Paassondag 2019

Die KoringaarNG Kerk & VG Kerk Koringberg gesmentlike diens

Paassondag: 21 April 2019

Teks: Psalm 2: Jesus is die Heer

Alhoewel ons nie hier in Suid-Afrika konings het of wil hê nie, het ons in onderbewussyn ‘n verlange na konings of ons nou dit wil hê of nie. Ons weet almal wat ‘n ware koning is, ‘n ideale koning, ‘n kenmerkende koning. Iets in ons verlang om Hom ons lojaliteit en getrouheid en diens en gehoorsaamheid te gee. Daar is verlange na so ‘n Koning, na een wat sal terugkeer. Daar bly in koningskap ‘n blywende betekenis van die onafwendbare, iets diep ingebrand in ons siele, iets wat ons vertel dat die wêreld slegs voorspoedig sal wees wanneer dit regeer word deur die ware Koning. Ons word aangetrek deur hierdie groeiende, onvoldane verlange na die dag wanneer die ware Koning sal terugkeer.

Psalm 2 maak by ons weer daardie verlange wakker na ‘n ware Koning, dit bring ons in die heiligdom in, weg van die gewoel van die nasies en alles wat rondom ons aangaan, en lei ons in gemeenskap met God in. Daarom wil ek met die hulp van die Here Sy Woord saam julle oordink vanoggend op Paassondag uit Psalm 2 wat praat oor Jesus Christus as die Soewereine Koning.

Die Psalm sê vir ons drie dinge gemeente: Die middel deel vanaf verse 4-6 vertel ons dat ons ‘n ware Koning het. Tweedens vertel verse 1-3 dat mense die Koning haat. Dan verse 10, 11 en 12 is prakties sodat ons kan sien alhoewel ons ‘n Koning het en ons die Koning haat, ons ook die Koning benodig.

  1. Ons het ‘n Koning

God sê, hier is al die konings rondom, maar daar is ‘n Koning bo die konings, daar is ‘n Koning agter die konings daar is ‘n Koning onder al die konings. Daar is my Koning, die ware Koning wat ek gesalf het oor Sion. Hoeveel van al ons verhale en legendes begin nie so nie: eendag was daar ‘n groot koning, wat geheers het met wysheid en mag en geregtigheid en sagmoedigheid. En toe die koning daar was, was daar voorspoed in die land, maar die koning is nou weg en alles het verval, alles lê in stukke, maar ons wag op die dag wanneer die koning sal terugkeer. Hoeveel stories is daar nie wat so is nie? Dit lê agter al die legendes: daar was ‘n groot koning en toe hy hier was, was alles goed, maar nou is hy weg, en ons wag op die dag wanneer hy sal terugkom.

Waarom al die verhale oor konings, wanneer al die verhale van werklike aardes konings en regeerders so pateties is? Die werklike verhale, ook nog van vandag se regeerders, is niks anders as die van tirannie, tragedie, en korrupsie nie. Kyk maar net hoe gaan dit in ons regering. Amper elke monargie is omvêrgegooi en ‘n soort demokrasie is in sy plek gestel. En tog ten spyte hiervan, waarom hierdie fasinering met konings? Waarom het die ou legendes so ‘n kragtige impak op ons? Waarom is dit so dat in die lande wat steeds koninklikes het (soos Brittanje), die mense obsessief oor hulle is? Waarom is dit so dat in lande soos Suid-Afrika waar ons nie koninklikes het nie, ons hulle moet skep? So ons vat rykes, en sport sterre en televisie persoonlikhede en ons verander hulle in konings. Ons kroon hulle, ons hou raad oor hulle, ons aanbid hulle. Waarom is daar so ‘n groot aantal mense wat hulle self oorgee aan dinamiese charismatiese kerklike leiers wat hulle misbruik? Waarom hierdie behoefte vir konings? Waarom hierdie behoefte om regeer te word?

Wel die rede waarom ons konings aanbid en hulle skep, is omdat daar ‘n herinnering in die mens is, in jou en my, van ‘n groot Koning, ‘n Koning uit die voortyd, een wat geheers het met soveel krag en wysheid en deernis en geregtigheid en heerlikheid, sodat Sy krag en wysheid en deernis en heerlikheid was soos die son wat skyn in al sy krag. Ons weet ons was gebou om onderwerp te wees aan daardie koning, om voor Hom te staan en te bewonder en te dien, en die Koning te ken.

Die verhaal van die Seun van God, wat mens word, wat sondeloos in ons gebroke wêreld leef, homself opoffer om ons te red van God se wraak op Goeie Vrydag, en wat weer oorwinnende uit die dood opstaan op Paasfees as die Lewende Here van die heelal – dit is die werklike storie waarvoor God die mens gemaak het en die Storie waaruit ale goeie stories hulle krag put.

Vandag, word konings egter meestal verklein tot sinlose vermaak, of as glanspersoonlikhede in tydskrifte soos die Huisgenoot. Maar die Bybel sê daar is ‘n Koning bo die konings. Daar is ‘n Koning agter die konings. Daar is ‘n Koning onder al daardie legendes. Daar is My Koning wat ek gesalf het oor Sion. Selfs die grootste konings en legendes is net dowwe afbeeldings van die geheue spoor in ons. Gesalfde is net die Afrikaanse vertaling van die Hebreeuse woord Messias, of die Grieks, Christus. Konings was gesalf in die Ou Testament om hulle te bevestig. En die Here sê ek het my Koning oor Sion gesalf. En Jesus self sê na Sy opstanding dat aan Hom is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.

En sê die Bybel as jy die ware Koning verwerp sal jy ‘n koning vind, want jy moet. Jy sal ‘n koning vind, ‘n ridder op ‘n wit perd, ‘n verlosser. Dit is deel van jou wese. Jy benodig koning, en as jy nie die ware koning vind nie gaan jy ‘n valse koning skep. En daarin lê die probleem: op die ou end sal nie een van ons konings voldoende wees nie. Nie een van ons helde sal werklik in ons behoeftes voorsien nie. Hoop en teleurstelling is verweef in ons konings. Al ons konings sal verkeerd gaan op een of ander manier. Te dikwels, word ons konings selfsugtig. En selfs die mees onselfsugtige van ons konings sal sterf. Daar is geen permanente regeerders nie. Daar is geen blywende koninkryke nie. Die enigste permanente en blywende, inderdaad ewige koninkryk, is die van Christus Jesus.

Maar daar bly ‘n sterk verlange in ons. Na die dag wanneer alles reg sal wees, waar ons regeer sal word deur die Perfekte Koning. Ons is gemaak deur ‘n Koning, en ons is gemaak om deur Hom regeer te word. En wanneer die regte koning regeer, sal voorspoed weer oor die land heers. Die Bybelse profete het dit verstaan, daarom sê Jesaja (60:18-22 lees): Voel jy ook daardie verlange in jou binneste na so ’n regeerder? Na ’n tyd en plek waar alles net reg sal wees? Dit is die goeie nuus wat ons vanoggend moet hoor, dat daar wel so ’n Regeerder is, dat daar wel ’n Koning is wat die dood oorwin het.  Dit waaroor die profete duisende jare terug geprofeteer het, waarvoor mense al duisende jare na verlang is besig om in vervulling te gaan. God se plan met die wêreld kom tot volmaaktheid. Die legendes word oorskadu, die lank verlore Koning uit die voortyd, ontluik om sy regmatige plek in te neem. Die profeet Miga het dit reeds 1300 jaar gelede voorspel: (Lees Miga 5:1)

Miskien sê jy, maar as ek so na die wêreld kyk, selfs na die kerk, dan lyk dit nie of dit regeer word deur so ’n groot Koning soos wat jy beskryf nie.

Wel, dit is ons volgende punt, ons het wel ’n koning, maar ons haat die koning.

  1. Ons haat die Koning

Verse 1-3 leer ons dat die hart van die mens haat die ware Koning. Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en sy Gesalfde. Waarom is die nasies so ontsteld gemeente? Waarom hou hulle raad teen die Here en sy Gesalfde, Sy Messias, Sy Christus. Wel die konings van die aarde is ontsteld omdat hulle ‘n eienaar het. Die bande en toue wat afgewerp word hier, herinner aan ‘n harnas wat jy op jou perd sit, of letterlik sal ons hier dit vertaal as ‘n juk, wat jy op jou osse sit. Die idee hier is daar is iemand wat hulle besit, daar is iemand wat eis dat hulle gejuk word, iemand wat aandring dat Hy ‘n reg oor hulle het. En dit is daarmee wat hulle niks te doen wil hê nie. Ek wil my eie wees. Dit is die basiese oortuiging van elke menslike hart. Haal die juk af! Ek behoort aan niemand behalwe myself nie! “I am the master of my fate, I am the captain of my soul.” Daarom haat ons die idee van ‘n koning, van iemand wat ‘n reg oor ons het. Iemand wat ons juk.

Die Bybel leer dat mense nie net nie in God glo nie, nee, ons haat Hom. Hy het gekom, die ware Koning, God self, en Hy was geslaan, gespot, gemartel, gekruisig. Hoekom? Haal hierdie juk van my nek af, ruk dit stukkend en werp dit af! Ja, miskien dink jy dit is lawwigheid. Die gewone mens haat tog nie God nie, hy hou nie raad teen Hom nie. Maar so ‘n siening is nie heeltemal eerlik nie. Julle sien mense is nie vyandig teenoor die konsep van God, of die idee van God nie, nee, mense haat die Bybelse God. Sien, dit is die Bybelse God wat donder vanaf die berg Sinai en sê: “Wees heilig want ek is heilig; jy mag geen gode voor my aangesig hê nie.” Dit is die God wat sê Ek sal op geen manier die skuldiges vryspreek nie. Ek is die Een wat ‘n juk op jou sit en sê ek besit jou, Ek is jou skepper, jy behoort aan My. Dit is die God wat die profeet Nahum sê “is ’n Jaloerse God en ‘n wreker.” Die God wat “sy stem verhef en die aarde bewe.” Die God wat onverdeelde trou eis, “wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders tot in die derde en vierde geslag.

Wel dink jy by jouself, ek glo net in ‘n God van liefde. Nie ’n God wat homself oor sonde wreek nie. Nie ‘n God wat my verantwoordbaar hou nie. Nie ’n God wat se juk oor my is nie. Wel wat kan ek meer sê gemeente, veral na Goeie Vrydag se boodskap? Ons haat die God wat Koning is. Wat die nasies as erfdeel het, wat ons onder sy juk plaas. En ons verstaan nog nie dat Gods liefde nie maar net ’n onskadelik goedheid is wat at maar alles duld en verdra nie, maar dat God Koning is en ons in lede is van ’n koninkryk met bepaalde wette wat deur Hom alleen regeer word.

Wat het met Christus se sterwe en opstanding gebeur? Christus Jesus het getriomfeer. Hy het die heerskappy van die hele skepping finaal oorgeneem. Hy is in beheer. Hy is die Heer. Hy het al die magte op hulle plek gesit.

Ons het ‘n Koning en ons haat die Koning…so wat maak dit saak? Wel laastens ons benodig die Koning.

  1. Ons benodig die Koning

Soen die Koning, vrees die Koning, juig in die Koning. Maar, daar is geen middelposisie nie. Jy kan of vrees en juig en jy sal ‘n skuiling in Hom vind en geseën word, of jy sal dit nie doen nie en op jou weg vergaan. Dit is ‘n geweldige stelling: want wat dit sê is daar is geen skuiling van die Koning nie, slegs skuiling in die Koning. Sien, geen tussenin: jy kan of God dien of hom haat. Soen was ’n manier om eerbied aan iemand te betoon, daarom lees ons dat toe Samuel vir Saul as koning gesalf het, het hy hom ook gesoen – hy eerbiedig hom.

Jy benodig die Koning. Daardie juk word later ruimte, daardie vrees word vryheid. Jy benodig daardie juk, dit is al hoe jy gaan vryheid kry. Hoe word jy ‘n goeie rugbyspeler, of atleet of bemeester jy viool of ballet? Wel jy oefen hard, van die oggend tot die aand hard aan die oefen, party dae wil jy oefen, ander dae wil jy nie. Jy stel jouself onder die juk van die oefening. En soos tyd aanstap word die juk later ‘n skuiling, jy sien? Jy word ‘n beter speler, jy ontwikkel. Iets wat nooit kon gebeur het as jy nie deur die juk van oefening gegaan het nie. Die juk word vryheid.

En so gaan dit ook met ons onder die juk van die Koning. Om nie meer in beheer van jou eie lewe te wees nie. Jy kan nie jouself verstaan tensy jy sien dat jy gedring word deur hierdie behoefte aan ‘n Koning nie. Totdat jy jouself aan die Koning onderwerp het sal jy vergaan op jou weg. En so vind ons onsself vasgevang. Ons wil nie konings hê nie, maar ons moderne minagting om deur hulle regeer te word, vee nie hierdie verlange in ons uit nie. Soveel as wat ons moderne, koning-verwerplike, onafhanklikes, die gedagte  mag verwerp, weet ons eintlik ons is gemaak om geheers te word, gemaak om regeer te word, deur ‘n perfekte, regverdige Koning. ‘n Koning waardig van al ons gehoorsaamheid en diens, wat uiteindelik sal regeer in volmaakte vrede.

Kom ons wees prakties en ek sluit daarmee af, hoe behandel mens Jesus as Koning?

Eerstens wees gehoorsaam. Sy juk is sag en sy las is lig. Jou lewe onder die juk is eenvoudig, jy moet maar net doen wat jou Koning jou beveel. Want Jesus is nie net ons konsultant nie. Hy eis gehoorsaamheid. Nie ek sal gehoorsaam wees as ek daarvan hou, of as dit my pas of as ek so voel nie. Jy behandel Hom dan glad nie as Koning nie, maar as konsultant. Dan gee Hy voorstelle en jy besluit. As Christus dan werklik die opgestane Heer is, dan mag ons naas Christus geen ander mag as heer erken nie, geen ander gode meer hê nie. Die ou gereformeerde vader Kuper het gesê dat oor elke duimbreedte van die aarde moet Christus se heerskappy verkondig word – oor elke duimbreedte sê Christus – Myne. En hy bedoel die ekonomie, wetenskap, kuns, letterkunde, politiek, die boerdery. Oral geen ander Heer. Ons mag nie maar sê: ag die sake is te magtig nie. Nee, ons kan dit weerstaan, want Christus is Koning, Hy is die Heer.

Dus gehoorsaamheid, en tweedens moet jy moet Sy alleen Heerskappy kan aanvaar. Kom ons wees nou eerlik vanoggend. Watter magte vrees jy soms regeer die wêreld en oor jou lewe? Waaroor lê jy wakker en is jy besorg? Die noodlot, of siekte, gevare, armoede, die ouderdom, die reën wat moet val vir die goeie oes? Of is dit jou ongelukkig huwelik waaraan jy niks kan doen nie? Of jou kinders wat ’n verkeerde koers ingeslaan het? Waaroor is jy moedeloos? Omdat jy net soms die gevoel kry dat die dinge te magtig is, dat dit die laaste sê het, dat daar niks te doen of te verander is nie? Of wat die groter wêreld betref – is dit dalk die ideologieë, die politiek, die onreg hier in ons land. Wat ontstel jou die meeste? Psalm 2 sê: nee wat! Al hierdie goed is nie in beheer nie. Christus is die Heer, ook oor dit alles. Hierdie goed kan woel en tekere gaan, maar Christus is gesalf oor Sion.

Dus gehoorsaamheid en aanvaarding en derdens afhanklikheid. As jy enige iets byvoeg as ‘n vereiste om gelukkig te wees, is dit jou ware Koning, ‘n nagemaakte koning. Ek sal gelukkig wees as dit en dit en dit gebeur, as ek genoeg geld het, of vriende of status. En as jou lewe nie uitwerk soos jy wil nie gooi jy alles oorboord, sommer ook jou geloof. Wat beteken dit om die Koning te soen? Dit is om Hom te aanbid omdat jy oorweldig is deur sy skoonheid. Daar is niks wat ek meer liefhet as my Koning nie. My Koning is nie ‘n middel tot ‘n doel nie, Sy liefde is genoeg opsig self. Hy is my enigste troos in lewe en in sterwe.

Gehoorsaamheid, aanvaarding, afhanklikheid en laastens verwagting: “Juig met bewing.” As jy te pessimisties is oor wat Hy kan doen in jou lewe, behandel jy Hom nie as ‘n Koning nie. Jy moet die verwagtinge hê wat ‘n Koning waardig is. Behandel jy Hom soos ‘n Koning? Of kyk jy na die probleme in jou lewe en sê, ag niks gaan ooit verander nie. Dan behandel jy hom nie as ‘n Koning nie. Dan glo en weet jy nog nie Christus is die opgestane Here nie.

Kan jy Hom dien, kan jy gehoorsaam wees, kan jy hom soen, kan jy juig met bewing? Daar is geen skuiling van Hom nie, maar daar is ‘n geweldige skuiling in Hom. Gelukkig is almal wat by Hom skuil.

Amen

 

 

Baie welkom by ons erediens gelei deur ds. Jaco Nel, ons orreliste Marie van der Merwe en al die ouderlinge en diakens van NG Kerk & VG Kerk Koringberg. Uit die voorportaal is ’n deur na die moederskamer en daar is toiletgeriewe in die Annex. Ons wens almal ’n geseënde rusdag toe.

 

 

DEURKOLLEKTE

 

21 April: Plaaslik – VG Kerk Koringberg

 

BELANGRIKE DATUMS

 

13-17 Mei       NG Wes-Kaapland Sinode sitting

30 Mei             Hemelvaart erediens 18:30

2-6 Junie         Pinkster byeenkomste om 18:30

09 Junie           Pinkstersondag met Nagmaal

14 Junie           Skole sluit

 

Dit is tydens die kwartaal wat die diakens die jaarlikse kollekte kom doen, indien niemand by jou aankom nie kontak gerus die kerkkantoor van waar dit gereël sal word.

 

VOORBIDDING EN VERJAARSDAE

 

Ons dink in ons gebede aan almal wat siek is, in hospitale of tuis aansterk ná operasies of behandeling, ons bid ook vir ons gemeenskap en land: Algemene verkiesing (08 Mei); planttyd.

 

Verjaarsdae:  Marinda Steyn                          21/4

Christiaan Hanekom               22/4

Gesie Smit                               23/4

Rian Carstens                          24/4

Floris du Toit                          24/4

Keenan Komail

Hannetjie Swarts

 

GEMEENTEBEDIENING

 

Kategese: Net na die kindermoment.

Biduur: Woensdae om 09:00, Kasteelstraat 69.

WhatsApp: Om deel van die gemeente se WhatsApp groep te wees of iets daarop te plaas kontak asseblief die kerkkantoor (sien onder)

Teebeurte: Almal wat bereid is om tee te maak en te bedien na die diens kan asb. vir Karin Theron kontak (082 578 2294). Vele hande maak ligte werk!

 

BARMHARTIGHEID

Sopkombuis: Weeklikse sopkombuis vir jong kinders in gemeenskap. Skenkings is altyd welkom, kontak vir Hester Truter in die verband (082 436 8987)

Kosbank: Kospakkies vir behoeftiges in ons gemeenskap. Kontak vir Andrea Truter vir enige navrae (082 328 1089) hieroor.

Klerebank: Ons benodig klere, skoene en komberse om onder behoeftiges te versprei. Kontak vir Bregda Mostert (083 597 0091)

Dagsorg & SmartStart: Ons vroeë kinderontwikkeling projek. Kontak vir Karisa Nel vir navrae (076 522 7767)

ACVV: Die senior burger koringklub fokus op senior burgers in ons gemeenskap. Kontak asb. vir Lize Steyn (082 263 9434 ).

Nal’ibali: Ons leesprojek by die plaaslike laerskool. Kontak vir Lize-Maré le Roux kontak (061 109 9336) vir navrae.

 

Ps. 2: Stryd en oorwinning van die Messías.

1 WAAROM woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? 2Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sê: 3Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! 4Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. 5Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: 6Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. 7Ek wil vertel van die besluit: Die Here het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. 8Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. 9U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot. 10Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! 11Dien die Here met vrees, en juig met bewing. 12Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!

 

 

Kommentaar