waarvoor ons R10 000 ontvang het vanaf Diaconia se Covid rampfonds.

Hoewel al ons personeel aan diens is, is die kerkkantoor steeds gesluit – ons werk van die huis af en enige navrae kan gerig word; kommunikeer gerus met my, Lize, Gert of Miriam. Welkom terug aan Lize Steyn wat weer terug op haar pos is en dankie aan Lourene Botes wat uitgehelp die afgelope paar maande. Sover kon ons nog al ons finansiële verpligtinge nakom, maar ons wil wel herinner dat dit April – Junie ons jaarlikse dankoffer tyd is waarvoor ons diakens sal kollekteer (al is dit net telefonies weens die grendelstaat). Ons vertrou dat die Here ook deur julle vir Sy gemeente sal voorsien.

ONS WIL JUL DAAROM BEMOEDIG, EN GROET, MET DIE SEËNBEDE VAN PSALM 20:1 –

“MAG DIE HERE JOU GEBED VERHOOR OP DIE DAG VAN NOOD, MAG HY JOU TE HULP KOM UIT SION.”

Kommentaar