Goeie Vrydag 2019

Die geheim van die evangelie (4). Nahum 1, Dordtse leerreëls 2:1-4

’n Jaloerse God en ’n wreker is die Here, ’n wreker is die Here en vol grimmigheid, ’n wreker is die Here vir sy teëstanders en Hy behou die toorn teen sy vyande.

Gemeente dit is hoe God Homself openbaar in die boek Nahum: as ’n wreker, een wat straf en oordeel. Ja, dit is miskien nie die voorstelling wat ons van God het vandag nie. Ons lê baie klem op God se liefde, dit is vir ons bekende taal. En tog getuig Nahum nie minder as drie keer in een vers daaroor dat God ’n wreker is wat die wraak, of woede of in Bybelse taal, die toorn teen Sy vyande behou. God vernietig Sy vyande en nooit laat Hy die sonde ongestraf nie. Ons is sondaars in die hande van ’n woedende God het die bekende nieu-Engelandse prediker Jonathan Edwards gesê in sy bekende preek in 1741. Ook die Hebreërs-skrywer herinner dat dit verskriklik is om in die hande van die lewende God te val. Miskien sê jy dit nie hardop nie, maar jy wonder by jouself: hoe kan dit so wees?

Gemeente ken jy ook die Here as wreker? Dit is ’n vraag wat ons nie vanoggend kan ignoreer op goeie Vrydag nie – dit is immers ’n herdenking vir ons van die dag waar God sy wraak oor ons sonde op Sy Seun neergestort het.  Om te verstaan wat genade is, om te verstaan wat by die kruis gebeur het, moet ons die Here as wreker leer ken.

Want wie Gods liefde buite sy oordeel om verkondig, verkondig nie die God van die Bybel nie, en ook nie sy redding in sy Seun nie. Volgens die Bybel is dit onmoontlik om van Gods liefde en die kruis te praat sonder om Gods toorn te noem. Wie van die kruis praat, moet ook sê dat Jesus Christus dáár die toorn van God oor die sonde gedra het, soos trouens deur sy hele lewe wat één lyding was. Wie die mens ook al mag gewees het wat eerste op die gedagte gekom het om dié vreeslike Vrydag waarop Christus aan die kruis gesterwe het, “Goeie Vrydag” te noem, dit moet iemand gewees het wat iets begryp het van die geweldige dinge wat om en oor en onder daardie kruis van Christus plaasgevind het.

Ek wil hierdie dinge saam met julle oordink vanoggend uit Nahum hoofstuk 1. En ek wil dit doen aan die hand van die Dortse leerreëls se artikels waarmee ons voortgaan vanoggend, wat bely dat God nie alleen in die hoogste mate barmhartig is nie, maar ook in die hoogste mate regverdig. Voor ons daarby kom, eers ’n paar inleidende opmerkings oor ons teks.

  • Eksegese

Gemeente, die jaar was ongeveer 650 v.C. toe Nahum geprofeteer het. Ons is nie presies seker daaroor nie, dit kon bietjie vroeër of later gewees het. Die Assiriërs het regeer oor God se volk. Die Assiriese Ryk was op die toppunt van sy mag. Egipte was selfs verower in 671 v.C. Maar dinge het vinnig begin agteruitgaan. Die land was van alle kante af deur vyande omring. In 645 v.C. het Egipte daarin geslaag om die Assiriese juk af te gooi. Die doodsklok het vir Assirië begin lui.

Oor die presiese datum van Nahum se profesie is ons nie so seker nie, maar wat wel seker is, is dat God ’n boodskap vir sy volk gestuur het. God het vir Nahum geroep het om die Woord van die Here aan die Assiriërs te bring. En in daardie oordeel ook ’n Woord vir Sy volk wat onder die juk van Assirië gebuk gegaan het. Die naam Nahum beteken troos. Daardie troos waarvan ons verlede Sondag gehoor het. Die Here bring ’n Woord van troos vir sy volk in die midde van benoudheid.

In die 8ste eeu v.C. het die profeet Jona na Nineve gegaan om ‘n oordeel oor hulle aan te kondig. Die Nineviete het hulle bekeer en God het hulle gespaar. Julle onthou daardie verhaal. Meer as ‘n eeu later het Nahum ook die oordeel van God uitgespreek oor die bose stad Nineve. Die keer was daar geen vas of as nie, en Nineve was nie gespaar nie. Nineve was die hoofstad van die Assiriese ryk, meer nog dit was die magtigste en grootste stad van die destydse bekende wêreld.

Dit is belangrik om te sien dat dit God self is wat die oordeel bring oor Assirië. Godspraak oor Nineve – so lees ons teks. Gemeente dit is ’n geweldige gewig waarmee die boek hier begin. “Godspraak”. Nahum ontvang hier nie net ‘n terloopse opmerking nie, nee dit is ‘n juk wat die profeet se hele lewe en roeping in beslag neem. En in hierdie Godspraak van God se wraak en oordeel oor Assirië hoor ons twee dinge: eerstens hoor ons dat God in die hoogste mate barmhartig is en tweedens dat Hy ook in die hoogste mate regverdig is.

  1. God is barmhartig

Ons lees in vers 7: Die Here is goed, ’n toevlug in die dag van benoudheid en Hy ken die wat by Hom skuil.

Gemeente, ons kan maar net die nuus aansit om benoudheid te sien, veral die benoudheid wat meegebring word deur sogenaamde natuurlike rampe. Ons kan dink aan die orkaan wat onlangs Mosambiek, Malawi en Zimbabwe getref het. Nahum sê (lees vers 5 tot 6). Maar daaroor was niks in die media berig nie – niks is gesê oor God se beheer oor die natuur of Sy wraak of gramskap nie. Het jy al jouself gevra: wie kan standhou voor sy grimmigheid? Wie sal bestand wees teen die gloed van Sy toorn?

Gemeente in sulke tye, waarin ons die voetstappe van die Here se koms hoor, waar skuil jy? Waar sal jy en jou kinders en jou kleinkinders jou toevlug neem tydens ’n oorstroming, ’n aardbewing, miskien kan ons sê ’n droogte, die ken ons tog goed? Nahum sê: Die Here is goed, ’n toevlug in die dag van benoudheid en Hy ken die wat by Hom skuil. Waar is jou toevlug in tye van benoudheid? Wat is jou hoop wanneer jou lewe ineenstort? In wie is jou vertroue?

Wees daarvan oortuig dat daar by die Here vir jou ’n toevlug is, in daardie dag van benoudheid sal daar skuiling wees vir die wat op die Here vertrou. Want die Here is goed. Hy is ’n God van liefde, daaroor moet ons nie twyfel nie. Die Here is nie genadeloos, wreed en sonder ontferming nie. Inteendeel, Hy verklaar self dat Hy genadig en barmhartig is, lankmoedig en vol goedheid! (Ek’s 34:6).

Maar wanneer jy werklik God in sy liefde aanskou en beleef, dan loop jy jouself vas teen die skande en struikelblok van die Christelike evangelie: die kruis. Daar sien jy die liefdevolle God, wat al sy wraak en woede op Sy enigste Seun uitstort ter wille van ons. Die God wat Sy enigste Seun verlate en kaal aan ’n kruis laat. Hoe versoen mens dan dit alles met ’n liefdevolle God?

Dit neem ons oor tot ons tweede opmerking vanoggend:

  1. God is regverdig

Die Here is lankmoedig, maar groot van krag en nooit laat die Here ongestraf bly nie…met ’n oorstromende vloed maak Hy ’n einde aan die plek van die stad en sy vyande vervolg Hy die duisternis in.

Gemeente, die feit dat die Here barmhartig, lankmoedig en goed is, is nie rede om te dink dat Hy nie die sondaar sal straf nie. Dit is wat die geskiedenis van Nineve ons leer. Tussen die profesie van Jona en Nahum was 100 jaar. ’n Tyd van genade, van lankmoedigheid. Maar na Nahum se profesie hoor ons nooit weer van Assirië nie. Weggevee van die aarde af deur God se oordeel. In 612 v.C. het Assirië se ondergang ’n werklikheid geword. Toe is Nineve ingeneem en enkele jare later het die ryk wat sedert 745 v.C. die magtige heerser oor die destydse wêreld was, sy doodslag ontvang.

God is barmhartig, daaraan moet ons nie vir ’n oomblik twyfel nie – Hy wil vergewe, maar Hy is ook regverdig – Hy moet die betaling eis van wat gebreek is .Die Here is ’n wreker en Hy behou die toorn teen Sy vyande. . Ons moet ook verstaan dat God se toorn ’n heilige toorn is wat niks te make het met sondige gesindhede by Hom nie. Sy toorn ontbrand oor die kwaad, die sonde, die vertrapping van die reg, die afwyking van sy wet. Ja, sy geregtigheid – getuig die Dortse vaders – eis dat ons sondes wat teen sy oneindige majesteit begaan is, nie alleen met tydelike nie, maar ook met ewige strawwe na siel en na liggaam gestraf moet word. Ons kan aan hierdie strawwe nie ontkom nie, tensy aan die geregtigheid van God voldoen word. Ons self kan geen voldoening gee om ons van die toorn van God te bevry nie. Daarom het God uit oneindige barmhartigheid sy eniggebore Seun as borg aan ons gegee. Die Seun het vir ons, of in ons plek, sonde en vervloeking aan die kruis geword om vir ons te voldoen.

Wie dus sê God is liefde, mag dit nie doen sonder om te wys op die kruis nie. Maar wie op die kruis wys, moet ook spreek van die toorn van God oor die sonde wat daar geopenbaar word. En Wie oor Gods toorn spreek, moet ook sê, dat dit is omdat God heilig is. En wie sê dat God heilig is, moet ook sê wat dit beteken dat Gods heiligheid die sonde nie kan duld nie. Daarom moet ’n mens óók kan sê wat sonde is. Sonde in sy diepste karakter as opstand teen God moet blootgelê word. Sonde is vyandskap teen God. Sonde is rebellie. Sonde bestaan daarin dat die skepsel probeer om die grens tussen God en hom uit te wis en self God te wees. Wie dus oor die sonde praat en God se vergifnis daarvan, sal dit moot sien in sy diepe verbondenheid met die leer aangaande God. Sonde is meer as morele mislukking. Sonde is nog erger as dit. Sonde is nie ‘n “nog dikwels swak wees” nie. Sonde is nie ‘n bietjie toegee aan die kwade in ‘n swak oomblik nie. Sonde is die gevalle skepsel in die mens wat in sy wese van God so afgewend is dat hy die heerskappy begeer en dit nie aan God gun nie. Nie eers begeerlikheid is sonde nie. Die hele struktuur van die mens waaruit die begeerlikheid voortkom, dit is sonde. Of soos die leerreëls getuig: ons is totaal sondig – totaal verdorwe in ons hele natuur.

Oorweeg dit dan asseblief vanoggend dat daar geen hoop vir enige verlossing is sonder dat daar aan God se geregtigheid voldoen word nie, dit is, deur die straf te verduur van jou sonde – die ewige straf na liggaam en siel. God se genade is nie goedkoop nie. Hier is nie sprake van die vergifnis van sondes sonder die betaling daarvan nie. Die geregtigheid van God eis dat die sondaar gestraf word. Tog hoor ons die goeie nuus dat Christus die sonde wat teen die uitverkorenes se rekening geskryf was uitgedelg en teen die kruis vasgenael het. Op daardie dag van Jesus se benoudheid het Hy uitgeroep na Sy Toevlug, na die Vader, maar daar was geen toevlug in Sy benoudheid nie, sodat ons ’n toevlug kan hê: Hy het uitgeroep “My God, my God, waarom het U my verlaat, sodat ons nooit van God verlate mag wees nie.”

Hierdie dood van die Seun van God – bely die Dortse leerreëls – is die enigste en volmaakte offer en voldoening vir die sondes. Sy dood is van oneindige krag en waarde, oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen.

Gemeente as jy jou eie sonde ken, sal jy nou die man verstaan wat daardie Vrydag nie onvernoemd verby kon laat gaan nie. As jy deur die geloof Christus omhels het, as jy die vergifnis van jou sonde gesmaak het, as jy die vloek sien wyk het, sal jy verstaan. En jy sal saam met almal wat Hom liefhet, sê: Daardie Vrydag was ’n Goeie Vrydag!

Amen

Kommentaar