Dien die gemeenskap (1): Jeremia 29:1-14

Om te memoriseer: Jesaja 60:1

en soek die vrede van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, en bid daarvoor tot die Here; want in die vrede daarvan sal julle vrede hê.

Die Woord: Jeremia 29:1-4

1EN dit is die woorde van die brief wat die profeet Jeremia uit Jerusalem gestuur het na die nog lewende oudstes van die ballinge en na die priesters en die profete en na die hele volk wat Nebukadnésar uit Jerusalem in ballingskap weggevoer het na Babel toe — 2ná die uittog van die koning Jegónja en die gebiedster en die hofdienaars, die vorste van Juda en Jerusalem, en die smede en die slotmakers, uit Jerusalem — 3deur bemiddeling van Eleása, die seun van Safan, en Gemárja, die seun van Hilkía, wat Sedekía, die koning van Juda, na Nebukadnésar, die koning van Babel, na Babel gestuur het, naamlik: 4So sê die Here van die leërskare, die God van Israel, aan al die ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel in ballingskap weggevoer het:

Oordenking:

In ons gejaag is dit maklik om vlugtig die Woord deur te lees eerder as om dit in te neem. Maar tog glo ons hierdie is die geïnspireerde Woord van God. Neem ‘n oomblik om stil te staan, dank God vir die Skrif en vra Hom om met jou deur hulle te praat vandag.

Toe die invallende weermag van Babel die volk van Juda verslaan het, het die oorwinnende koning Nebukadnesar, Juda se beste en slimste weggeneem in ballingskap om hulle vaardighede te gebruik om sy eie stad te verbeter en te verheerlik.

Vir die mense in ballingskap was hierdie ’n tipe dood. “By die riviere van Babel, daar het ons gesit, ook geween as ons aan Sion dink (Psalm 137:1).” Sion (Jerusalem), die hoofstad van Juda, was die heerlike stad van God. Of dit was veronderstel om te wees. Die stad wat bedoel was om ’n seën tot al die volke in die wêreld te wees, was afgebreek deur geweld, onreg en afgodery. Hulle het hul stad oorgegee en dit wou lyk of hulle ook hulle God verloor het. Johannes Calvyn probeer iets van hierdie verlatenheid van die volk weergee:

“And surely no more terrible abyss can be conceived than to feel yourself forsaken and estranged from God; and when you call upon him, not to be heard. It is as if God himself had plotted your ruin.”

Op ’n manier is dit presies wat gebeur het. God het dit laat geskied. Die profete het lank reeds die ballingskap voorspel as straf vir Juda se verwerping van God se wet. Maar die volk se totale uitwissing is nie wat God ingedagte gehad het nie, dit was presies die teenoorgestelde.

“10Want so sê die Here:  As eers sewentig jaar vir Babel verby is, sal Ek op julle ag gee en aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring. 11Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie,  om julle ’n hoopvolle toekoms te gee (Jeremia 29:10-11).”

Ballingskap was nie die einde nie, maar die middel tot die grootste goed. God was besig om die ervaring van ’n tydelike ballingskap te gebruik om sodoende sy volk na Homself te laat terugkeer, na die perfekte stad wat eendag die hele wêreld sou seën. Sion sou die plek wees van die kruis, waar Jesus die uiteindelike ballingskap sou deurgaan, verlate van God die Vader, sodat mense uit alle nasies nooit daardie verskriklike verlatenheid self hoef te ervaar nie. God het nie sy mense verlaat nie. Hy het hulle gedra.

Nadenke vir die week:

Hoe word jy geroep om die gemeenskap te dien en sodoende God te verheerlik? Hoe roep God jou om jou gawes te gebruik? Verbind jouself die week om jou werk te doen nie bloot uit gewoonte nie, maar tot diens van die gemeenskap en tot heerlikheid van God.

Gebed:

Vir jou hart: Oordink wat jy verstaan onder “ballingskap”. Bid dat God jou ’n verlange in jou hart sal gee na ’n tuiskoms – na Sy koms en die nuwe heerlike stad.

Vir jou kerk: Bid dat die kerk sal sien hoe Jesus die uiteindelike ballingskap deurgemaak het sodat ons nie verlate sal wees nie. Bid dat Sy liefde die kerk mag dring.

Vir ons gemeenskap: Bid dat God ook al die mense in ons land wat in ballingskap leef, wat vêr van hulle eie huis en familie hiernatoe kom vir werk, dat hulle geleenthede en sorg hier mag ervaar.

 

Kommentaar