29 September 2019

·        Skriflesing: 1 Konings 18:20-46

Gemeente dit is ’n bekende verhaal wat ons vanoggend gelees het, maar ook n verhaal met ’n bepaalde agtergrond. In die geskiedenis van Israel verteenwoordig dit ’n geweldige slag teen die profete van Baal. Ek dink dit is die moeite werd om te vra: maar wat soek die profete van Baal nou hier in Israel, hoe het hulle hier gekom? Verlede week het ons immers nog gehoor van Dawid op die toppunt van sy mag, hoe goed dit met Israel gegaan het in die Beloofde land.

Vir die rede vir die verskyning van die profete van Baal hoef ons nie verder te soek as Dawid se opvolger, sy seun Salomo nie. Nou Salomo begin sy regering goed en met baie wysheid, maar later trou hy al meer en meer heidense vroue. En hy begin die gode van hierdie heidense vroue van hom aanbid. Die gevolg hiervan is dat die koninkryk wat onder sy vader Dawid verenig is, nou weer in twee skeur, met die koninkryk van Juda in die suide en die ander stamme in die noorde.

Nou die eerste koning van die Noorde is Jerobeam. En hy sien baie gou dat hy ’n groot godsdienstige probleem het in sy koninkryk: die probleem was dat Jerusalem in die suide gelê het. En dit beteken dat die mense in sy koninkryk die grens moet oorsteek om te gaan aanbid. As ’n goeie politikus was hy slim genoeg om te besef dat hierdie godsdienstige eenheid in Israel ’n bedreiging ingehou het – dit hou die twee koninkryke in ’n mate verenig. So wat Jerobeam toe doen, is om goue kalwers op ter rig by Bet-el en Dan, dus in die Noorde. En hy sê vir sy mense: julle hoef nie Jerusalem toe te gaan om die Here te aanbid nie, julle kan dit by Bet-el en Dan doen. So Jerobeam lei Israel op die pad van valse aanbidding van die ware God.

Nou hierdie optrede van Jerobeam het hom berig gemaak, soveel so dat ons deur die hele boek van Konings lees by elke koning wat die pad byster geraak het dat hy gedoen het “wat verkeerd was in die oë van die Here en gewandel het in die weg van Jerobeam en in sy sonde waarmee hy Israel laat sondig het.” En wat die skrywer van Konings vir ons wil sê is dat al die konings wat Jerobeam opvolg – hoe goed en wonderlik hulle ook al mag gewees het – nie die moed gehad het om die goue kalwe af te breek en terug te keer na ware aanbidding nie. Nou dit geld vir al die konings wat Jerobeam opvolg, maar by een word daar nog ’n stertjie bygevoeg, ons lees van koning Agab (lees 1 Konings 16:30-33). So Agab lig die standaarde sou mens kon sê. Die ander konings promoveer die valse aanbidding van die ware God deur in die sondes van Jerobeam te volhard. Maar Agab promoveer nou die ware aanbidding van die valse God.

En dan verskyn die profeet Elia natuurlik op die toneel. En mag mens sê hy kom onverwags, skielik. En wat sê Elia vir Agab? Hy sê sowaar as die Here, die God van Israel leef, daar sal geen reën of dou in hierdie jare wees nie. Nou dit is ’n verskriklike uitlokkende ding om te doen. Elia daag ast’ware vir Baal uit. Want wat weet ons van Baal? Baal was die god van vrugbaarheid. Nou hierdie is ’n landbougemeenskap – as ’n god van vrugbaarheid enigsins iets beteken sal hy reën moet kan gee. So as die Here deur die mond van Elia sê daar sal nie meer reën wees in Israel nie – dan sê hy effektief: julle dink Baal is ’n god van reën? Ek sal vir julle wys wie die God van reën is. Daar sal geen reën wees totdat Ek so sê nie. Die Here gaan Israel tot op die punt van ekonomiese ondergang bring deur die hemelpoorte toe te maak.

So Baal word uitgedaag vir ’n geveg. En dit loop uit in wat ons in ons Skrifgedeelte vanoggend gelees het. So ons is nou op die punt van die verhaal waar Israel ekonomies die droogte sou gevoel het, van die een misoes na die ander, van vee wat vrek, van reën wat net wegbly.

En wat doen Elia eerstens? Wel, nog voor hy die profete van Baal aanvat, roep hy Israel op tot bekering. Tot ’n besliste keuse vir Baal of vir die Here. Mens kan dink dat Elia op hierdie punt redelik keelvol is. Na drie jaar van droogte neek hulle aan op dieselfde pad. Hy sê (lees vers 21). Ook vanoggend eis die Here van ons opnuut bekering.

Gewoonlik dink ons aan bekering as die afkeer van sonde. Dit is op sigself korrek. Bekering is ’n omdraai van die verkeerde weg. Dit is om te breek met die dinge waardeur ’n mens bekoor en geboei word tot jou eie verderf. Dit is om tot jouself te kom en die dwaasheid van jou verbroude lewe prys te gee.

Maar bekering kan ook anders beskryf word. Dit kan ook gesien word as ’n bekering tot die besef dat ons enkel uit die genade van God kan lewe. Dat ons slegs van Hom afhanklik is. In dié sin is bekering méér as om jou net af te wend van verkeerde weë en sondige dade. Dit is niks minder nie as die prysgawe van jouself met alles wat jy het en is, om enkel op die genade van God te vertrou.

Gemeente wanneer ons ervaar dat ons weg op verskillende punte doodloop en dat allerlei donker wolke van alle kante rondom ons saampak, is dit tyd om onsself te bekeer. Maar verootmoediging, bekering, gaan nie in die eerste plek om die uitkoms of die voorspoed wat ons begeer nie, maar om ons verhouding tot God self. Anders kom ons nie bokant die peil van die primitiewe godsdienstigheid uit nie, waar aan God geoffer word sodat Hy die mens kan dien. Waar ons maar net God aanbid, sodat Hy reën kan voorsien. In tye wanneer dit sleg gaan is die vraag wat God vir ons wil sê en of ons werklik bereid is om te luister. Anders is alles tevergeefs. Israel was nie bereid om te luister nie. Elia roep die volk op tot ’n keuse. Maar “die volk het hom nie geantwoord nie.”

En dit noop Elia tot die geveg self. Let op hoe Elia uit sy pad uitgaan om homself swak te maak voor die profete van Baal. Eerstens vind hierdie geveg plaas bo-op berg Karmel. Die geveg vind nie by die tempel in Jerusalem plaas rondom die Ark van die verbond nie. Nee die profete van Baal het ast’ware tuisveld voordeel hier. Tweedens het hulle nie net die geografiese voordeel nie, maar ook numeries: daar is 450 profete van Baal terwyl Elia man alleen hulle moet aanvat.

Dan lees ons wat gebeur (lees vers 26-29). Let op hoeveel moeite en geraas die profete maak. Dit begin met ’n aanroep en dan ontaard dit in iets belaglik: hulle roep hard (ons kan dit duidelik stel – hulle skree), hulle spring rond, hulle sny hulle self stukkend. Ons kan onsself maar net indink hoe dit moes klink, maar wat veel belangriker is as hierdie mal geskree van die profete van Baal, is die stilte van die gode. Ons lees vers 29 (lees). Sien die geraas van die profete van Baal is op is op die ou end nutteloos. Die gode is stil.

Nou ons sê partykeer vir mekaar: ons moet hard bid vir reën, of so iets. Maar sien dit is nie die volume wat die deurslag gee nie. Dit is ook nie die ywer wat uiteindelik God se arm draai nie. Die 450 profete van Baal het hulleself stukkend gesny dat die bloed loop. Hulle het gespring en geskree. Maar daar was stilte van die gode.

Hoe magtig het Baal nie daardie dag gelyk nie: 450 profete. Hoe hard was die geraas nie. Hoe ywerig die danse. Hoeveel bloed het nie vir Baal gevloei soos hulle hul self met spiese en swaarde stukkend gekerf het nie. En dan aan die ander kant staan hierdie een profeet van die Here wat in die woestyn rondswerf. Vir drie jaar het niemand hom gesien nie. En hy wil die magtige profete van Baal op hulle tuisveld aandurf. Menslik gesproke lyk hy pateties en swak. Maar teen sonsondergang lyk die prentjie anders. Ons lees (lees vers 37-39).

Ons kan op die punt nie anders as om ons gedagtes vorentoe te neem na die laaste geveg nie – die een waar Christus finaal oorwin het. Ook Hy lyk in die oë van die wêreld pateties en swak. Stel jouself voor dat God Homself mens laat word en op ‘n dag kaal aan ‘n houtpaal met spykers vasgekap word, dat hy na drie dae weer opstaan, leef, opvaar na die hemel en sy Gees na sy volgelinge stuur om by hulle te wees. Dit is volledige en volslae dwaasheid vir die wêreld sê Paulus. Dit is belaglik. Lagwekkend. Maar juis in hierdie swakheid kom Sy krag te voorskyn.

So maak Elia homself op die dag ook swak, sodat God se krag te voorskyn kan kom. Die Here het geantwoord. Hoekom? Het Elia hard genoeg gebid? Hoog genoeg gespring? Swaar genoeg gekry? Nee, vir wat gebeur kan Elia nie die krediet voor kry nie. Dit het van die Here gekom. Hy het geantwoord. Nie oor Elia genoeg gedoen het nie, maar omdat Hy getrou is aan Sy beloftes. Maar hier eindig die verhaal nie.

Ons lees hierna “maar Elía het op die top van die Karmel geklim en hom op die grond neergebuig en sy aangesig tussen sy knieë gesteek.” Is dit ook jou posisie voor God soos jy bid vir uitkoms? Is dit na wie jy kyk? Hieroor wil ek nie ongevoelig wees vanoggend nie. ’n Mens moet op ’n plaas grootgeword het om iets te verstaan van die magteloosheid van ’n landbougemeenskap wat besig is om in die greep van ’n hardnekkige droogte dood te bloei. Israel was hier in die greep van 3 jaar se droogte.

Kan daar iets meer martelend wees as die hooplose dae sonder enige teken dat die lewensnoodsaaklike reën in aantog is, terwyl die reënseisoen reeds byna verby is? Of is daar iets ergers as die teleurstelling wanneer belowende tekens van ’n goeie oes soos mis voor die son verdwyn?

Iemand vertel van ’n boer wat jare gelede in ’n knellende droogte ’n kollekte-bussie by sy hek aangebring het met die byskrif dat verbygangers versoek word om iets by te dra, sodat hy vir God ’n bril kan koop sodat Hy kan sien hoe die wêreld lyk.

Lasterlike opstand teen God? Ja seker, maar ook ’n getuienis van die moedeloosheid wat droogte meebring. Die stryd van droogte is nie maar net ’n ekonomiese een nie, dit is ’n uiterste toets vir die geloof en ’n leerskool in die kuns om gelowig met God te wandel.

Ja, droogte maak ons weerloos. Ons leef in uiters moeilike en kritieke tye. Dit is of die skroewe van spanning, vrees en onsekerheid steeds sterker op ons lewe aangedraai word. Moet daarom nie in  hierdie tye kyk na Baal nie, na die beloftes van vrugbaarheid wat ander voorhou nie. Die kerk word geroep om duidelik heen te wys na die vaste bakens, na die veilige hawens, na die onwrikbare rots in die gemaal van die stroom. Ons moet in elke moontlike verleentheid wat ons vanweë die tye kan oorval, tog nie radeloos te wees nie. Hoekom? Omdat die Here ons wel geantwoord het soos vir Elia. Omdat Hy toe Christus aan die kruis na Hom geroep het stil was, Hom verlaat het, sodat ons Hom kan hoor en nooit  van Hom verlate sal wees nie. Ons het ’n belofte om aan vas te hou. Moet nie vanoggend soos Israel geen antwoord gee wanneer jy hoor: volg die Here of volg Baal nie.

Elia buig neer voor God en bid met sy gesig tussen sy knee. Nederig. Dit is die posisie waar ons in moet wees. Maar nog voor Elia 7 keer gebid het sê hy vir Agab (lees vers 41). Dan lees ons vers 43 (lees). Na drie jaar se droogte bid Elia. Ja, hy hoor al die gedruis van die reën sê hy. Maar niks kom nie. Hy bid weer. Nogsteeds niks. Sal hy maar halfpad ophou? Moed opgee. Nee hy gaan voort. En na die 7de keer kom ’n wolkie op uit die see.

Israel moes leer, ons moet leer: So waar as die Here, die God van Israel, leef, voor wie se aangesig ek staan, daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord!”

Am

Kommentaar