Die opgestane Koning (3): Johannes 20:1-18

Om te memoriseer: Romeine 8:11

“11Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.”

Die Woord: Johannes 20:9-10

11Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. 12Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. 13Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.” 14Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. 15Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?” Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.” 16Jesus het vir haar gesê: “Maria!” Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.

Oordenking:

In ons gejaag is dit maklik om vlugtig die Woord deur te lees eerder as om dit in te neem. Maar tog glo ons hierdie is die geïnspireerde Woord van God. Neem ‘n oomblik om stil te staan, dank God vir die Skrif en vra Hom om met jou deur hulle te praat vandag.

Alhoewel Petrus en Johannes huis toe gegaan het, het Maria bly huil daar by die leë graf. Die enigste persoon wat haar werklik geken en liefgehad het, was weg. Haar droefheid was so groot dat sy nie eens agtergekom het dat sy met engele praat nie. “Mevrou”, het hulle gevra, “waarom huil jy?” Miskien het hulle baie gewoon voorgekom. Maar sy het ook reguit na Jesus gekyk en sy het Hom nie herken nie. Nie eens die klank van sy stem kon haar uit haar trane bring nie. “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?” het Hy gevra. Eers toe Hy haar op die naam genoem het, “Maria”, het sy hom herken.

Tuiniers of begrafnisondernemers het haar miskien in die verlede koud en strak aangespreek as “mevrou: of eintlik net “vrou” – dit was kultureel tipies. Maar hierdie “tuinier” steek die kultuurgrense oor en dring deur tot haar hart. Sy het Hom geken.

Daar kan eintlik niks troostend wees oor ’n God wat koud en onpersoonlik is nie. Hoe uniek is die Christelike God nie, Hy roep kinders op hulle name!

Nadenke vir die week:

Wanneer ons na die opstanding kyk vind ons vryheid om ander te dien. Deur Christus se voorbeeld is ons vry om ander te dien in die mees radikale, liefdevolste manier waarop hy ons gedien het. Mag jy ook deur Christus se opstanding aangespoor word om ander te dien.

Gebed:

Vir jou hart: Vra vir God dat Hy sy liefde ook in jou hart sal bevestig.

Vir jou kerk: Bid dat ons as kerk alle mense sal respekteer omdat hulle in God se beeld geskep is.

Vir ons gemeenskap: Bid dat soos Maria getroos was deur Jesus, hulle wat treur ook vir Jesus sal vind.

 

Kommentaar