‘n Boodskap van verootmoediging – 22 September 2019

2 Samuel 9

Die karakter van ’n president is baie belangrik. Rondom verkiesingtyd sal dit een van die dinge wees waaroor politici mekaar takel. Dit is belangrik dat ’n president iemand van statuur, van inbors sal wees.

Dit is een van die dinge wat baie duidelik uitkom in hierdie hoofstuk: die karakter van Dawid. En anders as ons presidente vandag wat verkiesde verteenwoordigers van mense is, is Dawid die koning. Die koning is nie maar net die toonbeeld van menslike aspirasies nie, die koning verteenwoordig nie die mense nie, maar vir God. God verkies konings, hulle word nie deur mense verkies nie. Wat ons in hierdie hoofstuk sien in Dawid se karakter, wys ons dus na ’n dieper realiteit in die karakter van God. Wat ons hier sien is ’n genadige en barmhartige koning.

Hier is drie basiese rolspelers in hoofstuk 9. Eerstens is daar Dawid. Nou as jy dam oor so halwe Bybelkennis beskik sal jy weet dat Dawid die koning van Israel is. Hy het die huis van Saul oorwin. Hy het die koninkryk verenig. Hy is nou op die toppunt van sy mag. Hy is die grootste figuur in Israel sedert Moses kan mens amper sê.

Nou dit is belangrik om in hierdie hoofstuk te onthou dat Dawid ’n goeie vriend van Jonatan was. Jonatan was natuurlik die seun van Saul. Jonatan gaan so vêr om Dawid te ondersteun teenoor sy vader. En wanneer Jonatan sterf by daardie laaste geveg by Gilboa waarvan ons verlede week gehoor het, dan is Dawid se rouklaag besonders, (lees 2 Sam. 1:26).

Die tweede rolspeler is Siba. Van hom weet ons nie te veel nie. Hy was ’n dienaar in Saul se huis. Hy is ’n baie neutrale figuur op die punt. Later in die verhaal trek hy ’n ander baadjie aan maar ons sal nie vanoggend daarop uitbrei nie.

Die derde rolspeler is natuurlik Mefiboset. Die seun van Jonatan. Van hom lees ons natuurlik reeds vroeër in 2 Samuel 4:4 (lees). Nou vandag as mens val en jou been breek sal ’n Chirurg jou weer kan regskroef, maar nie in daardie dae nie. Maar kreupel of nie, Mefiboset het ’n aanspraak op die kroon.

Nou ons weet nie presies wanneer hierdie verhaal afspeel nie, maar dit is duidelik dat Dawid reeds oor baie mag en sekuriteit beskik. En eendag, ons word nie gesê hoekom nie, dink hy in sy gedagtes aan die huis van Saul. En veral aan sy vriend Jonatan. En hy dink by homself: is daar nie nog iemand uit hulle nageslag wat leef sodat ek guns aan hom kan bewys? Nou die woord guns is hier ’n baie ligtelike vertaling, dit gaan nie bloot oor ’n gunsie nie. Dieselfde woord word elders vertaal met troue liefde. Dit is die verlange van sy hart. Dit is baie dieper.

Nou ons weet nie hoekom Dawid nou skielik hieraan dink nie, maar dit is wel wat hy belowe het aan Jonatan. Ons lees in 1 Samuel 24 dat nadat Dawid vir Saul te kenne gegee het dat hy die geleentheid gehad het om hom dood te maak maar dit nie gedoen het nie, Saul dan vir Dawid vra: (lees 22-23a). Daar is ook ’n tweede belofte, een wat Dawid aan Jonatan maak in 1 Samuel 20:14 (lees). Nou Dawid se motivering vir hierdie daad is sekerlik om hierdie beloftes te vervul, maar ons lees ook in vers 3 (lees 3a). As koning verstaan hy dat sy handelinge ook ’n baie dieper betekenis het, hy is die verteenwoordiger van God wat God se liefde aan ander moet wys. Soos die president van Suid-Afrika veronderstel is om die mense te verteenwoordig en nie die ANC nie, so moet die koning God verteenwoordig want God het hom verkies.

Let ook op dat Dawid se liefde uit homself vloei hier, dit is nie reaktief nie. Ons raak lief vir ander omdat daar intrinsiek iets moois is wat ons na hulle toe aantrek en die liefde in ons as’t ware uitlok. Maar dit is nie die geval met Dawid nie. Hy ken nie iemand uit die huis van Saul meer nie. Hy weet nie eers of daar iemand leef nie. En sou daar iemand geleef het, sou dit sekerlik sy vyand gewees het. Nee, sy liefde vloei uit homself. Want dit reflekteer die liefde van God. Die koning se liefde werk soos God se liefde: dit vloei uit. Dit kyk nie rond of daar iewers mooi en oulike mense is om voor lief te wees nie. In die woorde van Martin Luther: “die liefde van God vind nie, maar skep dit wat lieflik daarvoor is.” Hier sien ons dit by Dawid. Hy ontmoet nie een of ander wonderlike mens uit die huis van Saul en besluit dan om hom ’n guns te bewys nie. Nee. Hy bewys liefde aan sy vyand.

Dit is die basiese narratief van die evangelie, van die doop wat ons vanoggend gaan sien. God het sy mense lief nie omdat hulle so oulik is nie, maar omdat Hy getrou is aan Sy beloftes. God gaan Sy verbond vanoggend beseël aan Elani, nie omdat Hy uitgevind het sy is mooi en oulik nie, maar omdat Hy liefde skep, omdat dit uit Hom uitvloei. Sy liefde maak sy volk wie hulle is. Verlede week het ons afgesluit met Romeine 5:8 (lees). God se liefde is nie reaktief nie. Dit vloei voort uit Homself uit. Sien God se liefde vind nie, maar skep. Ons word gedoop, nie omdat daar intrinsiek iets in ons is wat ons waardig maak om gedoop te word nie, maar omdat God ons sonder verdienste lief het.

Dit is wat Dawid hier doen. Hy bewys barmhartigheid aan die huis van Saul. Saul is sy aartsvyand. Enige koning sou enige van Saul se nageslag summier laat doodmaak het. Hulle voortbestaan hou ’n groot gevaar in. Maar nee, Dawid sê (lees vers 1). Dawid se liefde wys ons natuurlik vorentoe na die liefde van God in die Here Jesus Christus. Dawid is die gesalfde. En wat is die Grieks vir gesalfde: Christus. Die Koning van die konings. Die Een wat Sy vyande lief het en hulle met Homself versoen.

Wat ’n wonder dat as ons voor God kom – as Hy ons naderroep soos Dawid vir Mefiboset laat naderroep het, soos Hy vir Elani vanoggend naderroep het – wat ’n wonder dat ons nie voor ’n God te staan kom wat soos ons is nie. Hy is die God wat liefde bewys aan Sy vyande. Wat liefde skep, nie vind nie. Wat niks goeds in ons sien nie, maar tog ons lief het.

Ons kan verder die nederigheid van Mefiboset opmerk. Mefiboset ken sy plek (lees vers 6a). Ons kan onsself maar net die vrees indink toe Mefiboset die boodskap gehoor het: Dawid soek jou. Mefiboset weet wie hy is, daar is ’n teiken op sy rug. As hy by Dawid aankom val hy op sy gesig neer en buig neer. Hy sien homself lees ons in vers 8 as ’n dooie hond.

Daar is niks meer onaangenaam as ’n Christen wat dink sy geloof maak hom beter as ander mense nie. Wat dink hulle geloof gee hulle die vrypas om neerhalend teenoor ander te wees nie. Wat dink hy kan met sy verdienste, sy keuses, sy besluite, sy geloof, sy heilige lewenswandel, sy vroomheid – voor die doopvont kom staan nie. Dit is tog nie die kenmerk van ’n Christen nie. ’n Christen val voor God op sy aangesig soos Mefiboset, hy staan nie trots voor die koning nie. Hy kom nie met sy waardigheid en verdienste nie. ’n Christen se hele lewe – om weer Luther aan te haal – is ’n terugkruip tot in die doopvont. Die gevaar is natuurlik altyd dat wanneer jy kom staan by die doopvont dat jy dit sal doen op grond van jou eie geloof en waardigheid en dit sien as jou toewyding aan God – omdat jy ook nou goed genoeg is. Dan kan jy nie anders as om neer te sien op ander wat nie ook so ‘groot’ Christen is soos jy nie. Maar nee, ’n Christen moet daagliks terugkruip tot in die doopvont. Ons moet onsself herinner dat ons op grond van Christus se verdienste verlos word, nie ons eie nie. Dat God Homself aan ons toegewy het, toe ons nog Sy vyande was. Ook vanoggend het die doop baie min te doen met ouers wat hulle kind toewy aan God of so iets. Nee, dit is God wat Homself aan ons toewy. God wat belowe. God wat vergewe. God wat reinig. God wat laat sterf en opstaan. Dit het alles met God te doen, met wat Hy doen dit.

Die toepassing hierop vanoggend vir elkeen van ons is ook baie duidelik. Ons moet weet wat ons status voor God is. Om vraag en antwoord 81 van die Heidelbergse Kategismus weer op te roep wat ons ’n paar weke gelede met die Nagmaal gehoor het: Wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom? Antwoord: Hulle wat vanweë hulle sondes ‘n afkeer van hulleself het, maar tog vertrou dat dit hulle om Christus wil vergewe is en dat die swakhede wat nog oor is, met sy lyding en sterwe bedek is; en die wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter. Maar die huigelaars en die wat hulle nie van harte tot God bekeer nie, eet en drink ‘n veroordeling oor hulleself.

Ons is lief om in die NG Kerk en ander Gereformeerde Kerke die wet as deel van die liturgie van die erediens te hê. Want ons moet herinner word elke Sondag hoe vêr ons te kort skiet. Dat ons in onsself sondaars is. Dat ons wel God se oordeel verdien. Dat ons vyande van God is. Dat daar ’n teiken op ons rug is. ’n Doodsvonnis oor ons uitgespreek is. Dat ons nie op grond van enige iets moois binne onsself voor God kan verskyn nie.

Ons het dan gewoonlik na die wet ’n oomblik van verootmoediging. Die woord ootmoed beteken onderworpenheid, nederigheid. Ons reserveer die woord byna uitsluitend vir ons verhouding tot God. Daarom het dit vir die meeste van ons die betekenis van selfvernedering voor God, die neerbuiging voor Sy aangesig in die erkenning van ons afhanklikheid van Hom, maar veral ook van ons skuld voor Hom.

Dit is eintlik iets wat die individuele ons daagliks behoort te doen. Ons hele lewe behoort nie anders as in diepe ootmoed voor God geleef te word nie. Ons hele lewe moet ’n terugkruip tot in die doopvont wees. Calvyn het die verloëning van onsself voor God en die medemense die kern van die hele Christelike lewe genoem. Daarin lê die ootmoed vanself opgesluit. ‘n Gelowige mens is eintlik per definisie ‘n ootmoedige mens, anders verstaan hy sy geloof verkeerd.

Maar ons hoor ook na die wet, genadeverkondiging. Die genade van Dawid aan Mefiboset is verstommend. Maar dit is ’n druppel in die oseaan van God se oneindige barmhartigheid aan ons. Hy wat ons in Christus met Homself versoen het terwyl ons nog vyande van Hom was.

Miskien moet ek en jy vanoggend baie stil in ’n gees van verootmoediging na die doopvont kyk, na die water wat oor Elani se kop gaan en hierdie woorde ons hart laat ingaan.

 

Kommentaar