Die opgestane Koning (1): Johannes 20:1-18

Om te memoriseer: Romeine 8:11

“11Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.”

Die Woord: Johannes 20:1-9

1Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. 2Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.” 3Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan.4Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. 5Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. 6Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê,7ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. 8Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo.9Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.

Oordenking:

In ons gejaag is dit maklik om vlugtig die Woord deur te lees eerder as om dit in te neem. Maar tog glo ons hierdie is die geïnspireerde Woord van God. Neem ‘n oomblik om stil te staan, dank God vir die Skrif en vra Hom om met jou deur hulle te praat vandag.

Die opstanding van Christus as ’n historiese feit is die lakmoestoets wat die waarheid en relevansie van die Christelike geloof beoordeel. Om die woorde van die Apostel Paulus te parafraseer: As Christus nie opgewek is nie is julle geloof belaglik (1 Korintiërs 15:14).

Dit is geen verassing dan dat die dissipels se eerste ontmoeting met die leë graf gepaard gaan met ’n klomp verskillende reaksies. Maria Magdalena wat eerste daar was, was verleë. Sy sien die steen wat weggerol is en is oortuig daarvan dat iemand Jesus se liggaam gesteel het. Daar is geen aanduiding in die narratief dat sy enigsins gedink het Jesus leef nie.

Johannes het die teenoorgestelde reaksie. Hy glo alhoewel hy nog nie verstaan nie.

Petrus is iewers in die middel. Hy weet nie wat om hiervan te maak nie. Hy gaan huis toe onseker wat dit alles beteken.

Hierdie is werklike reaksies op ’n skynbare onwerklike gebeurtenis. Mense wat wreed gemartel en vermoor word staan nie drie dae later gesond uit die dood op nie. As dit waar is, as Jesus werklik opgestaan het, dan is hierdie die sentrale gebeurtenis van menslike geskiedenis. As dit waar is, is Jesus Here.

“20God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring. 21Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.” (Hebreërs 13:20-21)

Nadenke vir die week:

Wanneer ons na die opstanding kyk vind ons vryheid om ander te dien. Deur Christus se voorbeeld is ons vry om ander te dien in die mees radikale, liefdevolste manier waarop hy ons gedien het. Mag jy ook deur Christus se opstanding aangespoor word om ander te dien.

Gebed:

Vir jou hart: Dank God dat Jesus opgestaan het! Bid dat Sy liefde jou sal dring.

Vir jou kerk: Dank God dat ons Jesus se opstanding in gemeenskap kan vier. Dat ons die voorreg het om saam met ander gelowiges Sy dood te verkondig totdat hy weer terugkeer.

Vir ons gemeenskap: Bid dat die opstanding van Jesus gelowiges sal aanspoor om nie net geestelike ’n verskil te maak nie, maar ook materieel.

Kommentaar