14 April

Erediens: 14 April 2019: Teks: 2 Samuel 12:1-22; 1 Kor. 7:12-14

 

Genade wat troos

Die Here belowe dat Hy die dowwe lamppit nie sal uitblus en die geknakte riet nie sal breek nie,

maar hoe vind mens troos en berusting as jy jou eie kind moet begrawe, of ’n soortgelyke tragedie tref jou? Sulke dinge kom oor ons pad, soveel so dat jy moet vra: maar hoe kan ek ooit voortgaan met my lewe, hoe kan ek troos vind?

Dit is met hierdie saak wat Totius ook geworstel het in sy gedig “Die Godsbelsuit” waar ’n kind van hom gesterf het:

Voor die onheilswoning en
tussen die skaars-beblaarde
soetdorings staan, in droë aarde
maar lowergroen en blink van blad,
die wag-’n-bietjie langs die pad.

Wanneer ek naderkom dan sien
ek dorings krom en reg;
‘k sien takke inmekaar gedraai
en deurmekaar gevleg.
En wil ek in die blare gryp
of aan die takke breek,
dan tas ek in ’n doringnes
wat vreeslik haak en steek.

Bo al u donker bome, o Heer,
groei my ’n enk’le reusboom uit
dit is die wag-’n-bietjie-bos
van u besluit.
Van ver so skoon, so groen, so blink…
maar hoe verward
wanneer ek dieper kyk en dink
as wat ’n sondaar pas.
En steek ek dan my hande uit
na u besluit,
dan gryp ek in die dorings vas.

 

Ja selfs vandag met al ons mediese kennis sukkel ons om tot verhaal, tot rus, tot troos te kom met die dood van ’n kind, of ’n geliefde. In die 17de-eeuse Nederland waar die Dortse Leerreëls ontstaan het, was die sterftesyfer onder jong kinders meer as 50%. Net om dit in perspektief te plaas: in Suid-Afrika is die sterftesyfer onder jong kinders vandag rondom 3.4% en wêreldwyd staan dit op 4.9%. Dit is ’n massiewe verskil, om vir ’n feit te weet dat jou kindjie net ’n 50% kans het om dalk sy of haar eerste verjaarsdag te vier of nie te vier nie. Om dan nie te praat van die siektes en pes wat nog op sy of haar pad kan lê soos hulle grootword nie, waar ’n doodgewone griepvirus hulle lewe kan eis.

Waar vind mens troos as hierdie dinge oor jou pad kom, as die grootste tragedie tref? Nou gelukkig gaan die Leerreëls nie vir hierdie vrae uit die pad nie gemeente. Hy stel hulle, omdat hy hulle met groot beslistheid kan beantwoord.

En met die Skrif en belydenis tot ons beskikking vanoggend hoef ons ook nie terug te deins vir hierdie vraag nie. Ja, God se voorsienigheid is nie maklik om te begryp nie. Veral nie as kinders sterf of ander tragedies tref nie. Daarom begin die leerreëls vanoggend eers met ’n opsomming van wat ons alreeds gehoor het verlede week, van God se verkiesing en verwerping. Dat God in sy genade sondaars verkies: moet nie vergeet wie die Here is nie, in al jou pyn en harsteer, Hy is die een wat jou genees, “genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol goedheid.” En dan belangrik sê die laaste paragraaf in artikel 15 dat God nie die bewerker van die sonde is nie. Onthou wanneer jy langs ’n geliefde of jou kind se graf staan, God het nie die sonde en dood in die wêreld ingebring nie. Dit was die mens.

En dan gaan die leerreëls vêrder om gelowiges te troos, om te sê, miskien sien jy nog nie die vrugte van jou verkiesing waarvan ons verlede week gehoor het nie, miskien raak jy bang en mismoedig en wonder, maar is ek werklik verlos? Maar dan troos die leerreëls om te sê: maar moet jouself nie onder die verworpenes reken nie, moet nie staan en God speel oor jou eie verlossing nie, nee as jy twyfel gaan ywerig voort om die middele te gebruik wat God vir ons daargestel het, m.a.w. kom luister na Sy Woord, lees dit en gebruik die Nagmaal en bid gedurig, want God sal die dowwe lamppit nie uitblus en die geknakte riet nie breek nie. As jy onseker is oor jou verlossing, as jou lewe inmekaarstort, moet nie handdoek oorgooi nie, hou aan om na die Here te kom.

Maar daar is nog ’n dieper troos. Ons lees hierdie troostende woorde uit ons belydenis, wat aansluit by 1 Kor. 7:14 (lees artikel 17). Die kinders word saam met hulle ouers in God se genadeverbond opgeneem. Oor hierdie waarheid getuig die Nederlandse geloofsbelydenis:

Waarlik, Christus het sy bloed nie minder vir die reiniging van die gelowiges se kindertjies as vir die volwassenes vergiet nie.

Hoe kom jy tot verhaal, tot rus, tot troos na die dood van ’n kind, na ander tragedies? Die belangrikste by die graf is nie wat jy doen nie, maar wat jy glo: God neem die kind saam met die ouers in Sy genadeverbond op. Die geheim van die troos lê by God se verbond. Dit is die voorbeeld wat Dawid ook vir ons stel. Nadat hy niks wou eet  of drink nie, nadat Hy God se aangesig gesoek het om sy kind se lewe te spaar, nadat hy die hele nag op die vloer van sy kamer gelê het en uiteindelik die nuus hoor dat sy kind oorlede is kry hy troos en berusting. En wat doen Dawid om getroos te word? Dit is weereens nie wat Hy doen nie, maar wat Hy glo. Dawid staan op, hy gaan was en trek skoon klere aan, hy gaan na die huis van die Here en aanbid en daarna gaan hy huis toe en eet. Sy dienaars in die huis het gedink hy is mal. Hoe kan iemand so gewoon voortgaan met die lewe as sy kind nou net gesterf het? En dan antwoord Dawid (lees 2 Sam.12:22-23). Dawid se kind is opgeneem in God se verbond. Hy is daarvan oortuig. Hy kan voortgaan, Hy het berusting. Troos.

En daarom wil ek vanoggend vra of jou doop en die doop van jou kinders (as jy kinders het), nog vir jou enige betekenis het, is dit vir jou ’n saak van betekenis dat jy en hulle opgeneem is in God se verbond? Om getroos te word moet ons weer leer wat ons doop beteken. Wanneer die ergste tragedie, die ergste pyn, die ergste seer denkbaar oor jou pad kom – watookal dit mag wees – gaan jy ’n goeie greep op God se genade benodig. Jy benodig ’n vesting. Ons word by die doopvont as ‘t ware ingedompel in die see van Gods genade. Duideliker as die doop kan geen preek Gods genade verkondig nie. Verstaan jy wat die doopwater sê vir jou en vir jou kinders? Ons is nou al vir die vierde week besig om God se genade te oordink: die geheim van God se genade lê opgesluit in die doop.

So terloops. Dit was nou weer die koerante vol oor die doop in die NG Kerk en baie vra ja maar hoekom moet ons stry oor so ’n kleinigheid. Liewe broer en suster as jy nie verstaan wat by die doop op die spel is nie, as jy nie verstaan hoekom predikante daaroor afgedank word nie, dan verstaan jy nog nie die evangelie nie. Jy weet nog nie hoe God se genade bemiddel word nie. En bewaar jou as daar ’n tragedie oor jou pad kom, dan sal deer geen troos vir jou wees nie. Daar sal niks wees om aan vas te hou nie. Want God se verbond is dan maar n kleinigheid. Sy genade maar ’n idee. Maar die werklike troos daarvan ontwyk jou.

Geen wonder dat Calvyn so dikwels die vyande van die kinderdoop daarvan beskuldig het dat hulle die vesting van ons geloof aanval nie. Want ie mense hierdie diepe troos wil ontneem – dat die lewende God werklik self met hulle handel; dat God werklik verbind is aan hierdie woorde en hierdie sakramente; dat God werklik in hierdie teken en seël Sy beloftes en trou aan hulle verseker; dat God hulle werklik met Christus self verenig, eenmaal en steeds inniger; dat Christus self werklik teenwoordig is in die sakramente, deur Sy Gees; dat hulle werklik op die sekere beloftes mag rus met gelowige vertroue, ondanks alles wat hulle tref; dat hulle met dankbaarheid elke dag kan reageer omdat hulle werklik as kinders van die goeie Vader aangeneem is; dat hulle rondom hulle, in vreemde gesigte, in mense met vreemde tale, op vreemde en vyandige plekke broers en susters kan ontvang en ontdek, soos hulle ook een gemaak is met mekaar in ’n nuwe, wonderbare, sigbare en lewende gemeenskap – wie sake so voorstel dat dit alles nie gebeur nie, maar dat dit alles eerder van hulleself afhang, van hulle eie beslissings en geloof en beloftes, hulle eie herinneringe en religieuse belewenisse, hulle eie betekenisvolle simboliese toewyding, hulle eie vrye keuses vir broers en susters, die val die vesting en troos van die evangelie self aan. Dit is wat die Remonstrante gedoen het waarteen die leerreëls hier getuig: alles gaan vir hulle oor jou keuse, jou belofte.

Maar gemeente die leerreëls hou vir ons die omvattende, deurtastende, alles deurdringende troos in Christus Jesus voor, deur ons na die verbond te wys. Daar lê ons troos. Kan ’n mens ooit dink dat die doop ’n vervelige seremonie is? Bloot ’n teken? ’n Belofte van die ouers se kant af. Nee, die doop is meer as ’n verkondiging; dit bevat ’n versekering. Net so seker sê die Kategismus. Net so seker soos die water oor jou of jou kind se kop gaan, net so seker kan jy wees dat Christus jou en jou kinders verlos is. Dit is ’n versekering. Dit is ’n werklike gebeurtenis. Dit is die wese van ’n sakrament, dat dit ’n teken èn ’n seël is. As teken verkondig dit ’n bepaalde waarheid; as seël gee dit ons die versekering wat dit verkondig, ook van ons geld. Van ’n gedoopte mens (selfs ’n ongedoopte wat in die verbond gebore is of selfs nog in die baarmoeder..), hoe klein ook al, mag ons sê en moet sê: Die bloed van Jesus geld vir hom of haar. Dit is die vesting van ons troos.

Wanneer die duiwel vir Martin Luther so dikwels geteister het en hy in periodes van depressie geval het, het hy vir die duiwel dikwels gesê: gaan weg, ek is gedoop. Daar is sy vesting.

Sien dit is nie maar ’n formaliteit as ’n mens gedoop word nie; dit is ’n gebeurtenis. Wanneer die Skrif oor die doop spreek as die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes (Titus 3:5 en Handelinge 22:16), dan is dit sonder meer duidelik dat die Skrif aan die doop ’n verseëlde betekenis toeken, wat daarop neerkom dat die doop aan ons wil bevestig dat ons net so seker die wedergeboorte van God ontvang as wat ons in die doopbad ingaan, en dat ons net so seker die afwassing van ons sondes deelagtig word as wat ons met die water uiterlik gewas word. Dit is duidelike taal. Daaraan moet ons onwrikbaar vashou. Net so seker. Vir ons en ons kinders.

Nou gemeente meeste van julle hier is ook gedoop.  God het die afwassing van die sondes deur die bloed en Gees van Jesus Christus aan jou laat verkondig deur jou doop. God gee ook aan jou die versekering dat Hy jou sondes net so seker onder die versoening van Jesus Christus wil stel, as wat jy met die water gedoop is. Maar glo jy dit werklik? Vir jou en jou kinders? Leef jy ook werklik uit Gods belofte? Iewers in die volksmond het dit populêr geword om te sê dat ons by die doop ons kinders aan God toewy of ’n belofte aflê of so iets, wat alles seker in ’n mate waar is. Maar sien die doop is die teken van die verbond. Dit is God se belofte aan jou, aan jou kind. Net so seker. Dis is soos ’n testament wat God bemaak en waar net een handtekening op is: Syne. (vgl. God se verbond sluiting met Abraham – Hy alleen stap deur met die sluiting). Die doop is nie soseer jou belofte nie, maar God sin. ’n Testament waarin Hy jou erfgenaam maak.

God se beloftes in Sy testament is ook waar vir jou en jou kinders. Jy mag jou volledig daarop verlaat, so volkome asof elke belofte van die evangelie in ’n brief staan wat die Heilige Gees aan  hulle persoonlik gerig het.

Maar miskien wonder jy steeds: mág ’n mens dan sommer maar aanvaar dat die beloftes van die evangelie werklik vir jóú en jou kinders bedoel is? Moet daar nie eers iets met jou gebeur nie, ’n besondere ervaring, voordat jy werklik die troos vind waarna jy soek nie? ’n Wonderwerk wat jou berusting gaan gee?

Luister nou mooi vanoggend: Daar hét iets besonders gebeur.  Jy en jou kinders is gedoop, hulle name is genoem en God het persoonlik bevestig dat die bloed van Christus ook vir hulle gestort is.

Dit is ons troos as ons deur die gang van die hospitaal of uit die begrafnisdiens terugstap na buite, na die lug en die son. Bo-oor ons klein lewe staan die verbond van God wat nie soos ons onderworpe is aan die kom en die gaan van die dinge nie. Soos Sy hand oor ons en ons kinders was toe ons name geroep is by ons doop, so sal Sy hand ook oor ons en ons kinders wees as die stilte oor ons kom.

Amen

 

DEURKOLLEKTE

 

14 April: Plaaslik – barmhartigheid ACVV

 

BELANGRIKE DATUMS

 

16 April           Kerkraadsvergadering om 19:00

19 April           Goeie Vrydag Nagmaal om 09:00

13-17 Mei       Sinode sitting

30 Mei             Hemelvaart erediens 18:30

2-6 Junie         Pinkster byeenkomste om 18:30

09 Junie           Pinkstersondag met Nagmaal

14 Junie           Skole sluit

 

Dit is tydens die kwartaal wat die diakens die jaarlikse kollekte kom doen, indien niemand by jou aankom nie kontak gerus die kerkkantoor van waar dit gereël sal word.

 

VOORBIDDING EN VERJAARSDAE

Ons dink in ons gebede aan almal wat siek is, in hospitale of tuis aansterk ná operasies of behandeling, ons bid ook vir ons gemeenskap en land: Algemene verkiesing (08 Mei); planttyd.

 

Verjaarsdae:  Alwyn Carstens                      14/4

Arnold Brand                          15/4

Ina Carstens                            15/4

Fanus Kellerman                     15/4

Anina Truter                            18/4

 

GEMEENTEBEDIENING

 

Kategese: Net na die kindermoment.

 

Biduur: Woensdae om 09:00, Kasteelstraat 69.

 

WhatsApp: Om deel van die gemeente se WhatsApp groep te wees of iets daarop te plaas kontak asseblief die kerkkantoor (sien onder)

 

Teebeurte: Almal wat bereid is om tee te maak en te bedien na die diens kan asb. vir Karin Theron kontak (082 578 2294). Vele hande maak ligte werk!

 

BARMHARTIGHEID

 

Sopkombuis: Weeklikse sopkombuis vir jong kinders in gemeenskap. Skenkings is altyd welkom, kontak vir Hester Truter in die verband (082 436 8987)

 

Kosbank: Kospakkies vir behoeftiges in ons gemeenskap. Kontak vir Andrea Truter vir enige navrae (082 328 1089) hieroor.

 

Klerebank: Ons benodig klere, skoene en komberse om onder behoeftiges te versprei. Kontak vir Bregda Mostert (083 597 0091)

 

Dagsorg & SmartStart: Ons vroeë kinderontwikkeling projek. Kontak vir Karisa Nel vir navrae (076 522 7767)

 

ACVV: Die senior burger koringklub fokus op senior burgers in ons gemeenskap. Kontak asb. vir Lize Steyn (082 263 9434 ).

 

Nal’ibali: Ons leesprojek by die plaaslike laerskool. Kontak vir Lize-Maré le Roux kontak (061 109 9336) vir navrae.

Kommentaar