Die opgestane Koning (4): Johannes 20:1-18

Om te memoriseer: Romeine 8:11

“11Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.”

Die Woord: Johannes 20:17

17Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’ ”

Oordenking:

In ons gejaag is dit maklik om vlugtig die Woord deur te lees eerder as om dit in te neem. Maar tog glo ons hierdie is die geïnspireerde Woord van God. Neem ‘n oomblik om stil te staan, dank God vir die Skrif en vra Hom om met jou deur hulle te praat vandag.

Wanneer die opgestane Here verskyn aan Maria Magdalena, dan moedig Hy haar aan om te doen wat haar hart nie wil doen nie – om hom te laat gaan. Het sy Hom nie nou net terug ontvang nie? Het haar verskriklike hartseer nie nou net tot bedaring gekom nie? Jesus sê vir haar: “Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.” Watter troos is daar in dit?

Ons lees in die evangelie se vertelling van die kruisiging dat die Vader Jesus verlaat het aan die kruis, dat Jesus uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Die feit dat Jesus opgestaan het en nou terugkeer na die Vader beteken dat die verlatenheid ook nou ten volle herstel word en die liefde wat daar tussen die Vader en die Seun is nou ook beskikbaar word vir God se kinders.

Die Jesus wat Maria benodig het, was aan die opvaar na sy hemelse troon om dit te volbring. Hy het sy Heilige Gees aan sy dissipels belowe om by hulle te wees. Deur Jesus in die vlees te laat gaan ontvang Maria Jesus se ewige teenwoordigheid by haar deur Sy Gees.

Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My lief het” (Johannes 17:22-23).

 

Nadenke vir die week:

Wanneer ons na die opstanding kyk vind ons vryheid om ander te dien. Deur Christus se voorbeeld is ons vry om ander te dien in die mees radikale, liefdevolste manier waarop hy ons gedien het. Mag jy ook deur Christus se opstanding aangespoor word om ander te dien.

Gebed:

Vir jou hart: Vra vir God om jou bewus te maak van die teenwoordigheid van Sy Gees by jou.

Vir jou kerk: Bid dat die eenheid wat die Gees skep, sigbaar sal wees in gelowiges se verhoudings met mekaar.

Vir ons gemeenskap: Bid dat Christene in ons stad ook van die eenheid sal getuig, dat daar nie vyandskap sal wees tussen verskillende kerke nie, maar liefde.

 

Kommentaar