Die evangelie volgens Numeri

Teks: Numeri 2

Ons het verlede week afgesluit uit Levitikus waar ons gehoor het hoe die volk instruksies ontvang oor hoe sondige mense saam ’n heilige God moet leef. Die taak by Sinai was nou afgehandel en die volk wat van Sinai af optrek is nie meer die vormlose spulletjie wat daar aangekom het nie: die Here het hulle gevorm deur Sy Woord, Sy instruksies vir lewe in Sy teenwoordigheid. Die reis vanaf Sinai gaan nou voort.

Die boek Numeri gaan oor Israel se woestynreis na die beloofde land. Die Jode noem die boek ook dan “die woestynreis”, maar ons volg die Griekse tradisie en noem dit Numeri na die telling van die volk wat hier geneem word. ’n Reis deur die woestyn is nie maklik nie en gaan lees maar die boek, dit was nie maklik nie. Geen wonder dat Israel so gekla het soos ons netnou in die wet gehoor het nie.

Ons kan sekerlik ook aan ons lewe vandag dink as ’n woestynreis na die hemelse Kanaän. Ons lewe in gevaarlike en verwarrende tye. Dit bring ons soms in groot spanning, veral as dit duidelik word dat dinge klaarblyklik anders verloop as wat ons beplan en gehoop het. Die natuurlike reaksie van ons kant is dan om rondom ons te begin kyk en om berekeninge te begin maak van hoe die geskiedenis sal verloop op grond van die faktore en kragte wat ons rondom ons aan die werk sien. Dit kan daartoe lei dat ons swartgallig word, moedeloos en wanhopig, dat ’n doodsheid ons beetkry, omdat ons op grond van redelike oorwegings meen dat die toekoms net donkerheid kan bring. Met hierdie berg wat voor ons lê wys die Here vir ons die weg vorentoe in die boek Numeri.

Want dit is Hy wat Israel deur die woestyn lei. Ons lees dat uiteindelik na al die voorbereiding en nadat Israel weereens die Paasfees gevier het, vertrek hulle vanaf Sinai met die Here wat voor hul uitgaan na die beloofde land. Dit is ’n tyd waarin Israel die groot getrouheid van die Here beleef. Numeri vertel dat Israel se hede en toekoms verbind is aan die God wat by Sinai met haar gepraat het. Dit getuig weereens dat God se teenwoordigheid sentraal staan tot wie Israel is. Nie die geografie nie, nie die plek nie, maar God se teenwoordigheid is van belang. Numeri. Want Israel oorleef die onherbergsame woestyn deur haar te onderwerp aan God se instruksies. Binne die kamp is daar lewe, buite die kamp is daar dood. Die woestyn kamp antisipeer lewe in die Beloofde Land, dit is ’n paradigma vir ware lewe. Binne die kamp voorsien God alles wat nodig is vir lewe: kos, water, versorging. Maar buite die kamp, is daar dood. So is die sorg van die Here vir Sy volk op hulle woestynreis.

Maar gemeente is dit al wat die Here doen? Waarin lê sy leiding veral hier? As jy Numeri mooi lees sal jy sien dat Hy die volk in hulle stamme organiseer. Nie lukraak nie, nee, rondom die tabernakel. Ja daar is kos en water, manna en kwartels, maar ten diepste – daar is die tabernakel in hulle midde, God by hulle. Ons het gelees dat die Leviete ook rondom die tabernakel gegroepeer word soos die ander stamme, maar hulle staan die naaste – in diens van die Here, om te sorg vir die tabernakel.

So is die sorg van die Here, ook vanoggend waar Hy ons as gemeente rondom Sy tabernakel – Sy Woord en Gees gebring het. En miskien moet ons onsself afvra of ons as gemeente ook vanoggend soos Israel gegroepeer is rondom die tabernakel. Is ons lewens en die lewe van die gemeente ook gesentreer rondom die tabernakel waar God se teenwoordigheid is en vanwaar Hy ons lei?

Sien hierdie woestyn kamp waar Israel gegroepeer is rondom die tabernakel antisipeer lewe in die land. Numeri leer vir Israel dat hierdie Beloofde Land waarop sy wag, is maar ’n uitbreiding van die woestynkamp. Eens in die land sal haar rede vir en karakter van lewe nie verander nie, die reis kom maar net tot ’n rusvolle einde. Dit is die boodskap van Numeri. Die dissipline van die woestyn kamp is ’n voorsmakie en pand van die beloofde toekoms. Die Tabernakel moet steeds in die midde wees as die reis verby is. Die volk moet steeds met God in hulle midde leef.

Lewe in die liggaam van Christus is ook nie anders nie. Ook vanoggend is dit God se teenwoordigheid wat van belang is, nie die plek of die gebou nie. Numeri nooi God se volk vandag nog uit om altyd oor ons lewe in terme van die woestynkamp te dink. Die Here soek Sy mense rondom Hom. Ook vanoggend nooi God jou om soos Israel jou lewe, jou woestynreis, te sentreer rondom die tabernakel – rondom Christus wat deur Sy Woord en Gees by ons is. Naby die tabernakel, naby Christus en Sy Woord.

En dit staan teenoor al die gevare wat op die pad voor ons lê en voor Israel gelê het. Want onthou hierdie woestynkamp in Numeri staan nie stil nie, daar is immers ’n trek wat aan die gang is: van die berg Sinai na die vlaktes van Moab. In die kamp rondom die tabernakel is daar lewe en buite die kamp en buite die tabernakel, dood. So is die sorg van die Here vir sy volk. So sorg die Here vir Sy kerk nog vandag.

Teen alle ervaringe, alle verwagtinge, alle vanselfsprekende in skep die Here deur Christus ’n ruimte, ’n stuk werklikheid – tasbaar en sigbaar, te midde van die alledaagsheid van die lewe. Die troos, die byna ongelooflike boodskap van herstel, heil en lewe wat die kerk dra is hierin duidelik. In die midde van doodsheid, alleenheid, koudheid, afsydigheid, vervreemding skep die Here ’n gemeenskap wat rondom Hom lewe. Ons moet die werklikheid hiervan nie onderskat nie. Christus vergader, beskerm en onderhou Sy kerk. Waarskynlik kan die meeste van ons hiervan getuig. As ons vanoggend vir ’n oomblik eerlik met onsself is, dan moet ons toegee dat ons, êrens, iewers, inderdaad in die kerk oomblikke van lewe beleef het, van troos, van liefde. As dit nie daarvoor was nie sou ons waarskynlik nooit in die kerk gekom het nie. Maar ons bly kerk toe kom, omdat ons iewers gesmaak het en steeds smaak, die dat die Here goed is. Dat daar lewe rondom Hom is. Dat Hy sorg.

Numeri roep jou dan vanoggend weer en vra: sentreer jou lewe rondom die Here se tabernakel waar die lewende Christus deur Sy Woord en Gees by ons is. Gemeente ons kan so moeg wees partykeer dat ons nie eens na die erediens kan onthou wat die Here vir ons gesê het nie, maar moet nie die geleentheid vanoggend laat verbygaan om God se Woord te hoor nie. Die Psalmdigter dink terug aan die mislukking van die 1ste generasie in Numeri en vermaan: “Vandag as jy sy stem hoor, moet nie jou hart verhard nie.” So herinner die Psalmdigter ons dat die trek na die Beloofde Land nog nie tot ’n einde gekom het nie. Die apostel Jakobus leer ook in die opening van sy brief, dat die kerk nou die twaalf stamme in die verstrooiing is. Van die berg Sinai, na die kamp en wolk, na die land en tempel en van daar na die liggaam van Christus en Sy Gees. So loop die storielyn van die Bybel.

En daarom as ons Christus buite rekening laat, het ons ook weinig rede om positiewe verwagtinge van die toekoms te koester op ons woestynreis. Ons verstaan die troos, die krag, die diepte, die rykdom van lewe in Christus, lewe binne die kamp, rondom die tabernakel, slegs as ons iets raaksien, iets begryp van die doodsheid in ons eie lewe, van die dood wat ons omring, van die dood wat oor ons heers. Van die dood wat daar buite Hom is.

Dit is nie sonder rede dat ons in ons spreektaal die term dood gebruik om situasies van magteloosheid en hopeloosheid mee uit te beeld nie: ervaringe van vasgevange, vasgeloop, sonder uitsig of uitkoms wees, moedeloos en verlore te voel; sonder oplossing of uitweg.

Ons sê: Ek voel daar is geen sin of vreugde in my lewe meer oor nie; iets in my het doodgegaan.

Ons sê: Ons huwelik, ons verhouding, ons vriendskap is op die einde. Daar is niks meer aan te doen nie. Ons liefde vir mekaar is dood, dit het êrens langs die pad uitgesterf. Ons kan daaraan niks doen nie.

Ons sê: alles is net te veel vir my. Ek kan nie meer nie. Ek kan dit nie langer verduur nie. Ek kan nie verder nie. Ek is tot die doodmoeg, afgemat, uitgeput.

Ons sê: die vrees vir môre, vir die toekoms, vir wat gaan gebeur – met myself, met my familie, my kinders en kleinkinders – pak my beet en ek kan dit nie afskud nie. Die besorgdheid, die bekommernis, die kwelvrae druk my keel toe. Ek kan snags nie slaap nie. Ek is doodbang vir wat gaan gebeur. Vir die uitslae van die mediese ondersoek, vir die eksamen wat voorlê, vir die afdanking by my werk, vir die misdaad en geweld rondom ons.

So, presies soos ons spreektaal, so praat die Bybel ook. Buite die kamp, buite Christus was daar dood. Dood staan vir al die magte wat verslaaf, wat hoop ontneem, wat ons kragte tap. Wat ons moeg maak. Moedeloos. Bang. Bekommerd. Ontsteld. Onseker. Verward. Magteloos. Sonder hoop of verwagting.

Dit gebeur dan dat ons in ons eie lewe voel dat daar geen verkwikking, geen verfrissing, geen oorvloed, geen vreugde, geen lewe ooit weer sal kom nie. Daar is geen hoop op die beloofde land nie.

As dit jou lot is, as dit jou omstandighede beskryf, as dit jou lewe is – vasgevang in ’n duister kringloop van doodsheid – watter geweldige troostende boodskap hoor jy dan nie in Numeri vanoggend nie – binne die kamp, rondom die tabernakel is daar lewe – fisies en geestelik.

Gemeente die reis deur die woestyn is nie verby vir die kerk nie. Ons wag nog om ons Beloofde land in te gaan. Die Hemelse Kanaän. Op ons reis sal ons rondom die lewende Christus moet bly, want buite die kamp, buite Christus se sorg, versoening, heil, sal ons nie die hemelse Kanaän ingaan nie. Gemeente wanneer jy rondom die tabernakel is verkondig dit die Here se teenwoordigheid, sy versoening, sy vergifnis. Ons sou baie meer oor die tabernakel kon sê vanoggend. Maar wanneer jy rondom die tabernakel is, wanneer jy Christus en al sy sorg beleef: genade, vergifnis, leiding, lewe – dan kan jy die toekoms intrek.

Dit was die tabernakel van die Here wat onbeweeglik bly staan het te midde van al die gevare in die woestyn. Dit is die Here wat sy volk tuisbring en lei. Ja, as Israel net na hulself en rondom hulle gekyk het, was daar baie om te vrees, maar dan om na die tabernakel te gaan, rondom die tabernakel te bly en Christus te beleef wat al jou sondes bedek en lewe gee in die midde van die dood, dit het hulle hoop gegee.

Hebreërs 4 getuig dat daar ’n rus oorbly vir die volk van God. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in die rus – in die beloofde land, die hemelse Kanaän. Sentreer jou lewe rondom die tabernakel, rondom Christus. Hy alleen kan jou tuis bring.

Amen

Kommentaar