‘n Boodskap van hoop

Rut 3&4

Na hongersnood, dood en armoede kon Rut en Naomi nie verstaan hoekom God so beskik het oor hul lewe nie; te midde van al ons omstandighede kan ons ook nie vêrder as ons probleme kyk nie Vanoggend hoor ons egter watter uitwerking hoop het in die lewe van Rut en Naomi. Vanoggend wil die Here jou weer herinner om nie moedeloos te word nie, maar om te bly hoop op God wat alle dinge in sy hande hou.

Dit is ’n boodskap wat ons vandag in ons omstandighede baie nodig het. In tye soos dié waarin ons tans lewe, is ’n mens geneig om teen al die negatiewe dinge vas te kyk en dan net die slegste van die toekoms te verwag.

Dit is ook inderdaad ’n uiters moeilike tyd waarin ons lewe. Ons word elke dag deur die media ingelig oor al die stryd, oorlog en ellendes, dood en vernietiging wat in die wêreld aan die gang is. Ons ervaar daagliks aan die lyf dinge in ons eie land wat dit uiters moeilik maak om positiewe verwagtinge vir die toekoms te bly koester.

Daarmee saam is daar nog die droogte en talle dinge wat in elkeen van ons eie persoonlike lewe skeefloop. Dit is dikwels asof elke moment van blydskap in ons lewe bedreig word deur talle irritasies en teleurstellings wat daarop bereken is om ons lewensvreugde te vernietig en ons moedeloos te maak.

Maar God roep ons vanoggend weer om te bly hoop. Ja, dit kan volledig onrealisties klink. Jy kan miskien dink – ja ds, my probleme is te groot vir hoop. Maar sien die hoop waartoe die Here jou oproep, het niks te make met die optimisme wat gebou is op allerlei indikasies dat dinge in die wêreld of in ons land besig is om ten goede te verander nie.

Die Bybelse hoop is die verwagting van die dinge wat ons nog nie sien nie (Hebreërs 11). Dit is die geloof dat God nie beheer oor die wêreld verloor het nie, maar dat Hy in die gang van die geskiedenis met alles wat daarin gebeur, besig is om sy koninkryk te laat kom. In reën en droogte. En dit het nie net betekenis vir die ewigheid nie, maar ook vir jou aardse bestaan waarin jy telkens mag beleef dat God selfs uit die kwade, selfs uit die droogte, die goeie laat gebore word.

Dit hoor ons baie duidelik in die boek Rut. Net drie punte oor hierdie hoop vanoggend. Eerstens hoor ons dat hoop tot ’n plan lei (1-5). Tweedens dat hoop tot aksie lei (6-9) en laastens dat die hoop nie beskaam nie (10-18).

  1. Hoop lei tot ’n plan (1-5)

Die Naomi waarvan ons lees tot net voor die einde van hoofstuk 2 het nie juis hoop gehad nie. Sy het bely dat die Here bitter teenoor haar was en daarom is sy bitter – noem my Mara sê sy, want sy het haar man, kinders, plaas – ja alles verloor. Ja, sy verstaan dam iets van die voorsienigheid van die Here, dat dit Hy is wat beskik. Maar let op watter effek bitterheid in haar lewe gehad het: solank sy bitter was, het sy geen plan vir die toekoms gehad nie, sy was so bitter sy kon nie eers onthou dat daar nog ’n verlosser was wat met Rut kon trou nie. Sien mense wat soos slagoffers voel maak nie planne vir die toekoms nie.

Maar toe kry sy hoop – sy hoor van ’n (ver)losser en sê  waarlik die Here het sy guns aan lewende en dooie nie onttrek nie. En wat is die effek van daardie hoop: sy beplan vir die toekoms, al haar energie word gefokus daarop om vir Rut ’n losser te kry. Is dit nie ook waar in ons eie lewe en die lewe van die kerk nie? Hoop bring ’n mens in beweging. Sonder hoop is daar nie ’n toekoms nie.

Naomi het nou hoop gehad en sy ontwikkel toe ’n vreemde strategie om vir Rut ’n man te kry. Sy sê vir Rut om haarself mooi te maak en dan na Boas toe te gaan en wanneer sy sien dat hy gaan slaap moet sy by sy voete te gaan lê. Letterlik staan hier dat Rut haarself gewas en gesalf het, dit klink amper seremonieel, asof sy haarself voorberei het vir ’n groot taak, bv. ’n koning word gesalf as teken van die taak van sy koningskap wat hy opneem. Rut moes seker by haarself gedink het: en waartoe dink jy gaan dit lei? En Naomi sê net: hy sal vir jou sê wat om te doen.

Dit klink amper na ’n heel moderne strategie om ’n man te verlei: maak jou mooi en gaan kruip by sy voete in. Ons weet Naomi wil hê dat Boas met Rut moet trou, maar waarom gaan praat hulle nie net met Boas en sê vir hom hy is die losser nie? Waarom so ’n gewaagde plan uitdink? Die skrywer sê nie vir ons dadelik hoekom nie, vir eers word daar afwagting geskep.

  1. Hoop lei tot aksie (6-9)

Rut gaan toe af na die dorsvloer en doen soos haar skoonmoeder haar beveel het, sy wag totdat hy gaan slaap het en gaan lê toe by sy voete en hy skrik wakker en vra: wie is jy? Sy antwoord: (lees vers 9). Sy maak dit baie duidelik hoekom sy daar is, in moderne taal kan ons sê dat Rut vir Boas sê: jy is die losser, ek wil hê jy moet met my trou. Dit is nie elke dag wat ’n vrou ’n man vra om te trou nie, maar hier het ons dit, in die Bybel: die eerste vrou wat ’n man gevra het om te trou.

In die woorde van vers 9 kan ons aflei waarom Rut en Naomi hierdie gewaagde strategie volg. Sy het onder die Here se vleuels geskuil en nou vra sy vir Boas om onder sy vleuels te skuil. Die woord wat hier met vleuels vertaal word, is ook dieselfde woord vir jas of kledingstuk. Boas het bely dat Rut onder die Here se vleuels, sy kleding, sy beskerming kom skuil het. Rut gaan nou na die dorsvloer en klim onder Boas se kledingstuk, onder sy vleuels in en vra deur middel van die gebaar vir hom: Boas, sal jy my onder jou vleuels neem, onder jou beskerming – jou wens vir my was tog dat die Here onder wie se vleuels ek geskuil het my sal vergelde en beloon en hier is jou kans om daardie belofte te volbring – jy is die losser, sal jy God se vleuels vir my wees, sal jy God se beskerming op jou neem?

  1. Die hoop beskaam nie (10-18)

Daar lê die tweetjies nou alleen op die dorsvloer, dit is middernag, onder die maanlig en sterre, Rut het onder Boas se jas ingekruip, Boas was boonop nog vrolik – hy het soos tipiese gebruik by die oes en die groot oesfees Pinkster ’n glasie wyn geniet saam met sy aandete – dit lyk of al die bestanddele vir ’n romantiese aand hier teenwoordig is. Boas seën en prys haar ook dan nog: (lees vers 10-11).

Maar dan lees ons Boas se woorde in vers 12… Rut hou van Boas, Boas hou van Rut, dit is middernag, hulle is alleen by die dorsvloer onder die maan en die sterre toegevou in sy jas, hy is vrolik, en dan sê hy: wag, daar is ’n nader losser – ter wille van geregtigheid raak hy haar nie aan nie, ter wille van gehoorsaamheid aan die Woord van die Here, wat bepaal het dat die naaste familielid van haar man moet optree as losser. En dit in die tyd van die rigters, toe elkeen gedoen het wat reg was in sy eie oë, maar Boas doen nie wat reg is in sy eie oë nie, hy vervul nie al die sondige begeertes van sy hart nie, dit is belangriker vir hom om gehoorsaam te wees aan die Woord van die Here.

Boas het nou na die stadspoort gegaan om die huwelik wettig te voltrek. Tot ons teleurstelling lees ons dat die nader familie lid instem om Naomi se stuk grond te koop en as verlosser op te tree. Daar val die hele romantiese verhaal plat. Rut moet met ’n ander man trou, een wat die reg en verantwoordelikheid het om Naomi en Rut te los.

En net soos ons dink hierdie verhaal is nou verby, lees ons vers 5 en 6 (lees): Die gelukkige einde waarna ons almal verlang het breek nou uiteindelik aan: Rut en Boas kan trou, die kontrak is geteken, of soos dit in daardie dae gewerk het, die man het sy skoen uitgetrek en aan Boas gegee om so te sê dat hy all reg om op daardie land te gaan loop, opgee. En die Here het die huwelik geseën en vir Rut wat voorheen vir meer as 10 jaar getroud was vir die eerste keer ’n kind, ’n seun gegee. Mens sou dink die verhaal kan maar nou hier eindig, die gelukkige einde het mos nou aangebreek.

Maar dan maak die outeur vir ons as’t ware die boek oop, dit waarna Hy ons wou lei al vanaf die eerste vers: Wat God vir Rut en Naomi beplan het, was nie iets wat hulle kon verstaan of begryp nie – maar ons kan vanoggend terugkyk en die Here dank dat Hy dit so beskik het. ’n Seun word gebore en hulle noem hom Obed, wat beteken “dienskneg”. Maar daar is hoop veel groter as ’n blote babetjie en ’n gelukkige ouma: ons lees dit vanaf vers 18 (lees 18-22). Die verhaal wys vorentoe na Dawid, Dawid wys vorentoe na Jesus en Jesus wys vorentoe na ons opstanding saam Hom: waar  God al die trane van ons oë sal afvee, en daar sal geen dood meer wees nie;  ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. Rut en Naomi was nou gelukkig en vol vreugde, hulle het dit nie geweet nie, maar ons kan dit vanoggend hoor: die beste kom nog: daar is iets belangrike as ’n bruilof en kindjie – die koms van ons uiteindelike verlosser, die Here Jesus. Hy is ons hoop. Hy is God met ons. Hy woon in ons deur Sy Gees.

Sien te midde van droogte, dood en armoede, is God in die gang van die geskiedenis met al hierdie dinge wat gebeur, besig is om sy koninkryk te laat kom. Dit gee aan ’n mens die krag om moedig en dapper voort te lewe, ondanks alles wat skeefloop. Dit gee die taaiheid om onder teenslae uit te hou in dié vertroue dat God nog daar is en dat Hy magtig is om ook die duisternis van hierdie nag in die lig van ’n nuwe dag te verander.

Maar wat meer is: Christus bewaar ons van die versoeking om tou op te gooi en in gelatenheid die wêreld en die toekoms oor te gee aan die magte van vernietiging en geweld. Hy roep ons daartoe op om op grond van die beloftes van die toekoms wat Hy self tot beskikking stel, te hoop. Om die verwagting te hê van die dinge wat ons nog nie sien nie. Om geloof te hê dat God nie beheer oor die wêreld verloor het nie, maar dat Hy in die gang van die geskiedenis met alles wat daarin gebeur, besig is om sy koninkryk te laat kom. Dat sonder die wil van jou Hemelse Vader geen haar van jou kop kan val nie.

Amen

Kommentaar