05 Mei 2019

KENNISGEWINGS

08 Mei             Verkiesing

13-17 Mei       NG Wes-Kaapland Sinode sitting

30 Mei             Hemelvaart erediens 18:30

2-6 Junie         Pinkster byeenkomste om 18:30

09 Junie           Pinkstersondag met Nagmaal

14 Junie           Skole sluit

08-20 Mei       Ds. Nel sal in die tyd weg wees met verlof/sinode

 

Dit is tydens die kwartaal wat die diakens die jaarlikse kollekte kom doen, indien niemand by jou aankom nie kontak gerus die kerkkantoor van waar dit gereël sal word.

 

VOORBIDDING EN VERJAARSDAE

 

Ons dink in ons gebede aan almal wat siek is, in hospitale of tuis aansterk ná operasies of behandeling, ons bid ook vir ons gemeenskap en land: Algemene verkiesing (08 Mei); planttyd, vloed slagoffers, Ds. Roy en Chrissie Thorne met hul uitruik na Mosambiek in Junie.

 

Verjaarsdae:

8 Mei               Karin Theron

9 Mei               Ian Truter

10 Mei             Anelda Engelbrecht

 

GEMEENTEBEDIENING

 

Kategese: Net na die kindermoment.

Biduur: Geen biduur die week

WhatsApp: Om deel van die gemeente se WhatsApp groep te wees of iets daarop te plaas kontak asseblief die kerkkantoor (sien onder)

Teebeurte: Almal wat bereid is om tee te maak en te bedien na die diens kan asb. vir Karin Theron kontak (082 578 2294). Vele hande maak ligte werk.

Uitreik: Ds. Roy Thorne en gesin gaan in Junie vanjaar die sendelinge in Noord Mosambiek besoek en bedien. Ondersteun hulle gerus deur voorbidding. Bydraes vir die uitreik kan direk in die gemeente se bankrekening betaal word met verwysing: uitreik.

 

BARMHARTIGHEID

 

Sopkombuis: Weeklikse sopkombuis vir jong kinders in gemeenskap. Skenkings is altyd welkom, kontak vir Hester Truter in die verband (082 436 8987)

Kosbank: Kospakkies vir behoeftiges in ons gemeenskap. Kontak vir Andrea Truter vir enige navrae (082 328 1089) hieroor.

Klerebank: Ons benodig klere, skoene en komberse om onder behoeftiges te versprei. Kontak vir Bregda Mostert (083 597 0091)

Dagsorg & SmartStart: Ons vroeë kinderontwikkeling projek. Kontak vir Karisa Nel vir navrae (076 522 7767)

ACVV: Die senior burger koringklub fokus op senior burgers in ons gemeenskap. Kontak asb. vir Lize Steyn (082 263 9434 ).

Nal’ibali: Ons leesprojek by die plaaslike laerskool. Kontak vir Lize-Maré le Roux kontak (061 109 9336) vir navrae.

 

Teks: Johannes 19:17-37; Dordtse leerreëls ¾: Genade wat volbring is

Vir wie het die Here Jesus gesterf aan die kruis? Vir almal? Vir sommige? En indien wel vir almal, hoekom is almal dan nie gered nie? Hoekom sit ons kerke dan nie vol van die mense vir wie Christus Sy bloed gestort het nie? Was Christus se sterwe oneffektief? Of was dit nie genoegsaam om versoening te bring vir sonde nie? Kort daar nog ’n ekstra betaling, dalk iets van die mens se kant af?

Dit is die vrae waarby ek vanoggend wil stilstaan soos ons die derde en vierde hoofstuk van die Dordtse leerreëls oordink wat handel oor die wyse waarop verlossing plaasvind. Ons het verlede week gehoor dat God se genade nie meer beperk is tot ’n sekere volk nie, maar dat God vir Hom ’n gemeente vergader uit elke stam en taal en volk en nasie. Vanoggend hoor ons egter dat God se genade wel op ’n ander manier beperk is, nie tot volk en taal en nasie nie, maar wel tot Sy uitverkorenes.  Dit beteken om die vrae wat ek nou net gestel het sommer dadelik te antwoord, dat Jesus nie vir almal gesterf het nie, maar net vir sekeres. Dat as Christus vir almal gesterf het, sal almal verlos wees. Dat Christus se sterwe daarom werklik effektief en voldoende was as betaling vir sonde en dat niks van die mens se kant dus nodig is om die rekening te vereffen nie.

Nou dit klink na iets wat ons op die Rapport se voorblad kan sit: “Ds. sê Jesus het nie vir almal gesterf nie.”  Ek kan met sekerheid sê dat hierdie leer meeste mense sal skok, ook baie van julle hier vanoggend. En tog moet mens dadelik daarby sê dat dit vreemd is omdat die kerk dit al vir eeue bely en dat dit tog baie duidelik in die Skrif geleer word.

Maar ek wil ook dadelik byvoeg dat versoening op sigself nie ’n beperkte saak is nie. Dit is die Amerikaners wat die term beperkte versoening, “limited atonement” gemunt het, maar dit is nie die taal van die Skrif nie. Tog is beperkte versoening die beste term wat ons het om die saak mee te beskryf, maar dit staan nie teenoor alles wat ons in die Skrif hoor nie. Die Skrif beklemtoon immers dat Christus se versoening genoegsaam vir die hele wêreld is en dat Christus sy lewe vir baie gegee het. Daarom moet die evangelie aan alle mense verkondig word met die eis tot bekering en geloof, nie net aan sommige nie, maar almal. Dit is God se wil vir die hele wêreld dat almal moet bekeer. Ons moet daarom bid vir die verlossing van mense. Ons mag nie liefdeloos na die verlore wêreld kyk nie, vir die ander wat nog nie geroep is nie bely die leerreëls, moet ons tot God bid wat die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan. Ons mag ons volstrek nie teenoor hulle in trotsheid verhef asof ons onsself in so ‘n bevoorregte posisie geplaas het nie.

Beperkte versoening wil dus nie afbreek doen aan die evangelie en ons verantwoordelikheid om dit te bedien nie. Dit wil slegs sê dat die bediening van die evangelie nie alle mense baat nie omdat dit slegs effektief is in die geval van die uitverkorenes – dat net sekere dele van die grond waarin die saad van die Woord val vrugbaar gemaak is deur Christus se sterwe. Die rede waarom die ander grond onvrugbaar is, is nie God se skuld nie, maar geheel en al die mens sin. Dit het ons al baie duidelik gehoor in die afgelope paar maande.

God besluit uit sy eie vrye welbehae om sekere dele van die grond vrugbaar te maak. Ons weet egter nie watter dele van die grond God bemes het nie, ons weet nie vir wie Christus nie gesterf het nie, ons weet nie vir wie die bediening van die evangelie nie effektief sal wees. Daarom gaan ons uit en saai die Woord aan almal soos ons verlede week gehoor het. Ja, party van die saad val langs die pad, ander tussen die klippe, ander in die dorings, maar daar is ook grond wat vrugbaar gemaak is deur Christus se sterwe en daardie saad wat daar val dra vrugte.

Die stelling mag as ’n skok kom, Jesus het nie vir almal gesterf nie, versoening is beperk. Maar gemeente, dit is gelukkig nie moeilik om aan te toon dat dit is hoe die Bybel oor die verlossing praat nie en dit is werklik gevaarlik vir jou eie geloof as jy dit nie glo nie, want, soos ek nou sal verduidelik is die alternatief dat jy jou eie verlosser is. Die Dortse Leerreëls getuig dat God nie net geloofsmoontlikheid gee nie, nee Hy beweeg die mens kragdadiglik deur die Gees om so die wil tot geloof en ook geloof self in hom te werk. Hy beweeg en versterk die wil sodat dit, soos ‘n goeie boom, vrugte van goeie werke kan dra. Anders gestel: toe die Here Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy jou wat die grond is waarop die geloofsaad val, werklik vrugbaar gemaak. Hy hou nie net die moontlikheid van bemesting voor nie, Hy doen dit, volledig en klaar eens en vir altyd, onherroepbaar aan die kruis. Die gevolg is dat almal in wie se harte God op hierdie wonderlike wyse werk, sekerlik, onfeilbaar en kragdadig weergebore word en daadwerklik glo.

Miskien is jy nog nie oortuig nie, maar oorweeg die alternatief, die populêre siening van die Remonstrante: dit behels dat Jesus Sy bloed gestort het in die hoop dat iemand in Hom sou glo en so versoen word met God. Jesus het dan aan die kruis gaan sterf, sonder om enige idee te hê vir wie Hy sterf. Hy het die versoening verwerf, sonder om te weet of dit regtig effektief sou wees. Dit kon dus wees dat niemand ooit Sy sterwe sou aanvaar nie. Jesus wil jou dus red, maar jy moet Hom eers in jou hart invra of so iets. Net die een helfte hang van God af, Christus red jou so 50%, die ander helfte moet jy bybring.

Gemeente dit klink dalk baie mooi en baie onskuldig en dit is baie populêr vandag as ek dit mag bysê, maar hierdie leerstelling is baie gevaarlik vir jou eie geloof. Jou geloof staan op dryfsand as jy die helfte van jou verlossing moet bydrae. Hiermee word die dwaalleer van Arminius en Pelagius voor hom uit die hel-uit teruggeroep. Dit beteken niks anders nie as dat al die krag van die genade van God in ons bekering weggeneem en die werking van die almagtige God aan die wil van die mens onderwerp word. God sit en wag dan vir die mens om Hom te kies. Dit is egter in stryd met wat die apostels leer: Ons glo na die werking van die krag van sy sterkte (Ef 1:19), en: dat God alle welgevalle aan wat goed is, en alle werk van die geloof in ons met krag volkome maak (2 Tess 1:11), en: sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien (2 Pet 1:3).

Dit bring ook nog ’n dwaling na vore, een wat nogal besig is om baie populêr te raak deesdae: die van universalisme. Want as jy leer dat Jesus vir almal gesterf het, dan beteken dit dat almal gered is. Want die Skrif getuig dat toe Jesus gesterf het, het Hy gesê “dit is volbring.” Toe die Here Jesus Sy bloed gestort het en God se wraak op Hom geneem het, het Hy werklik vir ons sondes betaal. Dit was nie voorlopig nie, dit was nie met voorwaardes nie, dit was volledig, volbring. Jesus kan tog nie ’n betaling maak vir almal se sondes en dan straf God nog steeds mense wat nie glo nie. Want dan ontvang God mos nou twee betalings. Dit is ’n baie mooi en vroom gedagte dat Jesus vir almal gesterf het, maar dit maak God tot die werker van onreg.

Die Skrif getuig egter dat Christus sy gemeente wat Hy voor die grondlegging van die wêreld verkies het, werklik met God versoen. Hy self gee deur Sy Gees diegene effektief en onweerstaanbaar daaraan deel wat deur die Vader na hom getrek word (Joh. 6:44). So is die geloof dan ‘n gawe van God, nie omdat dit deur God aan die vrye wil van die mens aangebied word nie, maar omdat dit aan die mens geskenk word. So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartigheid is (Rom 9:16), net so ook: Wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? (1 Kor 4:7), en: Dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae (Fil 2:13).

Maar wat dan van die mens se verantwoordelikheid? Dit was ook al in vorige preke gesê, God se genade gaan nie buite die mens se verantwoordelikheid om nie. Die leerreëls bely dat hierdie Goddelike genade van die wedergeboorte nie in die mense werk asof hulle stokke en blokke is nie; ons is nie robots nie, ook vernietig dit nie die wil en sy eienskappe nie, en dwing dit nie met geweld teen sy sin nie. Eerder beweeg en oorreed God ons en maak ons so vry om werklik hom te kies. Daarvoor is nodig die genademiddels van die Woord, sakramente en tug, waardeur die uitverkorenes tot ware gemeenskap met God gelei word. Versoening is dus God se werk alleen, maar dit maak nie die mens passief en willoos nie. Jy word deur Jesus se sterwe bevry om die heil deur die geloof te ontvang en daaruit te lewe. Wat God doen en wat die mens doen staan nie teenoor mekaar nie (Fil. 2:12-13).

So is dit ook in boerdery. As grond nie bemes word nie kan jy maar saai en saai en saai maar dit sal geen blywende oes lewer nie. Ja, die oes sal dalk opkom, maar dan net so vinnig weer sterwe. Die bemesting maak dit moontlik vir die grond om die saad te ontvang. So maak Christus se sterwe dit vir die mens moontlik om in God te glo. Sonder die bemesting van sy sterwe is dit onmoontlik. Maar maak die feit dat die grond bemes is nou die grond geheel en al passief? Het die mens dan nou geen verantwoordelikheid nie? Natuurlik het die mens. Die grond kan nie nou nadat die bemes is maar net daar lê nie, daar moet gesaai word op daardie grond, die onkruid moet gedurig uitgetrek word, dit moet genoeg water en sonlig kry. Julle plant nou juis en weet hierdie dinge. As jy jou lande voorberei het stop die taak mos nie daar nie. Die oes gaan nie vanself kom nie. Daar moet geplant word, gespuit word, daar moet reën val. Beperkte versoening maak nie die mens passief nie, dit verkondig net baie duidelik die boodskap dat agter die groei van die saad, lê God se bemesting van die grond. So eenvoudig soos dit. Agter jou keuse vir God lê God se keuse vir jou. Dit skakel nie jou keuse uit nie, maar plaas dit net in perspektief.

Mag dit jou troos wees vanoggend. As jy werklik in God glo dan is dit omdat Christus vir jou gesterf het. En jy hoef nie te twyfel of jou rekening betaal is nie, dit is volledig vereffen aan die kruis. God doen nie halwe werk nie. Hy neem die oorsaak van die verwydering tussen ons en Hom weg. En Hy vervul ons lewe met die vrede wat die vrug van die versoening is.

Aan dié God alleen kom toe, vanweë die middele sowel as vanweë die verlossende vrug en krag daarvan, alle heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Kommentaar