01 September: ‘n Voorbereide maaltyd vir Nagmaal

Rigters 6: 1-24

Ons het nou die punt in ons verhaal bereik waar Israel uiteindelik die Beloofde land bewoon. Maar soos Moses gewaarsku het, het die volk gou aan geheueverlies begin lei. Hulle het baie gou vergeet van die Here wat hulle uit Egipte gelei het. En nou in Rigters sien ons die gevolge van ’n volk wat van die Here af weggedwaal het.

Een van die gevolge lees ons hier vroeg in Rigters 6, die Midianiete verdruk Israel in die land. Hulle vernietiging word beskryf as die van sprinkane wat kom en vernietig. En wat is dit wat hulle vernietig? Die oes. Israel was soos Koringberg ’n landbougemeenskap. As jy vir ’n jaar of twee nie ’n oes maak nie gaan jy honger ly en selfs sterf. En daarom was die strategie van die Midianiete om in die berge weg te kruip en wag tot Israel geoes het en dan sou hulle soos sprinkane kom en die oes wegneem. Ons lees daarom in vers 6: “En Israel het deur die Midianiete baie arm geword.” Dit moes ’n verskriklike tyd vir die Israeliete gewees het.

Maar dan lees ons van lig in die midde van die donker (lees vers 11). God verskyn. Christus verskyn soos in die geval met Josua. Onverwags. Ondenkbaar. Onverklaarbaar. Hy vergeet nie Sy volk al dwaal hulle af nie. En hy roep vir Gideon om die volk te verlos. Nou Gideon is nou nie juis die keuse wat mens sou verwag nie. Hy is nie uit n belangrike familie nie. As die Engel van die Here aan hom verskyn is hy besig om koring by die parskuip uit te slaan. Nou dit sê reeds vir jou hier is fout, want mens is nie veronderstel om koring by die parskuip te dors nie, maar Gideon is bang vir die Midianiete wat hom op die land sou dophou. Dit wil ook voorkom of Gideon se familie die sentrum van Baal aanbidding is in die dorp waarin hy woon. So dit is Gideon: ’n man sonder status, bang en dan is sy familie ook nog op die verkeerde pad.

Maar dan verskyn die Engel van die Here aan hom en sê: “Die Here is met jou.” En dan beklae Gideon sy lot. Daar is geen toekoms nie. Alles is hopeloos. Ek kan tog nie Israel verlos nie. My stam is die swakste, ek is die jongste in my familie. Dit is Gideon se treurmare. Maar, laat ons nie te hard wees op Gideon nie. So voel ons ook soms. Miskien vanoggend soos jy aan die Nagmaal tafel moet sit voel jy in jou geloof hopeloos, nikswerd, onwaardig. En jy wonder, maar hoekom sou God met my gemeenskap wil hê, hoekom sou Hy my wil gebruik? Hoekom sou Hy my wil liefhê?

Maar dan lees ons in vers 14 en 16 (lees). So kom die Here ook vanoggend deur Sy Woord en sakrament en draai na jou. Na jòu wat hopeloos voel, onwaardig. En sê: “Ek sal met jou wees.” Dit is die wonder van God se genade.

Gideon vra vir die Engel toe om eers te bly sodat hy vir Hom ’n maaltyd kan voorsit. Nou ons het gehoor hoe swaar het dit in Israel gegaan weens die Midianitiese inval. En dit is kosbare kos wat hy bring. ’n Bokkie, brood. En dit in ’n tyd van droogte en vir ’n vreemdeling wat hy nie ken nie. Dit sê baie van Gideon se karakter.  Hy is bereid om te gee ten koste van homself. Hy gee nie uit sy surplus nie, maar uit sy tekort.

Nadat Gideon hierdie maaltyd voorberei het lees ons het hy dit voor die Engel gaan neersit. Twee merkwaardige dinge gebeur dan: Eerstens eet die Engel nie. Niks. Na al die moeite wat Gideon gedoen het. Na al sy gasvryheid. Nee ons lees in vers 20 (lees). En dan lees ons: “En hy het so gedoen.” Ja, Gideon weet nog nie ten volle wie is hierdie Man wat Hom kom besoek het nie, maar tog is hier gehoorsaamheid.

Miskien moet dit ons herinner dat God se wee nie ons wee is nie. Sy metodes is nie ons metodes nie. Vir Gideon lyk dit na ’n enorme verlies, maar vir God is dit ’n enorme wins. Want God was besig om vir Gideon te leer om alles te verloor, sodat hy Hom kan volg en alles in Hom kan vind. God maak hom gewillig om te gehoorsaam.

Maar die verhaal eindig gelukkig nie daar nie, (lees vers 21). Wat gaan hier aan? Die Besoeker verander hierdie vermorste maaltyd in ’n offergawe. En dit is vir Gideon die teken dat die Here Hom aanvaar het. Hom geseën het. Hom ontmoet het. En dan verdwyn die Engel.

Die Here leer vir Gideon iets baie belangriks hier. Hy vernietig die offergawe met vuur, maar Hy vernietig nie vir Gideon nie. Ja, Gideon was saam Israel op die afdraande pad, sy familie was die hoof baal aanbidders in die dorp. Ook hy moet voor God se oordeel vernietig word. Maar God vernietig die offergawe. Ek het ’n manier wys die Here vir Gideon om jou te versoen met My sodat jy my volk kan verlos: die bokkie en brood wat geoffer is. En dit is ’n prentjie van die evangelie gemeente, ’n skadu van die regte offer: Christus, wat die uiteindelike offer vir versoening was.

As Gideon dit besef is Hy oorweldig, (lees vers 22). As Hy besef Wie dit is wat hier by hom was, is Hy nie net oorweldig nie, maar vol vrees, want niemand kan die Here van aangesig tot aangesig sien en bly lewe nie. Maar die Here sê vir Hom (lees vers 23). En dan lees ons vers 24 (lees).

So kom ons dan vanoggend by die Nagmaal van die Here. Die maaltyd waar Hy self teenwoordig is, soos Hy ook by Gideon se maaltyd was. En Hy sê vir jou vanoggend: “Vrede vir jou. Vrees nie. Jy sal nie sterwe nie.” Hoekom sal jy nie sterwe nie? Want ’n ander Een het gesterf. Die vuur van die offergawe het op God se eie Seun geval en Hom verteer.

Gideon het op die ou en besef: hierdie Engel benodig nie sy maaltyd nie. Hy benodig die Engel se maaltyd. Hy het geleer dat Hy wat sy lewe verloor dit sal vind. Dit is wat Jesus ons ook leer in die Nagmaal. In die Nagmaal draai Hy na jou, in jou hopeloosheid, in jou moedeloosheid, in ou onwaardigheid en wys jou, gee jou, laat jou proe, ruik voel, ervaar – Hy is geoffer vir jou. Vrede vir jou. Vrees nie. Jy sal nie sterwe nie.

 

 

Kommentaar