14 Julie 2019: Die evangelie volgens Genesis

  • Skriflesing: Genesis 11:27 -12:9; 23

In die boek Genesis is Abraham ’n sentrale figuur. Maar sy invloed stop ook nie daar nie. Nee, die grootste drie godsdienste in die wêreld, Christene, Jode en Moslems, beskou almal Abraham as die vader van hulle geloof. Sy naam beteken immers, vader van menigte. Nie net kan jy nie die evangelie begryp sonder om die verhaal van Abraham te verstaan nie, maar jy kan ook nie die wêreld waarin ons vandag leef, die kulture, die godsdienste verstaan sonder om iets van Abraham se verhaal te verstaan nie.

Nou Abraham was maar ’n mens soos enige ander mens van sy dag. Wat het sy lewe so merkwaardig gemaak dat sy invloed nog vandag gevoel kan word? Dit was die roeping van God. En die evangelie wat ek vanoggend uit Genesis met julle wil deel het ook die boodskap: dit is die roeping van God wat ’n mens se lewe spesiaal maak. Ons teks sê drie dinge oor die roeping van God: 1. Die krag daarvan. 2. Die natuur daarvan. 3. Hoe ons dit kan ontvang.

  1. Die krag daarvan

Hoekom het ons vanoggend begin by die geslagsregister aan die einde van hoofstuk 11? Want dit getuig van iets ongeloofliks. Dit getuig daarvan dat alle menslike geskiedenis by ’n doodloopstraat gekom het. Vir die wat nou lanklaas Genesis gelees het, die eerste 11 hoofstukke is die verhaal van die verval van die mens. Die mens wat meer korrup, meer boos, meer gewelddadig, meer gebroke word. Dit begin waar God die mensdom uit Sy teenwoordigheid verban as gevolg van hulle onvermoë om volgens sy bevele te leef; so het dood in die wêreld gekom. Alhoewel fisiese dood tydelik opgeskort was vir Adam en Eva, voorsien die verbanning uit God se teenwoordigheid uit ’n voorsmakie van hierdie dood: lewe onder die vloek. Omdat die dood die wêreld inkom sterf al Adam se afstammelinge. Die feit dat die dood in die wêreld kom is ’n baie belangrike punt waartoe ek heel aan die einde weer sal terugkom, so hou dit net ingedagte.

Nietemin, in hoofstuk 11 se einde begin ons lees van een ligstraaltjie van hoop – dit is een familiestamboom. In die midde van al die verval was daar een familie, die familie van Set. Set hoor ons in Genesis 4 het die naam van die Here aangeroep. In sy familie alleen was die kennis van die ware God bewaar. Maar vers 27 (lees 11:27) bring ons aan die einde van hierdie lyn. Die naam Tera beteken maan. Ur van die Chaldeërs was die middelpunt van maan aanbidding. Ons lees dit ook in Josua 24:2 (lees). Dink daaraan: die laaste familie wat God geken het, die laaste familie wie weet wie die wêreld geskep het en wat enigiets van God af geweet het, aanbid nou die afgode, die maan. Die laaste geestelike kers het nou gesterf. Dit is nie net geestelik die laaste hoop wat uitsterf nie, maar ook fisies. Want Sara is kinderloos. Daar gaan nooit weer iemand wees wie God aanbid nie. Daar is geen hoop. Geen toekoms. Dit is verby.

En dan. En daar is hoop. Hoe? En die Here het aan Abraham gesê. God se Woord bring weer hoop. Ons bely immers van God die Heilige Gees dat Hy Heer is en lewend maak. Neem ’n oomblik vanoggend en vra jouself af of jy dit glo. Sou iets vir die Here te wonderbaar wees? Die verhaal van Abraham, ook die Christelike belydenis sê: Die Here kan lewe gee. Maar in die alledaagse praktyk van die lewe, as ons te make kry met die doodsheid in ons eie lewe, dan huiwer ons, dan deins ons terug om hierdie antwoord te gee. Dan antwoord ons onseker, aarselend, vol twyfel en vrees. Nog voor die eerste koringkorrel Mei in die grond in is en daar word gevra of daar vanjaar ’n oes gaan wees, of hier weer lewe sal kom uit die droë grond. Dan sê ons, nee, moet my liewer nie vra nie. Maar Sondag bely ons: Ek glo in die Heilige Gees, wat Heer is en lewend maak. Ons glo dikwels meer in die afgode van die dood, in hulle mag, hulle vermoë, hulle finaliteit, hulle oorheersing, as in die Gees van die Here wat lewend maak.

Ons is bevoorreg dat Pinkster hier altyd min of meer saamval met die eerste reëns. Kletterend op die dak van die kerk. Gerusstellend. Sag, onophoudelik op die dorstige aarde van die Swartland. Reën wat weer, altyd weer, seisoen na seisoen, lewe bring vir die koringkorrels in die grond, vir dier, vir mens. Ons is bevoorreg, want Pinkster gaan oor die Gees wat lewend maak.

As jou lewe vasgevang is in doodsheid, soos die doodloopstraat van die mensdom in Genesis 11, dan het God se Woord – waarvan die Heilige Gees die outeur is – die krag om jou te roep tot lewe. Om weer lig in die donkerte te bring. Wil jy nie tog vanoggend met al die doodloopstrate wat voor jou lê, oor ’n oes waaroor jy onseker is, wil jy nie sê: “Ek glo in die Heilige Gees, wat Heer is en lewend maak.”

  1. Die natuur daarvan

Wat is die inhoud van hierdie roeping? Ons lees dit in vers 1-3.

Dit is interessant dat Tera met sy hele familie Kanaän toe trek en dan in Haran stop (vers 31) en dan lees ons hierdie opdrag aan Abraham in hoofstuk 12 (lees vers 1). Die ander wou net kyk, maar Abraham het in die kruiwa geklim.

Nou die Here gee ook nie vir Abraham koördinate na sy eindbestemming nie, Hy sê: gaan na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ’n nasie maak. En Ek sal jou seën. Sien Abraham klim in, maar Hy bestuur nie. God sê aan Abraham: “trek uit.” En Abraham vra: “Waarheen?” En die Here antwoord: Ek sal jou later wys. Gaan net. En later sê God: Ek sal jou ’n seun gee. En dan vra Abraham, maar hoe? En God sê: Ek sal jou later wys. Vertrou net. En laastens sê God dat Abraham die berg op moet gaan en sy seun moet doodmaak. En Abraham vra: hoekom? En God sê: ek sal jou later wys. Klim net.

Dit is die Christelike geloof gemeente. Dit vra van jou om in die kruiwa te klim, wetende God sal jou veilig aan die oorkant bring. God is in beheer van hierdie roeping. Christene sê graag: As dit die Here se wil is. Deo Volente. Maar praat is goedkoop. Dit word gou blote gewoonte, blote sê. Maar ons moet nie net so praat nie. Ons moet so dink. So glo. So leef. In afhanklikheid en in ootmoed. Bereid dat ons planne deurkruis word.

Dit is ’n fatale misverstand om te dink dat die Christelike geloof bestaan uit die aanvaarding van ’n aantal beginsels of selfs ’n stel waarhede. Baie dink die Christelike geloof is ’n saak en die Christelike kerk is ’n party waartoe ’n mens behoort, omdat hy min of meer ’n bepaalde program van beginsels onderskryf of ’n bepaalde kulturele of politieke waarde daaraan heg dat die organisasie wat jy kerk noem, moet voortbestaan en die rol moet speel wat jy aan hom toedig.
Maar dit is ’n totale misverstand.

Die Christelike geloof is van voor tot agter net één ding: totale vertroue op Jesus Christus en die gehoorsame navolging van sy Woord. “Gaan jy uit.” Dit is God se opdrag aan Abraham. Nie volg ’n paar beginsels nie. Dit gaan in die Christelike geloof om ’n Persoon. Dit gaan om ’n persoonlike verhouding tot Hom. Dit gaan om onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan Hom. Die kerk – die kinders van Abraham –  is die gemeenskap van mense wat net eenvoudig dit doen. Dat daar uit hierdie verhouding tot Christus beginsels voortvloei, dat die betekenis. van die verhouding onder woorde gebring kan word in leerstellige formulerings, dit is waar. Maar daardie beginsels en leerstellings beteken niks as God jou nie persoonlik geroep het nie.

Let maar op die wyse waarop God vir Abraham roep. Dit het gegaan om ’n persoonlike roeping waarin hy gevra is om letterlik alles te verlaat en Hom te volg. Gaan jy uit. Uit jou land, uit jou familie, uit jou vader se huis. Die binding aan Hom het alle ander bindinge gerelativeer: vader en moeder, broers en susters, vrou en kinders – wie hulle bó die Here liefhet, is Hom nie werd nie. Aardse besittings moet agtergelaat word. Die geld in die bank, die oes op die land, moet nie tussen die geroepene en God staan nie. Die Here het vir Abraham net mooi alles gevra – omdat Hy duisend maal meer kan gee.

En God vra vandag ook nog letterlik alles van ons. Ons mag nie die Christelike geloof verburgerlik tot ’n soort godsdiens waaraan geen uitdaging en geen kruisiging van die self meer verbonde is nie. Ons mag nie van die kerk ’n organisasie maak wat wel die Naam van Jesus dra, maar waarvan baie lede soms nie eens meer weet wat die werklike roeping van die organisasie is nie.
Die omstandighede tussen Abraham se tyd en vandag het in baie opsigte verander. Maar wat nie verander het nie, is dat God nog steeds alles van ons vra. Die natuur van hierdie roeping is radikaal.

  1. Hoe ons die roeping kan ontvang

Juis omdat die evangelie oor ’n roeping in die lewe gaan, het dit implikasies vir ons sterwe. Want ’n mens moet ook eers oor die dood dink voor ons kan lewe. Eers as ons ons verganklikheid ernstig neem, leer ons om te sien wat saak maak. Ek het genoem netnou dat dood in die wêreld ingekom het in die eerste 11 hoofstukke van Genesis en dat die mensdom ’n doodloopstraat bereik het totdat God Abraham tot lewe roep. Totdat die Gees lewend gemaak het. Nou aan die einde van Genesis het die dood steeds mag, want Abraham se nageslag kan nie die gevolge van Adam se ongehoorsaamheid ontvlug nie. Ook Abraham sterf. Nietemin, soos Genesis afsluit sterf Jakob en Josef nie soos hulle wat geen hoop het nie, want hulle het ’n plek om te rus. Jakob se seuns begrawe hom in die graf wat Abraham gekoop het van Efron, die spelonk by Magpela. Ook wanneer Josef in Egipte sterf word hy gebalsem, om te wag op God se tyd wanneer sy gebeente vervoer sou word terug na die land wat God aan Abraham, Isak en Jakob beloof het.

Alhoewel die dood steeds ’n universele bedreiging inhou aan die einde van Genesis word dit ingehok deur God se belofte van seën aan Abraham. En alhoewel hulle nog in Egipte is, is die Beloofde Land al ’n nader realiteit. Magpela is die eerste vrugte van hulle besit van die land. Dit is ’n klein deeltjie van die belofte, maar hulle ontvang dit slegs in die dood. Dit is die “catch” sou jy kon sê hier in Genesis. Jy kan ’n stukkie van die beloofde land kry as jy sterf. Die eerste vrugte van die beloftes van die roeping word verkry deur die dood.

Deur sy sterwe ondergaan Abraham, die straf wat al Adam se afstammelinge ondergaan, maar sy graf staan in die land van die belofte. Die ingehokte dood en die beloofde land wat Genesis kenmerk kom weer te voorskyn met die koms en bediening van Jesus wat openbaar dat ’n spesifieke berg of stad nie meer belangrik is vir aanbidding nie, maar dat Christus in die midde is van hulle wie in Hom glo en Hom in Gees en waarheid aanbid.

Die wat sterf in Christus wag nes Abraham by Magpela op die tyd van sy koms – hulle besit nog nie self die land nie, maar net die belofte. Ons ontvang hierdie roeping deur aan Christus vas te hou. Deur saam met Hom te sterf. Deur na Sy kruis te kyk. Ook elkeen van ons sal eendag sterf en begrawe word, maar nou is dit nie meer die plek, Magpela wat saak maak nie. Deur Christus se koms kan jy begrawe word in ’n graf wat in vertroue gehou word, nie deur Abraham se 400 sikkels silwer nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, wat die eersteling is van die wat ontslaap het.

Gemeente as jy nie net wil weet van die krag en die natuur van hierdie roeping nie, maar werklik dit wil ontvang, werklik wil deel in die belofte dan is daar maar hierdie een pad – nie die graf van Magpela nie, maar die sterwe saam met Christus. As jy God wil sien moet jy by die kruis gaan kyk. As jy iets van God wil leer moet jy dit by die kruis gaan leer. As jy God wil ken moet jy by die kruis gaan soek. As jy God se hartklop wil hoor moet jy by die kruis gaan luister. As jy God se wese wil ontdek moet jy daar gaan delf. God roep ons op die weg van die kruis. Daarmee gaan die Gees en die kerk die geskiedenis in, tot vandag toe nog.

Amen

Kommentaar