28 April

BELANGRIKE DATUMS

 

08 Mei             Verkiesing

13-17 Mei       NG Wes-Kaapland Sinode sitting

30 Mei             Hemelvaart erediens 18:30

2-6 Junie         Pinkster byeenkomste om 18:30

09 Junie           Pinkstersondag met Nagmaal

14 Junie           Skole sluit

14 Junie           Dans

 

Dit is tydens die kwartaal wat die diakens die jaarlikse kollekte kom doen, indien niemand by jou aankom nie kontak gerus die kerkkantoor van waar dit gereël sal word.

 

VOORBIDDING EN VERJAARSDAE

 

Ons dink in ons gebede aan almal wat siek is, in hospitale of tuis aansterk ná operasies of behandeling, ons bid ook vir ons gemeenskap en land: Algemene verkiesing (08 Mei); planttyd, vloed slagoffers.

 

Verjaarsdae:  Cecelia De Beer          2 Mei

Maggie Louw              3 Mei

Nadine Rust                3 Mei

 

GEMEENTEBEDIENING

 

Kategese: Net na die kindermoment.

Biduur: Dinsdag om 09:00, Kasteelstraat 69.

WhatsApp: Om deel van die gemeente se WhatsApp groep te wees of iets daarop te plaas kontak asseblief die kerkkantoor (sien onder)

Teebeurte: Almal wat bereid is om tee te maak en te bedien na die diens kan asb. vir Karin Theron kontak (082 578 2294). Vele hande maak ligte werk!

 

BARMHARTIGHEID

 

Sopkombuis: Weeklikse sopkombuis vir jong kinders in gemeenskap. Skenkings is altyd welkom, kontak vir Hester Truter in die verband (082 436 8987)

Kosbank: Kospakkies vir behoeftiges in ons gemeenskap. Kontak vir Andrea Truter vir enige navrae (082 328 1089) hieroor.

Klerebank: Ons benodig klere, skoene en komberse om onder behoeftiges te versprei. Kontak vir Bregda Mostert (083 597 0091)

Dagsorg & SmartStart: Ons vroeë kinderontwikkeling projek. Kontak vir Karisa Nel vir navrae (076 522 7767)

ACVV: Die senior burger koringklub fokus op senior burgers in ons gemeenskap. Kontak asb. vir Lize Steyn (082 263 9434 ).

Nal’ibali: Ons leesprojek by die plaaslike laerskool. Kontak vir Lize-Maré le Roux kontak (061 109 9336) vir navrae.

 

Predeking: Teks: Matteus 28:16-20; Dordtse leerreëls 2:5-9: So wyd soos die Heer se genade

 

Is daar nog enige behoefte aan die kerk, of is dit outyds, onnodig, oorbodig? Ons leef in ’n eeu waarin die bestaan van die kerk bevraagteken word. Dit is geen geheim dat vele mense vandag, jonk en oud, geen behoefte aan die kerk het nie. Demografies, sosiologies en ekonomies is die kerk in ’n heel ander omgewing as ’n paar dekades gelede. Sedert 1985 het die NG Kerk byna ʼn halfmiljoen, of  ʼn derde, van haar lidmate verloor. Genoeg om meer as 1000 gemeentes vol te maak – meer lidmate as wat die ander drie Afrikaanse susterkerke saam het. Sommige sluit hulle by charismatiese kerke aan, maar die meerderheid lidmate verdwyn eenvoudig stil-stil in die sekulêre wêreld.

En ons moet vra, wat is die oorsaak van hierdie reaksie teen die kerk? Hoekom het die kerk geval van die hoë posisie (as ek dit so kan stel) wat dit eens beklee het? Ons het iets daarvan gesien in die polisiekarre se video, almal oud lidmate van die NG Kerk. En hier moet ons vanoggend vir ’n oomblik na binne kyk. Ons sou baie daaroor kon praat vanoggend, oor apartheid en die hele geskiedenis van ons land en die identiteit van die Afrikaner volk en dit is nie my doel hier vanoggend om enigsins politiese lig daarop te werp nie. Maar ek dink ons kan ten minste saamstem dat vir ’n groot deel van sy geskiedenis, tot en met 1986 met die aanvaarding van kerk en samelewing, was die NG Kerk ’n volkskerk. Nou dit was nie altyd so nie, die volkskerk gedagte het eers in die laat 19de eeu ontstaan en kom die eerste keer te voorskyn in die kerkorde van die N.G. Kerk in Transvaal, die Wetten en Bepalingen voor de Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk in de Zuid Afrikaansche Republiek van 1894. Dit stel dat: Tot elke dezer bijzondere gemeenten behooren alleen blanken. Vir die volgende 100 jaar sou die NG Kerk haarself inrig as ’n volkskerk, met name, die kerk van die Afrikaner.

Die volkskerk wil alles in werking stel om beslag te lê op die hele volk, sodat die hele volk ’n Christelike volk kan word, ’n gedoopte volk. En mens kan dus sê dat dit ’n wonderlike ideaal is. Die gevaar is egter dat die ideaal om die volk in sy geheel by die kerk in te sluit so maklik verabsoluteer kan word dat die kerk begin om daardie ideaal teen elke prys na te streef.  Mense wat hoegenaamd geen verhouding met die Here het nie, word dan as lede dan van die kerk geduld en verdra, uit vrees dat hulle aanstoot sal neem en die kerk sal verlaat en dat die kerk dan nie sy ideaal sal bereik om almal uit die volk in te sluit nie. Daarom doop die volkskerk maar alle volksgenote wat na die doopvont gebring word, sonder navraag. Daarom trou die volkskerk maar almal wat daarvoor vra. Daarom laat die volkskerk maar almal tot die nagmaal toe. En dit alles is ’n fatale misverstand van die evangelie opdrag wat ons hoor nie net in ons teks vanoggend nie, maar in die hele Bybel.

Want as die kerk uitsluitlik ’n volkskerk is, kan sy nie meer ten volle kerk wees soos die Nuwe Testamentiese kerk dit aan ons voorstel nie. Die Bybel leer immers dat die kerk nie maar net ’n massa mense is wat deur ’n bepaalde kerkgenootskap saamgebind word tot ’n volk nie, maar dat die kerk die vergadering is van heel spesifieke persone. Die kerk bestaan volgens die Nuwe Testament alleen uit hulle wie God tot die ewige lewe verkies het. So getuig die Dordtse leerreëls ook. Die Kategismus sê dat die kerk die gemeente van uitverkorenes is (vr.54). Wie buite en wie binne die geledere van die kerk gereken mag word, word uitsluitlik bepaal deur die vraag of die persoon ’n persoonlike verhouding met Christus het of nie. Slegs diegene wat in Christus ingeënt is soos die loot in die wynstok kan ware lede van die kerk wees. Die kerk is ’n volk ja, maar ’n volk wat die eiendom van die Here Jesus Christus is, wat geroep is uit die duisternis tot die wonderbare lig.

Hierdie is tog baie duidelik die leer van die Skrif. Die Dordtse leerreëls verwoord dit so, dit sê: Hierdie belofte moet aan alle volke en mense, aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder enige onderskeid verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof. En word dit verder bely: Dit was die wil van God dat Christus deur die bloed van die kruis – waarmee Hy die nuwe verbond bevestig het – uit elke volk, stam, geslag en taal húlle en hulle alleen kragdadiglik sal verlos, wat van ewigheid af tot die saligheid uitverkies en deur die Vader aan Hom gegee is.

So getuig die Skrif en die belydenis oor die kerk. Nou daar is baie planne vandag om die kerk weer op koers te kry en te herstel. Party probeer op nuwe maniere kerk wees, om mense te betrek by die erediens op allerlei maniere, meer sang, meer tyd vir vrae, meer bemarking. Ons sien dat daar ’n nuwe oplewing kom in liturgie en ’n terugkeer na baie dinge wat tradisioneel vir ons Rooms is: gebed stasies en mediatiewe dienste ens. Ons sien ook die element van vermaak wat al hoe belangriker word in die publieke aanbidding. Mense se persoonlike getuienisse is ook baie belangrik. Daar is ’n groter behoefte vir pastorale werk in gemeentes. Ander meen dat ons die kerk moet vaarwel roep as ons regtig omgee vir die evangelie. Dat ons vars uitdrukkings van kerkwees moet soek. Dat jy in die kroeg of in die koffiewinkel moet kerk hou eerder as in ’n kerkgebou. Dat jy met die koerant in die een hand en die Bybel in die ander hand moet preek. Die kerk moet weer leiding neem in die politiek meen baie en druk op die regering uitoefen en sosiale en maatskaplike werk moet voorrang geniet.

Die groot vraag is nou – wat is die Skrif se antwoord op dit alles? Ek wil voorstel aan die hand van ons teks vanoggend en die leerreëls wat ons verder oordink, dat al die nuwe take en vars metodes sekondêr is, belangrik ja, maar sekondêr en dat die primêre taak van die kerk die verkondiging van die Woord van God is. Dit is miskien nie ’n populêre metode nie, dit mag miskien nie die kerk vol mense maak nie, maar dit is die opdrag wat die Here ons in Sy Woord oplê. Dit is nie dat al die ander take nie belangrik is nie, dit is net nie primêr nie.

Hoe aanloklik dit ook al mag lyk om op allerhande nuwe maniere die kerk weer vol te kry, is daar nie ’n plaasvervanger vir ons getuienis taak nie.  Wat bedoel ek hierby? Ek bedoel die oomblik wanneer jy die mens se werklik nood oordink en ook die verlossing geopenbaar in die Woord, dan word jy gedryf tot die gevolgtrekking dat die primêre taak van die kerk is om dit te verkondig en te verklaar, om die mens sy werklike nood en ellende te wys en ook die kuur, die medisyne daarvoor.

Ons sien in die Skrif, dat die mens onkundig is en dat sy ellende aan hom geopenbaar moet word. Die kerk proklameer dit: die mens se ellende en ook die weg uit die ellende. Slegs die kerk kan hierdie behoefte aanspreek. Die oomblik wanneer ons die mens se werklike nood sien, dan word die primêre taak van die kerk duidelik: dit is nie om die mens te onderrig nie, nie om hom gesond te maak nie, ook nie soseer om hom gelukkig te maak nie, maar om hom in die regte verhouding met God te bring, tot kennis van die waarheid.

Ja, die wêreld het verander, dit maak dit miskien finansieel moeiliker om kerk te wees, dit maak dit miskien sosiaal minder aanvaarbaar, maar die kerk kan nie aan haar taak peuter nie. Maak nie saak wat rondom ons gebeur nie, die kerk sal moet voortgaan om die Woord te bedien en sodoende mense na Christus te wys en hulle toerus om vir Hom te getuig.

Ons sal soos die eerste Christene ’n liggaam moet word wat kan getuig van die evangelie. Want om ’n dissipel van Jesus te wees, beteken om geroep te wees om ’n getuie vir Christus te wees. Vir Christus was dit ’n saak van soveel belang, dat die Nuwe Testament vyf keer vertel dat Hy voor sy hemelvaart aan sy apostels die opdrag gegee het om as sy getuies in die wêreld op te tree (Matteus 28:19; Markus. 16:5; Lukas. 24:48; Johannes 20:21; Handelinge 1:8). Om ’n Christen te wees, is om ’n getuie vir Christus te wees. Dit is ’n saak waaroor ons geen keuse het nie. ’n Mens kan nie ’n Christen wees, maar sê dat jy liewer niks met die getuienistaak van die kerk te make wil hê nie.

’n Kerk wat sy getuienistaak verwaarloos, is ’n kerk wat gestagneer het, wie se lewe troebel word soos ’n poel water wat geen in- en uitvloei het nie. Wanneer die kerk verstrengel raak in aardse belange; wanneer die kerk tot ’n volkskerk word wat sy hande vol het aan die belange van ’n bepaalde volk of groep; wanneer die kerk ’n politieke of maatskaplike funksie begin vervul as die bevestiger van die bestaande waardes van die gemeenskap of as instrument vir die bereiking van aardse ideale en nie meer sy primêre opdrag verstaan om die boodskap van verlossing deur die bloed van Christus te verkondig nie, is die kerk ontrou aan sy eie wese.

Dit bly die hooftaak van die kerk om mense tot die verlossing in Christus te lei. Rondom ons is daar baie mense wat nog nooit behoorlik van Christus gehoor het of die boodskap van die Bybel verstaan het nie. Christus maak ons verantwoordelik daarvoor om sy getuies by hulle te wees. Hoe belangrik al die ander goed ook mag wees, moet ons versigtig wees om die kerk se getuienis taak te vervang. Die belangrike punt is nou egter dat Christus sy gemeente roep om die evangelie in die hele wêreld te verkondig. Daarom sê Hy: “Julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Christus wil rondom Hom ’n gemeente vergader uit elke volk en taal en stam en nasie (Openbaring 5:9). Die tyd toe die heil tot ’n bepaalde volk (Israel) beperk was, is verby. In die opstanding van Christus is die hele wêreld in die lig gestel. Die voete van die apostels van Christus, maar ook van al sy gemeentelede word op die paaie geplaas na die uithoeke van die wêreld. Die groot opdrag word aan hulle gegee om die wêreld vir Christus te win.

Laat ons bid vir hierdie liefde vir die wêreld en die begeerte om aan ons roeping as getuies getrou te wees.

Amen

 

Kommentaar