Die sentraliteit van die evangelie (3): Galasiërs 2: 11-21

Om te memoriseer: Galasiërs 2:20

ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.

Die Woord:

19 Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, 20 en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. 21 Ek verwerp nie die genade van God nie. As ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.

Oordenking:

In ons gejaag is dit maklik om vlugtig die Woord deur te lees eerder as om dit in te neem. Maar tog glo ons hierdie is die geïnspireerde Woord van God. Neem ‘n oomblik om stil te staan, dank God vir die Skrif en vra Hom om met jou deur hulle te praat vandag.

Christus se doel om ’n nuwe tipe mensdom te skep beteken dat elkeen van ons verander moet word tot in die diepste wese van ons gedagtes en gedrag. Paulus beskryf dit as ’n totale herbedrading van ons gemoed. Sien Romeine 12:1-2

Dit verg die dood van ons ou self aan die kruis deur Christus om ruimte te skep vir die opstanding van ons nuwe self deur sy krag/ Sien 1 Korintiërs 2:14, 16b.

Toe Jesus vir sy dissipels op daardie laaste nag vertel het dat hy hulle gaan verlaat, het hy hulle met ’n belofte gelaat. Hy gaan die Heilige Gees na sy mense stuur om God se heerlikheid te herstel in ’n donker wêreld.

’n Splinternuwe mensdom vir ’n splinternuwe wêreld.

Nadenke:

Jy het ’n rol om te speel in God se plan om sy mensdom te vernuwe. Ook jy skep kultuur elke dag in die manier waarop jy –  geld spandeer, sosiale media gebruik, die man op die straat behandel, met vriende omgaan en jou werk doen. Die vernuwing van die mensdom, ons land, ons gemeenskap en ons gemeente begin by jou.

Gebed:

Vir jou hart

Oordink wat jy in die wêreld als kan doen met Christus se gesindheid. Bid vir geleentheid.

Vir jou kerk

Bid dat jy elk van jou broers en susters mag sien met dieselfde heerlikheid wat Christus aan jou gegee het. Dank God vir die gawes wat hy skenk aan sy mense.

Vir ons gemeenskap

Bid dat die institusies in ons gemeenskap (besighede, munisipaliteite ens.) ook bedien sal word deur mense wie se gemoed deur die evangelie vernuwe is.

 

Kommentaar