26 Mei 2019

Die Koringaar. Genade wat nie oorweldig kan word nie

Teks: Matteus 12:22-32; Dordtse leerreëls 5

Daar is baie mense wat vreesbevange word as hulle hoor van die sonde teen die Heilige Gees. Mense raak paniekerig: is ek nou gekies of nie, het ek die sonde teen die Heilige Gees begaan of nie? Dit is regtig weer een van daardie uitsprake wat die voorblad van die Rapport kan haal: “predikant sê dat selfs Jesus nie in staat is om ’n sekere sonde te vergewe nie.”

Nou as julle nou die afgelope maand of wat by die eredienste was dan sal julle ook maklik die probleem wat voor die Sinode van Dort (1618/19) was kan identifiseer vanoggend. Die Remonstrante het geleer dat die ware gelowiges en wedergeborenes kan die sonde tot die dood of dié teen die Heilige Gees wel begaan. Met ander woorde, dit is volgens die Arminiane nie te sê dat iemand vir wie Jesus gesterf het, tot die einde toe sal volhard nie, want jy kan altyd nog die sonde teen die Heilige Gees begaan en dit is onvergeefbaar. Daar is nog altyd ’n kans dat jy wel jou saligheid kan verloor. Jy kan nooit 100% seker wees dus van die ewige lewe nie.

Hierteenoor het die Dortse Vaders die lig van God se Woord laat skyn en geleer soos ons lees in hoofstuk vyf se 4de punt onder die verwerping van die dwalings, dat “Dieselfde apostel Johannes, nadat hy in 1 Johannes 5:16, 17 melding gemaak het van hulle wat tot die dood sondig, en dit verbied het om vir hulle te bid, voeg dadelik in v. 18 daarby: Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie sondig (naamlik met so ‘n sonde) nie, maar hy wat uit God gebore is, bewaar homself en die Bose het geen vat op hom nie (1 Joh 5:18).” En ook getuig artikel 6 van hoofstuk 5 van die Leerreëls dat “God nie toelaat dat sy eiendom die sonde tot die dood of teen die Heilige Gees begaan en, heeltemal deur Hom verlaat, hulleself in die ewige verderf stort nie.”

En met hierdie troos in gedagte wil ek saam met julle net twee gedagtes uit ons teks oordink vanoggend, soos dit in verband staan met die vyfde hoofstuk van die Dortse Leerreëls. Ons leer hierin eerstens iets oor vergifnis en tweedens iets oor verharding.

  1. Die probleem van vergifnis

Ons lees in vers 32a (lees). Sien ons is so vinnig om te vra wat is die sonde teen die Heilige Gees nou, dat ons dit mis dat daar iets oor vergifnis gesê word hier. So miskien voor ons begin vrae maar wat is die sonde teen die Heilige Gees, moet ons net eers ’n stappie teruggee.

Dit is die eerste ding wat ons hier leer: daar is aan God se kant ’n groot bereidwilligheid om te vergewe.“En elkeen wat ’n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word.” Dit is ’n merkwaardige stelling. Die Seun van die mens is iets van ’n koninklike titel wat aan Christus gegee word. Nou as jy al ooit een van die ‘dwelm’ reekse op Netflix gekyk het waar jy te doen kry met die groot dwelmhandelaars soos Pablo Escobar en El Chapo en die ouens sal jy weet jy mag nie eens vir een van hierdie “drug lords” skeef aankyk nie, dan skiet hulle jou dood of kap jou in stukke. Hulle is baie belangrik in hulle eie oë. Jy sal nie iets teen hulle sê nie.

Maar Jesus sê jy kan iets teen Hom sê, Hy sal jou vergewe. Jesus sê nooit vir selfs die eenvoudigste mens: “hoe durf jy so met My praat nie.” Jesus neem nooit aanstoot nie. Wanneer Jesus bespot word aan die kruis, dan sê Hy nie: vervloek is julle nie. Hy sê, Vader vergeef hulle. Dit is die eerste dus wat ons hier leer: die Here Jesus Christus wil vergewe, selfs al bespot jy Hom, slaan jy Hom, vloek jy Hom – Hy wil nie hê dat jy verlore moet gaan nie.

En miskien is dit ’n goeie les vir ons ook as gelowiges. Ook ons moet nie wanneer ander ons bespot of beledig sê: “wie dink jy is jy nie.” Is ons nie dikwels te vinnig op ons perdjie as iemand ons beledig nie? As Christus wat die Koning van konings is bespotting kan verduur en kan vergewe, dan kan ons wat maar stof is soveel te meer sy voorbeeld navolg.

Maar ons hoor ook in vers 32 iets van ’n paradoks: aan die eenkant hoor ons dat God meer as bereid is om te vergewe, maar aan die ander kant hoor ons dat mense hulleself buite die krag van God kan plaas om hulle te vergewe.

Nou hoe kan mens so iets sê Is dit dan nie so dat niks vir God onmoontlik is nie? Wel, nee. Daar is baie dinge wat God nie kan doen nie en wat vir Hom onmoontlik is: Hebreërs 6 sê God kan nie lieg nie, 1 Tim. 2 sê Hy kan nie ’n belofte breek nie, Numeri 23:19 sê God kan nie van plan verander nie. En netso sê Artikel 8 van die Dortse Leerreëls hoofstuk 5: “Sy raad kan nie verander, Sy belofte kan nie verbreek, die roeping na Sy voorneme kan nie herroep, die verdienste, voorbidding en bewaring van Christus kan nie kragteloos gemaak word nie, net so min as wat die verseëling deur die Heilige Gees verydel of vernietig kan word.”

Wat ons in vers 32 lees, lees ons ook in die eerste deel van vers 31 (lees). En hier moet ons weer oplet wat die eerste deel van die vers sê: “Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word.” Laat ons nie daarby verbykyk nie. Enigiets wat jy gedoen het, kan vergewe word: of dit nou moord of egbreek of watookal was. Christus is meer as in staat om jou te verlos.

  1. Verharding

In die tweede deel van vers 31 lees ons: “Maar, die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie.” Hier moet ons in ons teks ’n draai na binne sien. Ja, niks wat jy doen, is onvergeefbaar nie, maar as jy die werk van die Heilige Gees binne in jou weerstaan, dan is selfs die grootste sonde onvergeefbaar.

Jesus is hier besig om duiwels uit te dryf en blindes en stommes gesond te maak. Die Gees het deur hierdie wonderdade bevestig dat Hy die Messias is, die Christus. Ons lees selfs in vers 23 (lees). En wat doen die godsdienstige leiers toe hulle Jesus hierdie dinge sien doen? Hulle sê dat Hy al die wonderdade doen nie deur die krag van die Gees nie, maar met die hulp van demoniese magte. Hulle het nie maar net waargeneem wat Hy doen nie. Nee, hulle was aktief daarmee besig om wat Hy doen teen te staan. En dan sê Jesus hierdie oor die sonde teen die Heilige Gees.

Johannes 16:8 sê (lees). Sien die Heilige Gees werk in jou die sondebesef. Maar as daar geen sondebesef in jou is nie, dan kan jy tog nooit sê, ek was verkeerd, ek is jammer nie. Met bekering kan enigiets vergewe word, (sien 1 Kor. 6:10), maar sonder bekering kan niks vergewe word nie. Hoor ons dit nie elke Sondag so duidelik in die wet en genade verkondiging nie? Sien die sonde teen die Heilige Gees gaan nie soseer oor die inhoud van ’n bepaalde iets wat jy gedoen het nie, maar oor die teenkanting van die werk van die Gees.

En wat interessant is in ons teks is dat Jesus hier met godsdienstige mense praat. Nie met ’n klomp heidene buite die kerk nie, maar met mense wat elke Sabbat by die sinagoge was. Jesus praat hier met goeie godsdienstige mense wat die Woord ken, die eredienste bywoon, hulle bydraes maak.

Die ou skrywer Wilhelmus a Brakel merk tereg op dat die sonde teen die Heilige Gees is nie iets wat jy werklik by heidene kry nie. Want dit is makliker vir ’n Fariseër om die evangelie teen te staan as enigiemand anders. Dit is dikwels makliker vir iemand binne die kerk wat elke Sondag hier is om die werk van die Heilige Gees teen te staan, as iemand wat nooit in die kerk kom nie. Die probleem met godsdienstige mense is nie dat hulle sondes nie vergeefbaar is nie, maar dat hulle nie bekeerbaar is nie! Dink aan die ouer broer in die gelykenis van die verlore seun. Sy sonde is vergeefbaar, maar hy is nie bekeerbaar nie. Hulle weier volstrek om die krag wat in hulle werk te erken. Wanneer God deur Sy Woord en Gees deur die verkondiging van die Heilige evangelie hulle vermaan om te bekeer, dan laat dit hulle koud en kwaad en dan sê hulle, nee dis nie God nie, dis daai simpel predikant se eie praatjies en gedagtes. En wanneer hulle die Nagmaal gebruik dan erken hulle nie dat Christus self deur Sy Gees teenwoordig is nie, nee hulle gebruik dit maar net en kla dan dat dit of dat nou weer fout was met die bediening daarvan. Die sonde teen die Heilige Gees is nie soseer sonde teen die persoon van die Gees nie, maar teen sy werking. Dis soos ons lees in Hebreërs 10:26-27 (lees). Ons sou die kenmerke van die sonde teen die Heilige Gees in die praktyk soos volg kon opsom:

Eerstens is daar ’n duidelike kennis en oortuiging in so ’n sondaar dat wat hy teenstaan van God afkom en die waarheid is. Hierdie is iemand wat voor sy siel weet dat wat hy vanaf die kansel hoor die waarheid van God is en juis daarom staan hy dit tee.

Tweedens is so ’n sondaar gevul met wraak en woede teen hulle in wie God se Gees kragtig aan die werk is. Hy word kwaad as Hy sien hoe God in ander se lewens werk, Hy spot en lag as ander getuig van hulle bekering.

Derdens is daar in so ’n sondaar bose teenstand teen en ’n begeerte na die vervolging van hulle in wie die Heilige Gees werk. Hy probeer die mense in die God werk stilmaak, op allerlei maniere staan hy hulle tee. Hy kan selfs ’n predikant wees, of op die kerkraad sit – ja van binne af saai hy vernietiging.

Vierdens word dit opgevolg deur ’n omkeerbare afwesigheid van berou en ’n weiering om te bekeer. Dit is die tipiese kenmerke van hierdie sonde. En ek sien dit persoonlik in baie mense se lewens wat al 50 jaar onder die verkondiging van die evangelie sit, maar dit laat hulle koud, maar as dit tog maar by die koudheid gebly het. Daar is vele mense in die kerk wat die kerk se mure van binne af probeer platslaan. Mense wat die sonde teen die Heilige Gees pleeg is daardie klomp wat soos ’n Trojaanse perd van binne af die kerk probeer vernietig. Dit is daardie suurdeeg van die Fariseërs wat gou sommer die hele deeg suur maak. En ons moenie dink hierdie mense was net daar in die Nuwe Testament nie, nee hulle sit vandag nog in ons kerke. Daarom dat die apostel Paulus sê dat ons die sondige mense onder ons moet verwyder en dat hy vir Himeneus en Alexander aan die satan oorgee het. Die apostel Johannes sê ons moet ernstig bid vir mense wat ons sien sonde doen, maar as mense hierdie afgrond bereik het van die sonde teen die Heilige Gees, sê  hy, dat hy nie sê dat ons vir hulle moet bid nie. Wilhelmus a Brakel het hieroor geskryf dat jy nie so ’n persoon met ywer of mag tot bekering moet probeer bring nie, of dit nou jou huweliksmaat, kinders, ouers, familielede of vriende is, want jy gee hulle net nog ’n geleentheid om voort te gaan met hierdie sonde. Hulle wil immers die werk van die Gees teenstaan, jy skep dan net nog ’n geleentheid daarvoor.

Dit gesê, as jy vanoggend bekommerd is dat jy dalk die sonde teen die Heilige Gees begaan het, moet nie bekommerd wees nie. Want die feit dat jy bekommerd is daaroor getuig dat jy dit nie gepleeg het nie. Ek ken nie een Fariseër wat bekommerd is oor hulle verlossing nie. Ons wat wel verlos is, kan seker wees dit is volbring. Want “Teen God kan geen beplanning stand hou nie, nog minder kan geweld iets teen Hom vermag. Aan hierdie enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, kom toe eer en heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”

 

 

Baie welkom by ons erediens gelei deur ds. Jaco Nel, ons orreliste Komien van der Westhuizen en al die ouderlinge en diakens van NG Kerk Koringberg. Uit die voorportaal is ’n deur na die moederskamer en daar is toiletgeriewe in die Annex. Ons wens almal ’n geseënde rusdag toe.

 

 

DEURKOLLEKTE

26 Mei:            VBO Bedieningsontwikkeling

 

KENNISGEWINGS

29 Mei             Sluiting van die Sinode van Dordt 400 jaar gelede

30 Mei             Hemelvaart erediens 18:30

02 Junie           Ds. Roy en Chrissie Thorne uitstuur diens

2-6 Junie         Pinkster byeenkomste om 18:30

09 Junie           Pinkstersondag met Nagmaal (Ds. Wium)

14 Junie           Skole sluit

07-17 Junie     Ds. Nel is met verlof

 

Ons verwelkom graag die volgende lidmate wat by ons aangesluit het: Johan Lubbe, Juanita Lubbe, Conrad Lubbe, Marlene Lane, Marli Pretorius, Pieter Aucamp, Ennerien Aucamp, Gerhard du Toit, Bianca Oberholster, Richard en Stella Parsons; Miriam du Plessis, Carmen Josias, Shaden-Calro Josias, Cahlen Miriam  Josias, Keeno Baron Esau en Skyler Amber Mossick.

 

VOORBIDDING EN VERJAARSDAE

Ons dink in ons gebede aan almal wat siek is, in hospitale of tuis aansterk ná operasies of behandeling, ons bid ook vir ons gemeenskap en land: Planttyd, Pinkster, Ds. Roy en Chrissie Thorne met hul uitruik na Mosambiek in Junie, Francois Kellerman. Baie geluk aan Pieter en Ennerien Aucamp met die doop van hulle seun vanoggend.

Verjaarsdae:  Jacoba Smit                 27 Mei

Mirrie Albertyn           30 Mei

Jacobus du Toit           1 Junie

 

GEMEENTEBEDIENING

Kategese: Net na die kindermoment.

Biduur: Woensdag om 09:00, Kasteelstraat 69.

WhatsApp: Om deel van die gemeente se WhatsApp groep te wees of iets daarop te plaas kontak asseblief die kerkkantoor (sien onder)

Teebeurte: Almal wat bereid is om tee te maak en te bedien na die diens kan asb. vir Karin Theron kontak (082 578 2294). Vele hande maak ligte werk.

Uitreik: Ds. Roy Thorne en gesin gaan in Junie vanjaar die sendelinge in Noord Mosambiek besoek en bedien. Ondersteun hulle gerus deur voorbidding. Bydraes vir die uitreik kan direk in die gemeente se bankrekening betaal word met verwysing: uitreik.

 

BARMHARTIGHEID

Sopkombuis: Weeklikse sopkombuis vir jong kinders in gemeenskap. Skenkings is altyd welkom, kontak vir Hester Truter in die verband (082 436 8987)

Kosbank: Kospakkies vir behoeftiges in ons gemeenskap. Kontak vir Andrea Truter vir enige navrae (082 328 1089) hieroor.

Klerebank: Ons benodig klere, skoene en komberse om onder behoeftiges te versprei. Kontak vir Bregda Mostert (083 597 0091)

Dagsorg & SmartStart: Ons vroeë kinderontwikkeling projek. Kontak vir Karisa Nel vir navrae (076 522 7767)

ACVV: Die senior burger koringklub fokus op senior burgers in ons gemeenskap. Kontak asb. vir Lize Steyn (082 263 9434 ).

Nal’ibali: Ons leesprojek by die plaaslike laerskool. Kontak vir Lize-Maré le Roux kontak (061 109 9336) vir navrae.

Kommentaar