Die evangelie volgens Levitikus

Skriflesing: Levitikus 26

As jy nou jou sommetjies gaan maak tussen Eksodus en Numeri sal jy sien dat daar 6 weke verloop van Israel se samekoms by Sinai waar hulle die wet ontvang, totdat hulle vertrek. Maar in Levitikus is dit irrelevant. Die boek stel nie belang in kronologie nie. Daar is nie werklik ’n tydsverloop of ’n verhaal wat jy kan volg van voor tot agter nie. Dit is asof die boek in ’n vakuum is, sou jy kon sê. En miskien is dit daarom dat so min mense ooit die boek lees. En tog sou mens kon argumenteer dat Levitikus sekerlik een van die belangrikste boeke is in die hele Ou Testament, indien nie die hele Bybel nie.

In Genesis het ons gehoor hoe Abraham en sy nageslag in die dood by die Magpela graf deel gekry het aan God se beloftes en sy teenwoordigheid. In Eksodus kan ons amper aan daardie belofte vat so naby is God – Hy verlos hulle met die Paasfees en Hy kom woon ast’ware onder sy volk by hulle aankoms by Sinai. Maar Levitikus is ’n onderbreking in hierdie verhaal van die trek na die beloofde land. Mens lees so lekker aan die Bybel en dan kom jy by Levitikus, dan wil mens sommer vinnig oorslaan Numeri toe omdat Levitikus die verhaalgang so bietjie breek. En die vraag is waarom? Waarom nie net trek tot in die beloofde land nie? Waarom nou eers ses weke by Sinai wag? Waarom Levitikus? Kom ons laat daardie vraag net eers daar.

Dit is belangrik om te sien dat in Levitikus Israel steeds by die berg Sinai rondom die tabernakel is. Geografies is Israel dus presies tussen Egipte en die Beloofde Land Kanaän. En daardeur wil Levitikus by ons inprent is dat geen kultuur, geen etnisiteit en geen grondgebied hierdie volk definieer nie. God se instruksies, Sy wet, Sy Woord oor hoe om te lewe is haar kultuur en etnisiteit en grondgebied. Levitikus maak dit duidelik dat God se Woord, sy instruksie is die volk se verlede, hede en toekoms. Dit definieer haar wag op die beloofde land.

Levitikus is die klimaks van Israel se reis, uit die tuin van Eden, uit Ur, uit Egipte, na Sinai. As jy nou ’n fliek sou maak van die eerste vyf boeke van die Bybel (Pentateug) is hierdie die absolute hoogtepunt. Julle hoor, dit is nie ’n boek wat ons moet oorslaan nie, dit is die hoogtepunt van die wet. As ons die berg begin klim het by Genesis, verder op deur Eksodus, dan het ons nou die kruin van die berg bereik in Levitikus van waar ons kan sien. Dit is die reis van Adam en Eva se verbanning uit God se teenwoordigheid, na Israel se lewe in God se teenwoordigheid. Israel sou mens kon sê is weer in Levitikus terug in die tuin van Eden waaruit God hulle verban het. Maar daar is een groot probleem met dit alles natuurlik. Adam en Eva kon in God se teenwoordigheid leef want hulle was sonder sonde voor hul verbanning. Israel is nou weer terug in Eden, maar hulle is steeds sondig. En nou begin julle miskien verstaan waarom die boek Levitikus daar is. Sondige mense kan nie in God se teenwoordigheid leef nie. Hulle mag nie. Levitikus onderrig Israel oor hoe sondige mense saam ’n heilige God moet leef.

Miskien is dit ’n goeie herinnering aan ons dat dit nie iets ligtelik is om in God se teenwoordigheid te leef nie. Selfs die engele sê Jesaja, bedek hulle weens God se heiligheid. Wanneer ons op ’n Sondag soos vanoggend na die kerk toe kom om God te kom ontmoet deur Sy Woord en Gees dan vra dit ook van ons voorbereiding en erns. Daar is baie plek vir vreugde in ons aanbidding van God, maar laat ons pasop om nie van ons ontmoeting met God iets ligtelik te maak nie. Die basiese elemente van ons aanbidding – die doop en nagmaal – praat immers van dood, van begrafnis, van bloed, van gebreek. Dit is nou nie juis ligtelike temas nie. Ons aanbidding moet deurdrenk wees in die kennis van ons eie ellende en die lof aan God vir Sy lyding aan die kruis. Gereformeerde kerke soos ons sin het nog deur al die eeue seker gemaak dat die wet gelees word op ’n Sondag, om ons te herinner dat die dood die straf vir ons sonde is. En eers na die doodsvonnis opgelê was, dan volg die woorde van genade, die evangelie en die belydenis van geloof. Levitikus herinner ons ook nog vandag dus dat ons nie kan wegvlug van die realiteite van ons lewens nie, ons moet dit elke dag en veral Sondae in die gesig staar.

Ja, Levitikus staan in die teken van die ou verbond, daar is nie meer ’n tabernakel nie, maar Christus tabernakel vandag nog by ons deur Sy Woord en Gees en Hy onderrig ons ook oor hoe om te lewe in Sy teenwoordigheid. Christus is dieselfde God van die Ou Testament wat weens die betaling wat Hy vir ons sondes gemaak het, by ons op ’n ander manier tabernakel. Ja en hierdie Drie-enige God vra nie meer vir ons alles wat Hy vir Israel in Levitikus gevra het vir lewe in sy teenwoordigheid nie, maar as jy dink dat Hy van jou minder vra as wat Hy van Israel gevra het maak jy ’n ernstige fout.

Die Ou verbond / testament en die nuwe verbond / testament verskil nie in wese nie. God se genade deursuur albei. Dit verskil slegs in die bediening. Die beloftes van die evangelie geld dus nie net vir die gelowiges onder die Nuwe Testament nie maar ook vir die onder die Ou Testament. God se genade was deur die tabernakel en tempeldiens bedien in die Ou Verbond, maar nou in die Nuwe verbond deur Sy Woord en Gees. Wat ek eintlik maar net wil sê is dat jy nie moet dink dat die wet van God verval het nie nou dat ons in die nuwe verbond lewe nie. Ja, die seremonies van die wet soos die offers is vervul in Christus, maar die morele eis bly.

Terug by Levitikus verhaal self. Waarom nie net na die Beloofde land trek nie het ek gevra? Waarom hierdie uitkamp en 27 hoofstukke met die een instruksie na die ander? Sien Israel het uit Egipte getrek en is op pad na die Beloofde Land en Levitikus is iets soos ‘time out” wat die Amerikaners in hulle sport het. Daarom het die boek nie juis ’n kronologie nie. Daar is nie ’n verhaal nie. Ons trek uit Egipte uit op pad na Kanaän, maar kom ons stop net eers sê Levitikus. En hoekom? Want dit is ’n tyd waarin God sy volk voorberei om die land in te gaan en daar in die land Sy bevele te beliggaam en te leef. Sonder Levitikus het Israel se lewe voor God geen kans op oorlewing nie. Sonder Levitikus is Israel ’n rigtinglose volk wie nie weet wie hulle is nie. Levitikus vorm Israel se identiteit: sy word afgesonder om onder al die nasies as God se heilige volk te leef. Waar Eksodus Israel deur die verbond verbind aan God, vorm Levitikus Israel om God se eie volk te wees.

Sonder Levitikus sou Israel maar net nog ’n ou nasietjie onder vele ander in Kanaän wees. Maar nou beliggaam sy God se instruksies. Nou is sy heilig en afgesonder vir God. Levitikus leer nie net vir Israel geduld op pad na die beloofde land nie, maar maak hulle oë oop vir die waarde van hierdie belofte. Miskien moet dit ons ook as kerk herinner dat ons baie relevant en volstoom op pad na ons doele en planne en visies en missies kan wees, maar as ons planne nie gevorm word deur God se bevele nie is dit nutteloos.

Die land self mag nie vir Israel gevorm het nie, nee die Here vorm haar deur Sy instruksies. In ons moderne wêreld dink ek word ons en ons kinders baie meer gevorm deur wat ons op televisie sien as deur die Here se bevele. Ek dink een van die groot redes hoekom mense rondslaap en dagga rook en watookal, is bloot omdat Hollywood ons geleer het dis is ok. As kerk moet ons onsself afvra of Christus wat deur Sy Woord en Gees (sy bevele) onder ons tabernakel, werklik ons lewe vorm en beliggaam? Is die Woord van God werklik nog vir jou ’n lamp vir jou voet en ’n lig vir jou pad, of doen jy ook maar net als wat jy op die televisie sien?

Wat is die doel van jou lewe, wat maak jy hier, wat jaag jy na wil ek in ’n breër sin vra? Want die doel wat God voor Israel gestel het is om in sy insettinge te wandel en sy gebooie te onderhou (Lev. 26:3). Dit was die bron van haar hele bestaan. Dit was haar identiteit. Ek dink dit raak al moeiliker vir mense wat nie Christene is om vandag na die kerk te kyk en na haar lidmate en te sê: ek kan sien hierdie mense se lewens word gevorm deur God se Woord.  Hulle is anders. Hulle is nie maar net soos die res van ons nie. En laat ons onthou dat as Israel sou leef uit God se bevele, dan sê die Here (lees Lev. 26:12). Maar as Israel vyandig teenoor die Here raak, sal Hy self vyandig teenoor Israel raak (Lev. 26:21, 23, 28) en sal die volk gevangenis raak in die lande van hul vyande.

Levitikus keer dus dat die land self Israel se identiteit vorm, want dit is nie die doel van haar reis met God nie. God se teenwoordigheid is van belang, nie die land self nie. Soos ons die Ou Testament verder lees sal ons hoor dat Israel dit op die harde manier sou leer en God hulle in ballingskap laat wegvoer het deur hulle vyande. Daar in die vreemde sou God deur sy profeet Esegiël weer die volk leer dat Hy nie die land nodig het om by hulle teenwoordig te wees nie. Baie jare later sou Jesus self die volk leer dat God nie meer ’n tempel nodig het om by sy kerk teenwoordig te wees nie. Die liggaam van Christus, deur die krag van die Heilige Gees, sou God se wil, sy bevele, beliggaam.

Levitikus herinner vandag nog die kerk dat hy gewillig moet wees om aan God meer gehoorsaam te wees as aan mense. ’n Kerk wat vergeet dat ons sondige mense is wat in ’n heilige God se teenwoordigheid is, speel met die evangelie. Hy laat mense onder die indruk dat alles maar reg is met hulle, selfs al sien hy dat dit nie so is nie, en is daarin nie alleen ontsettend ongenadig en liefdeloos teenoor die mensdom nie, maar ook meer bevrees vir hulle, as vir God, wat tog duidelik in sy Woord sê dat Hy die kwade haat en dat dit ontvlug moet word.

Die mens – ook die ongehoorsame kerklidmaat is altyd daarop uit om die Woord van God tot swye te probeer bring, soos die Sanhedrin dit met Petrus en Johannes wou doen: maar die Kerk mag hom nie deur sulke mense die mond laat stop nie, maar moet óók, net soos die apostels, aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense (Hand. 4: 19-20). Die kerk moet die gemeenskap wees waar Christus se bevele beliggaam word. Daarom moet die Kerk weier om te doop as dit nodig is, weier om te trou waar dit nodig is, weier om tot die openbare belydenis toe te laat, waar dit nodig is, en voortdurend die gemeente op te roep tot daadwerklike gehoorsaamheid aan God.

En as die gehoorsaamheid by ’n lidmaat dan volhardend geweier word, dan volg die afsnyding van die Kerk, omdat die Kerk wél bestaan uit sondaars, maar dan ten minste sondaars wat in diepe berou oor hul swakheid na Christus vlug. En as die Kerk dit alles doen, is hy nie liefdeloos nie, maar betoon hy dieselfde liefde wat Christus aan mense betoon het, toe Hy met alle erns mense van Hom laat weggaan het wat, hoewel in baie opsigte ernstig en goed, in die enigste noodsaaklike kort-gekom het: die ware vlug tot Hom met hul hele hart.

Het jy ook al jou sonde gevat en na Christus gevlug?

Amen

Kommentaar