17 November 2019

Teks: Ester 4

Gemeente ons het saamgelees: en so sal ek na die koning ingaan, wat nie volgens wet is nie en as ek omkom, dan kom ek om.

Dit is die besliste keuse van Ester wat voor die besluit gestel was: doen wat jy glo, of gehoorsaam die wet. Nou Ester het nie dadelik tot hierdie beslissing gekom nie. Ester is om hierdie stadium nog besluiteloos. Sy kan voortgaan om in weelde in die paleis te woon, of sy kan alles op die spel plaas ter wille van haar volk en daarmee tegelyk haar geloof.

Nou besluiteloosheid is ’n verskynsel wat by baie van ons voorkom. ’n Mens weet nie altyd wat om in moeilike situasies te doen nie. In die gewone klein dinge van die lewe is dit nie so moeilik om besluite te neem nie. Maar sodra jy voor die feite geplaas word om ’n besluit te neem wat vir jou hele lewe betekenis sal hê, word mens deur teenstrydighede gevang. Ester het ook nie juis lank gehad om oor hierdie belangrike besluit te wik en te weeg nie. Daar moes sekerlik ’n klomp besware in haar gemoed opgekom het: nie net kan sy alles verloor wat sy die afgelope 4 jaar leer ken het nie, maar haar eie lewe is hier op die spel.

Maar wat gee ’n mens nou eintlik om vir ontbering as jy eenmaal dit gevind het waarvoor jy wil lewe en desnoods ook wil sterwe. Is dit nie iets besonders nie gemeente as jy bereid is om alles prys te gee omdat jy iets gevind het wat oneindig waardevoller is nie. Miskien is dit iets om jouself af te vra vanoggend? Het jy al iet gevind waarvoor jy wil lewe en sterwe? Kom ons vra eers, wat het Ester gevind? Waaroor gaan dit hier? Dit gaan ten diepste oor identiteit: Ester moes vir haar self uitmaak: wie is sy, waarvoor lewe sy, wat maak ek op hierdie tyd en plek in die paleis van Persië? Mordegai maak haar ook daarop bedag: (lees vers 14).

Ester is ’n Jood. Ja, ’n Jood na ras, maar veral ’n Jood na geloof. Om ’n Jood te wees op hierdie stadium van die geskiedenis is om ’n gelowige te wees. Jood en geloof was verbind soos wat kerk en Christen vandag verbind is. Dis waarom dit hier gaan. Dit is waarvoor Ester bereid is om alles prys te gee, haar geloof. Ek vra weer, waarvoor lewe jy, waarvoor sal jy sterf? Om ’n Christen te wees is tog om te sê, te beleef, te ervaar: my lewe is Christus, sterwe is ’n wins. Ek lewe nie vir myself nie maar vir Hom wat vir my gesterf en opgewek is.

Ester het nie vir haarself gelewe nie en het daarom tot die volgende beslissing gekom (lees vers 16). Die besluiteloosheid was verby. Haar geloof het sy bo alles gestel. Om ’n gelowige te wees, om God te volg, vra soos Ester, ’n besliste keuse. En ek praat nie oor bekering nie. Ester was ’n gelowige, sy het in God geglo. Nee, dit gaan hier om die roeping tot dissipelskap.

Want die boek Ester vertel wel van gebeure wat baie lank gelede plaas gevind het, maar tog gebeure wat ons konfronteer met ’n fundamentele vraag oor ons roeping vandag. Hoe leef jy vandag as iemand wat glo in die Here, in ’n wêreld wat gans anders oor alles dink? Die volk van God was in die tyd waarvan ons lees hier, gekonfronteer met ’n Persiese regering wat hulle wou uitwis. Hulle wou hulle nie in die land hê nie. Die wet was verander sodat dit wettig is om Jode se besittings te neem en hulle dood te maak. Hoe moet Ester maak nou dat sy ’n Joodse en Persiese naam het? Sal sy voortgaan om in weelde te leef, of sal sy identifiseer met die nood van haar volk, met haar geloof? Ja, hierdie is ’n ou verhaal, maar die vrae staan nie so vêr verwyderd van ons konteks vandag nie.

Ester herinner ons dat die kerk ’n roeping het vir ons tyd en omstandighede. Ons het nodig om die evangelie juis nou so goed te verstaan en met woord en daad te vertolk dat ons getuienis juis in hierdie tyd gehoor kan word. Ons moet soos Karl Barth gesê het die Bybel in die een hand met die koerant in die ander hand lees. Ons mag ons nie losmaak van wat in die wêreld aan die gebeur is nie. So herinner Mordegai ook vir Ester terwyl sy veilig in die paleis woon terwyl haar volk vervolging in die gesig staan (lees 4:14).

Hoe leef ons dus vandag in ’n wêreld wat al meer vyandig teenoor die kerk is? ’n Afkeer van die kerk en die Christendom het ’n alledaagse verskynsel geword. Soos in die tyd van Ester word die kerk, die nuwe Israel, nie net gesien as absurd nie, maar as totaal immoreel.

Christene word nou nie vandag vervolg soos die Jode in Persië nie, ten minste nog nie, maar soos die Jode in Persië voor die keuse gestel is om die knie te buig of die gevolge te dra, so staan moderne Christene vandag al meer voor hierdie keuse: dissiplineer jou kinders of gaan tronk toe; gee hulle ’n Christelike onderrig op skool, of word aangekla vir diskriminasie; laat jou kinders toe om self hulle geslag te kies, of laat jou kinders van jou af weggevat word; ondersteun homoseksuele huwelike, of laat jou besigheid geboikot word en sy deure gesluit word. Nou miskien is ons nog nie heeltemal daar nie, maar ons is soos die Engelse sê: “too close for comfort.” As wat in Europa en Amerika aan die gebeur is enige aanduiding is, sal hierdie golwe ons ook nog sterker tref.

Reeds in 2017 het die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie die saak in ons hof gewen teen die Christelike godsdiensbeleid van skole. Die onlangse hofuitspraak wat ouers verbied om hulle kinders pak slae te gee is miskien varser in ons geheue. Ook die NG Kerk se eie hofsaak waar die hof die kerk se besluite oor homoseksualiteit nie net tersyde gestel het nie, maar ook bygesê het dat die kerk voortaan nie teen hulle mag diskrimineer nie is nog vir ons welbekend.

Ons situasie uit ’n geloofsoogpunt, as kerk, is inderdaad vandag een van onsekerheid, spanning en vrees vir die toekoms. So wat staan ons te doen in die aangesig van soveel uitdagings in ons sekulêre wêreld vandag? Daar rus ’n groot verpligting juis op ons as Christene om ons geloof uit leef en nie soos mense sonder hoop en sonder God in die wêreld te reageer nie.

Wat dit betref, kan gesê word dat daar gelukkig wel ’n tyd en situasie was waarin die getuienis van gelowiges in so ’n moeilike situasie gelewer moes word. Dit hoor ons in Ester vanoggend. Laat haar geloofstaal vir ons van oggend tot aansporing wees. Sy sê: en so sal ek na die koning ingaan, wat nie volgens wet is nie en as ek omkom, dan kom ek om.

Om alle moontlike misverstand uit die weg te ruim:  dit gaan geheel en al glad nie vanoggend om “die gay-kwessie” óf die besluite van die hof of sinode as sodanig nie, dit gaan nie oor lyfstraf, of transgender regte of Christelike onderrig nie. Dit gaan daaroor dat ons sal moet getuig in die publieke sfeer en dat ons getuienis oor hierdie sake in die lig van die Woord van God gevoer moet word. As ons nie die godsdiensvryheid het om self te besluit wat ons hoor die Here in sy Woord vir ons sê nie, het ons ons bestaansreg as kerk verloor.  Dit gaan dus nie oor hierdie dinge op sigself nie, maar om die Sola Scriptura; die reg om na die Skrif alleen te luister, die reg om teenoor die staat – en selfs teenoor die grondwet te staan en te sê:  “So Spreek die Here Here…”

Ons moet ook nie die fout maak om te dink dat ons geïsoleer is van hierdie druk wat sal kom nie, of om Mordegai se woorde te gebruik, (lees vers 13). Ook ons het ’n getuienis om te bly lewer en om weer Mordegai se woorde op te roep (lees vers 14a). Johannes Calvyn het gesê: ’n hond blaf as sy baas aangeval word, ek sal ’n lafaard wees as ek sien dat God se waarheid aangeval word en ek dan stilbly. Gemeente stilte sal ons nie red nie. Passiwiteit sal ons nie red nie. Die kerk behoort bereid te wees om alles oor te hê vir haar getuienis – ook populariteit, ook die onaangenaamheid wat daarmee saamgaan, ja en selfs die dood.

Ester kon rustig in die paleis bly terwyl haar gelowige broers en susters uitgewis word, maar nèe sy sê en so sal ek na die koning ingaan, wat nie volgens wet is nie en as ek omkom, dan kom ek om.. Mag dit ook jou getuienis wees in ons dag en tyd. Vir Christus self was dit immers ook nie anders nie. Hy is die groter en beter Ester – Hy het nie net sy hemelse paleis verlaat in die gevaar om sy lewe te verloor nie. Hy het dit verlaat wetende dat Hy sou sterf. En dit het hy gedoen vir ons. Vir my. Vir jou.

Dus as Christene vandag in ’n sekulêre wêreld moet ons vertroue hê in ons eie identiteit en bestemming. Ons identiteit is vasgevang deur geloof in die Woord. Die eerste vraag en antwoord van die Heidelbergse Kategismus druk dit saaklik uit: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar (f) my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe (i) en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).

Hierdie robuuste vertroue sal ons goeddoen in ’n tyd waar die vyandskap van die wêreld op ons druk. Ons weet wie ons is. Ons weet vir wie ons lewe. Ons weet vir wie ons sterwe. Ons behoort nie aan onsself nie. Ons behoort aan Christus.

Ja, vandag se wêreld word ’n kouer en harder plek. Maar ons mag nie ons geloof maar net beperk tot ons binnekamer nie. Gevorm deur ons geloof kan ons ook met hulle in magsposisies praat. Ons moet veral die regering herinner van hulle verantwoordelikhede om die onskuldiges te beskerm en oortreders te straf. Ons moet hulle herinner dat hulle uiteindelik aan ’n hoër gesag sal antwoord.

Vir hulle wat in fisiese ballingskap is, vir hulle wat lei ter wille van hul geloof, vir hulle wat deur die wêreld verag en gemarginaliseer word bring die boek Ester dus hoop. Want hieruit is dit duidelik dat die geskiedenis onder God se beheer is. Hoe swak en klein die kerk ook al lyk, hoe baie terugslae dit ook al mag beleef, die einde van die geskiedenis word alreeds deur Christus bepaal – Hy sal uitkoms gee.

Kommentaar