Erediens 22 Maart 2020

  • Verwelkoming
  • Afkondigings

Laai gerus die “Kerkmusiek” app af op jou foon om die teks en begeleiding van al die liedere te gebruik.

  • Voorbidding

Siekies tuis / hospitaal: Christo Engelbrecht, Lize Steyn, Koenie van Niekerk

Verjaarsdae: 22 Maart – Lize Engelbrecht; 27 Maart – Corlia Rust

  • Toetrede lied: Psalm 130: 1-3 (Lina Spies, tweede melodie)
  • Votum (openingsgebed)

Rondom Jerusalem is berge; so is die Here rondom sy volk van nou af tot in alle ewigheid.

  • Seëngroet

“aan die wat geroep, in God die Vader geheilig en vir Jesus Christus bewaar is: Mag barmhartigheid en vrede en liefde vir julle vermenigvuldig word!”

  • Loflied: Lied 281: 1-3
  • Wet: Matteus 10:29-30

“Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel.”

  • Verootmoediging: Lied 292: 1-2
  • Geloofsbelydenis: Heidelbergse Kategismus Sondag 10

Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou? Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms ‘n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e)

  • Lied: 509: 1, 2, 4
  • Gebed
  • Skriflesing:1 Samuel 4:1-11; Psalm 39

1 Samuel 4:1-11: 1EN die woord van Samuel het tot die hele Israel gekom. En Israel het uitgetrek vir die geveg, die Filistyne tegemoet, en hulle het laer opgeslaan by Ebenhaéser; maar die Filistyne het laer opgeslaan by Afek. 2Toe die Filistyne hulle opstel om Israel te ontmoet, en die geveg ontwikkel, is Israel voor die Filistyne verslaan; en hulle het op die vegterrein in die veld omtrent vierduisend man doodgeslaan. 3Terwyl die manskappe die laer inkom, sê die oudstes van Israel: Waarom het die Here ons vandag voor die Filistyne verslaan? Laat ons die verbondsark van die Here uit Silo na ons toe bring, dat dit onder ons inkom en ons verlos uit die hand van ons vyande. 4Daarop het die manskappe na Silo gestuur, en hulle het die verbondsark van die Here van die leërskare wat op die gérubs troon, daarvandaan gaan haal; en die twee seuns van Eli, Hofni en Pínehas, was daar by die verbondsark van God. 5En net toe die verbondsark van die Here in die laer inkom, hef die hele Israel ‘n groot krygsgeskreeu aan, sodat die aarde gedreun het. 6En die Filistyne het die geluid van die gejuig gehoor en gesê: Watter geluid van ‘n groot krygsgeskreeu is dit in die laer van die Hebreërs? Toe verneem hulle dat die ark van die Here in die laer gekom het. 7En die Filistyne het bang geword, want hulle het gesê: God het in die laer gekom! En hulle het gesê: Wee ons, want so iets het gister en eergister nie gebeur nie. 8Wee ons! Wie sal ons red uit die hand van hierdie geweldige gode? Dit is dieselfde gode wat die Egiptenaars met allerhande plae getref het in die woestyn. 9 Wees dapper en gedra julle soos manne, Filistyne, dat julle nie miskien die Hebreërs dien soos hulle julle gedien het nie; gedra julle dan soos manne, en veg. 10Toe het die Filistyne geveg, en Israel is verslaan, sodat hulle gevlug het, elkeen na sy tente toe. En die slagting was baie groot: van Israel het daar dertigduisend voetgangers geval. 11Die ark van God is ook geneem, en die twee seuns van Eli, Hofni en Pínehas, het gesterwe.

Psalm 39: 1VIR die musiekleier; vir Jedútun. ‘n Psalm van Dawid. 2Ek het gesê: Ek wil my weë bewaar, sodat ek nie sondig met my tong nie; ek wil my mond in toom hou solank as die goddelose nog voor my is. 3Ek was stom in stilte, ek het geswyg, ver van die goeie af; maar my smart is aangewakker. 4 My hart het warm geword in my binneste; ‘n vuur het ontvlam by my gesug; ek het gespreek met my tong: 5 Here, maak my einde aan my bekend en wat die maat van my dae is; laat my weet hoe verganklik ek is. 6Kyk, U het my dae ‘n paar handbreedtes gemaak, en my leeftyd is soos niks voor U nie; ja, as pure nietigheid staan elke mens daar! Sela. 7Waarlik, die mens wandel as skadubeeld rond; ja, hulle woel verniet; hulle stapel op en weet nie wie dit sal insamel nie. 8En nou, wat verwag ek, o Here? My hoop is op U. 9Red my van al my oortredinge; maak my nie ‘n smaad van die dwaas nie. 10Ek is stom, ek sal my mond nie oopmaak nie; want Ú het dit gedoen. 11 Neem u plaag van my weg; ek vergaan vanweë die bestryding van u hand. 12Tugtig U die mens met strawwe oor die ongeregtigheid, dan laat U sy skoonheid vergaan soos deur ‘n mot; ja, elke mens is ‘n asemtog! Sela. 13Hoor, Here, my gebed, en luister na my hulpgeroep; swyg nie by my trane nie; want ek is ‘n vreemdeling by U, ‘n bywoner soos al my vaders. 14 Wend u oog van my af, dat ek vrolik kan word voordat ek heengaan en daar nie meer is nie.

  • Oordenking

Gemeente een van die treffende kenmerke van ons tyd is die geweldige hoë vlakke van angs en bekommernis by mense. Iets wat eintlik baie vreemd is omdat ons werklik in ’n baie meer veilige en ontwikkelde tyd leef as in die grootste deel van die menslike geskiedenis. Ons het meer geld, tegnologie en toegang tot beter gesondheidsdienste ens. En tog leef ons in ’n era van ongekende angs. En miskien is dit omdat ons vir die antwoorde in al die verkeerde plekke soek. Die boek Samuel help ons vanoggend om na die regte plek te kyk vir ons sekuriteit.

Ons het by die biduur die afgelope twee weke uit Psalm 38 en 39 toevallig dit ook oordink. Dit is interessant dat siekte in ons moderne wêreld nie meer iets is waardeur ons kan leer nie, maar bloot iets om te oorkom. Dit was die perspektief uit die Psalms. Daar is niks waarvoor ons so bang is as vir pyn nie. Alles wat in ons is, skreeu daarteen. Ons hele geskape bestaan roep na heelheid, vreugde, vervulling en versadiging. Siekte is die afbreek van al hierdie dinge, en vir ons natuurlike besef sinloos. As ons dit kon regkry, sou ons van alle siekte en pyn wou wegvlug. Ek dink nie daar is een van ons hier vanoggend wat nie bewus is van die situasie in ons land en wêreld rondom die Corona virus nie. Die wêreld het skielik tot stilstand geruk. Skole, universiteite, kerke maak hul deure toe. Sportbyeenkomste is gekanselleer. Vrees stoomroller oor die wêreld. Vreugde kwyn weg.

As Christene moet ons sekerlik hieroor reflekteer vanoggend, oor ons eie verganklikheid en weerbaarheid nadink en onsself heroriënteer tot God. God wil sekerlik vir ons iets hierdeur se. Ons reaksie moet sekerlik soos die van Dawid wees, om te sê: “Here, maak my einde aan my bekend en wat die maat van my dae is; laat my weet hoe verganklik ek is (Ps. 39:5)” Die Corana virus skep daarom vir ons ’n geleentheid van oggend tot selfondersoek.  Want terwyl die lig van voorspoed op ons val, ken ons nie die donker nie. Ons vergeet so gou van die dieptes van eensaamheid. Van gemis, afwesigheid, verlange, heimwee. Van teleurstelling. Van verwerping, seerkry, verontregting, krenking. Van onvervulde verwagtinge, begeertes, ideale, drome. Van bekommernis, oor jouself en jou kinders. Van armoede en werkloosheid. Van uitsigloosheid, wanhoop. Van skuld, selfverwyt, spyt, berou, skande. Van mismoedigheid en depressie. Van siekte. Van dood.

Maar dit is tog ondenkbaar dat jy ’n Christen kan wees maar nie iets verstaan van donker dieptes, van wanhoop, van siekte, pyn en lyding nie. Die Christelike geloof is nie ’n sukses geloof waar alles netmaanskyn en rose is nie. Daarom wil ek die Woord van die Here saam julle oordink vanoggend uit 1 Samuel 4, wat nou eintlik niks met die Corona virus te doen het nie, maar wel vir ons ’n perspektief gee van hoe om te reageer op ’n tragedie en waar om jou vertroue te plaas.

Nou Samuel speel af in ’n tyd waarin alles skynbaar goed gaan, maar soos mens deur die boek lees kom mens agter dit is alles maar net op die oppervlakte goed. Ín ’n dieper sin is Israel moreel bankrot. Dit is wat ons sien in ons teksgedeelte vanoggend. Die deksel van die oppervlakte word ast’ware hier gelig en dit openbaar hoe inhoudelik leeg hulle geloof is. En daarom kan hulle nie reg reageer op hierdie krisis, ramp of tragedie nie. Dit is die breër konteks van die boek.

Die onmiddellike konteks is egter die bedreiging van die Filistyne. Ons lees dat Israel hulle in ’n geveg ontmoet. En met die eerste veldslag is Israel verslaan. Omtrent 4000 Israeliete is dood. Nou laat ons nie vanoggend te vinnig hieroor kyk nie. Een van die goed wat Stalin blykbaar gesê het, is dat 1 dood ’n tragedie is, ’n miljoen is net ’n statistiek. Een sterfte het ’n naam en ’n gesig, 4000 is net ’n getal. Maar onthou elke een van hierdie 4000 wat gesterf het, was iemand se geliefde, iemand se man, iemand se pa, iemand se broer, iemand se seun. Dit is baie maklik om dood net in ’n statistiek te verander. Laat ons net vir ’n oomblik hier stilstaan vanoggend en besef dat hierdie ’n tragedie is wat afspeel hier. Omtrent  10 000 mense het al gesterf weens die Corana virus. Laat ons hiervan nie net statistieke maak nie. Hierdie is mense met families.

Ons teks vertel egter nie net van ’n menslike tragedie nie, maar van ’n godsdienstige tragedie. Dink daaroor, hierdie is God se volk wat in die beloofde land vernietig word deur die aanbidders van afgode. Dit vang duidelik die Israeliete omkant. Hulle is deurmekaar. Hulle verstaan nie hoekom hierdie tragedie afspeel nie.

Wat is Israel se reaksie op hierdie gebeure? Ons lees vers 3: “Terwyl die manskappe die laer inkom, sê die oudstes van Israel: Waarom het die Here ons vandag voor die Filistyne verslaan?” Hulle vra die regte vraag.  Hulle vra nie bloot hoekom daar slegte dinge gebeur met goeie mense of waar die Here daarin is of soortgelyke terapeutiese vrae waaraan ons gewoond is nie. Hulle vra die regte vraag. Wat gaan aan dat dit wat nie moes gebeur het, gebeur het? Die leiers weet dat die Here soewerein is. En interessant genoeg twyfel hulle nie aan die Here se soewereiniteit gedurende hierdie tragedie nie. Ons instink is om dadelik te vra: “is God regtig in beheer?” Dit is nie die reaksie van Israel nie, hoe afvallig hulle ook al in die geloof is nie. In die eerste instansie is hulle reaksie dus korrek. Hulle vra die regte vraag.

Tweedens lyk dit of hulle ook met die regte antwoord vorendag kom: “Laat ons die verbondsark van die Here uit Silo na ons toe bring, dat dit onder ons inkom en ons verlos uit die hand van ons vyande (vers 3b)”. Die verbondsark is die plek waar God sy mense ontmoet. Dit is die simboliese troon van die Here. Dit is waar God teenwoordig is by Sy mense. Ja God is natuurlik alomteenwoordig, maar Hy is veral daar waar by die ark van die verbond. So nie net vra hulle die regte vraag nie, hulle kom so half met die regte antwoord vorendag: ons moet met God ontmoet. Ons benodig die Here teenwoordigheid om hierdie geveg te wen.

Maar dit is waar hulle regte reaksie eindig.  Die vraag oor waarom die Here hulle verslaan het, is heel korrek, maar mens sou dink hulle sou dit opvolg deur die Here te gaan vra hoekom Hy hulle verslaan het. Of ten minste laat ons vir Elia of Samuel gaan vra, die Here praat immers deur hulle. Ons lees wel aan die einde van vers 4 dat Hofni en Pinehas by die verbondsark van die Here was toe hulle dit gaan haal het. Daardie sin moet ons koue rillings gee. Dit is baie slegte nuus. Teen hierdie tyd weet ons dat alhoewel hulle priesters is, hulle korrup en goddeloos is en dat die Here reeds vir Samuel gesê het dat hulle gaan sterf.

Reeds hier word Israel se verkeerde rigting ontbloot. Die ark sou ons kon sê word ’n gelukbringer. Dit is die teenwoordigheid van die ark wat van belang is, nie die God wat in die ark teenwoordig is nie. Met eers lyk dit of die gelukbringer sy werk doen, ons lees vers 5: “En net toe die verbondsark van die Here in die laer inkom, hef die hele Israel ‘n groot krygsgeskreeu aan, sodat die aarde gedreun het.” En die Filistyne word deur hierdie gebeure met vrees gevul: “En die Filistyne het bang geword, want hulle het gesê: God het in die laer gekom!(vers 7)” Dit is interessant dat die Filistyne klaarblyklik ’n beter begrip het van die betekenis van die ark as die Israeliete. Hulle weet dit het iets te doen met die Here se teenwoordigheid. By Israel kry ons geen gevoel van ’n besef van heiligheid hier nie.

Dit moet ons daarom ook nie verbaas dat die Israeliete hierdie geveg verloor nie. En as ons dink die eerste geveg waar 4000 dood is was erg, by die tweede geveg is meer as 7 keer soveel Israeliete verslaan. Dink maar net wat dit aan die volk se moraal moes doen.  Hierdie is nie maar net ’n paar mense wat oorlede is nie, hierdie is ’n ramp. ’n Hele geslag wat uitgewis is.

En asof dit nie erg genoeg is nie lees ons dat die ark van God ook geneem is. Sekerlik die grootste tragedie wat Israel kon tref. Wat ’n ramp. En in die midde hiervan lees ons: “en die twee seuns van Eli, Hofni en Pinehas, het gesterwe (vers 11b)” Ek dink nie dit word sommer net vir ons gesê nie. Dit is ’n herinnering dat selfs in die midde van hierdie verskriklike ramp, is die Here in beheer. Hierdie ramp het nie buite sy beheer plaasgevind nie. Dit is juis die vervulling van die profesie aan Samuel. Te midde van die totale chaos waarin die nasie verval, is God in totale beheer.

Nou hierdie oordeel wat Israel hier beleef was hulle eie toedoen. Dit is egter nie altyd die geval nie, ons kan maar net dink aan Job wat baie lyding deurmaak, alhoewel hy niks verkeerd gedoen het nie. Miskien moet ons dit vanoggend dan ook sê dat as jy die Corana virus kry omdat jy nie na mediese raad wil luister nie, nie jou hande wil was nie, almal groet en soen ens., dan is dit ook jou eie toedoen. Maar selfs al is oordeel en lyding en siekte nie altyd deur ons eie toedoen nie is dit nietemin geleenthede vir selfondersoek. Lyding is nie bloot iets om te oorkom nie. Dit is ’n geleentheid om die regte vrae te vra. Ons kan in ons lyding soms so sonder uitsig wees, so neergeslaan, so seker dat alles sinloos geword het en dat ons te doen het met ’n onoplosbare raaisel. Maar wat duidelik is in Samuel is dat niks buite God se beheer plaasvind nie. Selfs nie die dood van 34000 Israeliete nie. Mag dit ’n bemoediging wees vir jou in ons midde vanoggend wat worstel met angs rondom die virus of oor ander dinge. God is in beheer. Dit is belangrik om te sien dat hierdie chaos in ons samelewing vandag nie buite die soewereiniteit van God plaasvind nie. Die dinge vang nie vir God omkant nie, daarom hoef ons nie paniekerig te wees nie.

En daarom moet ons ook hieruit leer dat ons nie die fout moet maak om in die skepsel eerder as die Skepper te vertrou nie. In ’n sekere sin is die ark van die verbond maar net ’n houtboks. Niks meer nie. Dit lyk mooi ja, maar dis net ’n boks. En wat gebeur hier is dat die Israeliete in die boks begin vertrou. Dit word ’n gelukbringer. Ware godsdiens is nie maar net die uiterlike nie, ware godsdiens is om te vertrou op die God waarna die ark heenwys. Neem ’n oomblik vanoggend en vra jouself of jou geloof die inhoud het, of is dit net ’n leë boks?

Laat ons dan vanoggend soos ons die Woord hoor op die regte manier reageer op die tragedies en rampe rondom ons. En laat ons ons vertroue op God plaas wat soewerein is oor alles. Deur Sy Woord en Gees bied God, Christus vir jou aan vanoggend; neem Hom maar net in die geloof aan en vind vrede onder Sy heerskappy.

“En nou, wat verwag ek, o Here? My hoop is op U (Psalm 39:8).”

  • Gebed
  • Offergawes

Maak gerus ‘’n elektroniese bydrae:

FNB Rek. no. 621 390 582 27

Tak kode: 502655

  • Afkondigings

Weens die regering se verbod om samekomste van meer as 100 mense moes ons die Funduro van die 28ste Maart kanselleer.

  • Slotlied: Lied 190: 1-3
  • Amen

Kommentaar