31 Maart 2019

Erediens 31 Maart 2019. Die geheim van genade (2): Romeine 8: 31-39, Dordtse leerreëls 1:4-6

 

BELANGRIKE DATUMS

 

01 April           NG Kerk en VG Kerk gesprek 18:30 by VGK

02 April           Skole Open

03 April           Ploegdiens 07:00 (het geskuif weens verkiesing)

03 April           Eiendom kommissie 13:30 in Annex

03 April           Barmhartigheid kommissie 15:00 in Annex

03 April           Finansiële kommissie 19:00 in Annex

07 April           Jeugkommissie 10:15 in konsistorie

10 April           Ring geestelike leiers gesprek 19:00 in Piketberg

19 April           Goeie Vrydag Nagmaal om 09:00

30 April           Kerkraadsvergadering om 18:30

13-17 Mei       Sinode sitting

30 Mei             Hemelvaart erediens 18:30

2-6 Junie         Pinkster byeenkomste om 18:30

09 Junie           Pinkstersondag met Nagmaal

14 Junie           Skole sluit

 

Dit is tydens die kwartaal wat die diakens die jaarlikse kollekte kom doen, indien niemand by jou aankom nie kontak gerus die kerkkantoor van waar dit gereël sal word.

 

VOORBIDDING EN VERJAARSDAE

 

Ons dink in ons gebede aan almal wat siek is, in hospitale of tuis aansterk ná operasies of behandeling, ons bid ook vir ons gemeenskap en land:

 

Verjaarsdae:   01 April – Andries Theron

06 April – Mia Warnich

Dordtse leereëls 1:4-6

  1. Die toorn van God bly op hulle wat hierdie evangelie nie glo nie. Hulle wat die evangelie egter aanneem en die Verlosser, Jesus, met ‘n ware en lewende geloof omhels, word deur Hom van die toorn van God en van die verderf verlos, en Hy skenk hulle die ewige lewe (Joh 3:36; Mark 16:16). 5. Die oorsaak of skuld van daardie ongeloof, net soos van alle ander sondes, lê beslis nie by God nie, maar by die mens. Die geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom is egter ‘n genadegawe van God. Soos geskrywe is: Uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God (Ef 2:8), ook: Dit is aan julle genadiglik gegee om in Christus te glo (Fil 1:29). 6. Dat God aan sommige mense in die tyd die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg uit sy ewige besluit. Immers: Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend (Hand 15:18), en Hy doen alles volgens die raad van sy wil (Ef 1:11). Volgens hierdie besluit maak God genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik – hoe verhard hierdie harte ook al mag wees – en buig hulle om tot geloof. Hulle wat egter nie uitverkies is nie, laat Hy volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en verharding bly. Hierin veral kom vir ons tot openbaring die diepe, barmhartige en tegelyk regverdige onderskeiding tussen die mense wat almal ewe verlore is. Dit is die besluit van die uitverkiesing en verwerping wat in die Woord van God geopenbaar is. Verkeerde, onreine en onstandvastige mense verdraai hierdie leer tot hulle eie verderf, maar aan die heiliges en godvresendes gee dit ‘n onuitspreeklike troos.

 

Gemeente, wat beteken die genade van God vir jou? Genade het ons gelees nou in Romeine is daardie ewige besluit van God waarby Hy sekere mense tot die ewige lewe verkies het deur aan hulle geloof te skenk. Miskien sê jy dit is ’n calvinistiese sisteem van dogmatiek en het niks met die Bybel te doen nie. Dit is net ingewikkelde teorie. Miskien dink jy daaroor, en sê jy, maar dit is hard en onregverdig dat God net sekeres deur Sy genade geloof skenk en dat ander verewig verlore sal gaan. Of – is hierdie leer van genade vir jou, soos artikel 6 van hoofstuk 1 van die DL eindig “ ’n onuitspreeklike troos.” Kan jy saam met Paulus sê in Romeine 8 (lees vers 33).

Hierdie genade van verlossing, waarvan ons soveel gehoor het verlede week uit die eerste verse van Romeine 9 en in die eerste drie artikels van die DL: dat almal in Adam gesondig het, almal is van nature sondig en verdien die ewige verdoemenis – onthou? En tog het ons ook gehoor dat God in sy oneindige liefde sy eniggebore Seun gestuur het en boodskappers van die evangelie stuur met die Woord: dat wieookal in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Ook vanoggend moet ons elkeen weer dit glo.

Want elke keer wanneer ons die Woord van God hoor is daar ’n tweeledige reaksie: of ons glo nie die evangelie nie of ons glo dit. Miskien sit jy al jare onder die geklank van die evangelie, preek na preek, Bybelstudie na Bybelstudie, maar wat doen dit in jou lewe? Glo jy dit? Het dit ’n uitwerking op jou lewe? Lei dit jou om vas te hou aan Christus? Daarom vra ek jou, wat is jou reaksie op die evangelie vanoggend, waar ons dit reeds gesing het, gelees het in die wet en die genade verkondiging gehoor het?

Hoekom is dit dat sommige mense die Woord van die Here glo en dit gehoorsaam en ander gaan voort in hulle ongeloof? Die antwoord is God se ewige besluit waar Hy soos Paulus hier in ons teks getuig  gekies om ons deur sy genadig geloof te skenk. Miskien is hier reeds iemand wat dink – dit is belaglik. Of sê: sien ek kan dit nie help dat ek ongelowig is nie: dit was God se besluit. Ander dink miskien – maar dit is onregverdig. Hierdie leer oor genade. Watse God werk so? Maar voor jy voortgaan met al jou opinies en kommentaar, kom ons luister net eers weer na Romeine 8 en die Dortse Leerreëls.

Vanoggend wil ons stilstaan met die hulp van die Here by artikels 4-6 sodat jy ook miskien kan sê, vir die eerste keer of dalk net weereens bevestig, dat die leer van God se genadige uitverkiesing, ’n onuitspreeklike troos is. Dat jy kan uitgaan hier vanoggend en sê (lees Rom 8:38-39).

. Net drie kort punte uit ons teks en belydenis om ons hierin te begelei vanoggend: artikel 4 praat oor die gevolg van geloof of ongeloof, artikel 5 oor die oorsaak en artikel 6 oor die rede vir geloof of ongeloof. Dus die gevolg, die oorsaak en die rede.

  1. Gevolg

Ons het gesê dat wanneer die Here vir ons sy evangelie stuur dan roep dit ’n reaksie op in elkeen van ons se lewens. Die leerreëls en Skrif praat oor die verharding van jou hart. Dit kan baie dinge beteken. Miskien deur alles wat jy blootgestel word op die televisie of op die internet, wat jou behoeftes so vervul dat jy geen nut voel vir die Here Jesus nie. Of miskien is jy al afgestomp vir die evangelie, jy het dit al soveel keer gehoor dat dit nie juis veel meer van ’n indruk op jou maak nie, dat jy sommer wegbly van die kerk af. Maar om jou hart te verhard is ook om te luister na die prediking van God se Woord, maar dit nie te hoor nie. Miskien onthou jy al die prediking, jy kan self daaroor in gesprek tree, teologiese opmerkings maak oor of dit ’n goeie of ’n slegte preek was, oor die eksegese, dogmatiek en toepassing van die teks. Maar na alles gesê en gedoen is, het die Woord geen impak op jou lewe nie. Geen erkenning van jou sonde nie, geen nut vir Christus nie. Geen kruis wat jy hoef op te neem nie. Nee jy gaan maar voort om te probeer om ’n beter weergawe van jouself te wees, maar om sterf aan jou self bly jou ontwyk.

Wat doen die Woord in jou lewe? Die Bybel wat ek vanoggend hier in my hande het, wat doen dit in jou lewe? Wat is die gevolg van jou luister na die stem van die Here? As jy nie die evangelie boodskap vanoggend glo nie, dat God sy Seun gestuur het om sondaars te verlos, dan leer ons Gereformeerde belydenis vir ons die volgende: artikel 4: “die toorn van God bly op hulle wat hierdie evangelie nie glo nie.” Toorn is net ’n groot woord vir wraak, woede, oordeel. Luister, dit sê nie dat die wraak van God op hulle kom nie, maar op hulle bly wat nie hierdie genadige evangelie glo nie. Dit is die verskriklike waarheid van ongeloof. Veral teen die agtergrond van die eerste drie artikels wat ons verlede week gehoor het: Dat God uit liefde sy Seun gestuur het en die boodskappers van die evangelie. Hy hoef dit nie te gedoen het nie – dit moet ons baie mooi begryp.

Miskien is dit meer prakties as ons vir ’n oomblik wegkyk van onsself af – miskien vir ouers met kinders, grootouers met kleinkinders wat hulle kinders sien grootword en dan hulle self moet vra of hulle al iets van daardie werk van die genade van die Here in hulle kinders se lewens sien. Ons soek so maklik verskonings: ja, ons is gekatkiseer, ons behoort aan die NG Kerk, ons is goeie mense. Maar nie een van daardie dinge kan die wraak van God op jou of jou kinders ophef nie. Nie een van daardie dinge kan jou sonde vergewe wat God moet straf nie. Ek wil in alle liefde vra, of ons nog die indruk het van die wraak en woede van God wat oordeel oor die ongeloof. Of is sonde en oordeel outyds? Vind ons dit nog prakties nuttig vir ons eie geloof om die wet op ’n Sondag te hoor en ons skuld te bely, of is dit maar ’n ou liturgiese gebruik? Moet nie te vinnig hierby verbykyk nie. God se oordeel is die gevolg van ongeloof. Daaroor is die Skrif duidelik.

En wat is die gevolg van geloof dan? Ons lees in die leerreëls dat Hulle wat die evangelie egter aanneem en die Verlosser, Jesus, met ’n ware en lewende geloof omhels, word deur Hom van die toorn van God en van die verderf verlos en Hy skenk hulle die ewige lewe. Wanneer laas het jy Jesus met ’n ware en lewende geloof omhels, soos ons hier lees? Daar was een van die ou skrywers, Teodorus a Brakel, van wie vertel word dat Hy die hele nag om op sy knieë sou deurbring as hy nie vir een dag die stem van God gehoor het nie. Is ons nie miskien te gemaklik met die koudheid en doodsheid in ons lewens nie? Omhels ons nog Jesus met ’n ware en lewende geloof? Kom ons maak dit prakties: as jy getroud is en jou man of vrou daag nie op by die huis na werk nie, sê jy ag, as ek hom of haar so nou en dan sien is dit reg. Nee, gaan lees die Hooglied van Salomo. Jy gaan uit, jy gaan soek, waar is my geliefde? Lewende geloof. Sodat jy deur Hom van die wraak van God en die verderf verlos kan word. Dit is die gevolg van geloof. Waar die wraak van God is, daar volg die dood; waar sy genade is, volg die lewe (lees Romeine 8:32).

Maar wat is dan die oorsaak van geloof of ongeloof? Artikel 4 van die leerreëls eindig en trek ons oor na ons tweede punt:

  1. Oorsaak

Wat is dan die oorsaak of skuld van daardie ongeloof? Ons tweede punt. Die antwoord: “die oorsaak of skuld van daardie ongeloof, net soos van alle ander sondes, lê beslis nie by God nie, maar by die mens.” As jy nie daardie genadige evangelie glo nie, dan is dit jou eie skuld. Julle sien ons Gereformeerde belydenis hou die mens verantwoordelik vir sy ongeloof. Elke keer wanneer ons die evangelie hoor en daar is geen bekering van sonde en geen omhelsing van Christus nie, dan is ons ten volle verantwoordelik daarvoor. Jy kan nie die Here blameer nie. Dit is ook nie die kerk se skuld nie. Jy kan nie verskonings uitdink soos dat jy nie jouself kan bekeer nie, “ag wat kan ek nou doen as ek nie uitverkies is nie, as God nie Sy genade vir my gee nie?”

Maar dit is nie ’n Bybelse manier om te praat daaroor nie. Geen mens kan weet of hy of sy verwerp is nie omdat God dit nie in Sy Woord vir ons openbaar nie. Wat help dit nou om te wonder oor iets wat in God se raad verskuil is. Daarom nooi ek jou Sondag na Sondag uit om na Christus te kom. Hy roep jou en daarom is daar geen verontskuldig nie. Die sekerheid van jou verlossing word gevind deur jou oë te vestig op Christus en nie om alles te probeer uitredeneer nie: elkeen wat in Hom glo is verlos, of anders gestel: elkeen wat in Christus glo is uitverkies. Daarom soek na Christus, glo in Hom, bid, stry teen die sonde en deur so volgens die Woord te handel sal jy verlos word. As jy nie glo nie, blameer jouself, nie vir God nie.

Artikel 5 gaan voort om te sê: “die geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom is egter ’n genadegawe van God.” Geloof hang nie af van jou besluit soseer nie. Ek dink dit is baie relevant dat ons dit vandag moet beklemtoon, want nie net in sogenaamde charismatiese kerke nie, maar ook in ons eie kerkverband, die NGK, word die voetstappe van Arminius dikwels duideliker gehoor as die van die Dortse Vaders. Alles gaan oor jou keuse, jou besluit. Is geloof nog by ons, by jou, ’n leë hand wat ontvang? ’n Genadegawe van God? Uit vrye guns alleen. Lê die oorsaak van jou geloof by jouself of Christus? Kan jy saam met Paulus sê: (lees Rom. 8:34).

As God sondaars uit genade regverdig, dan is dit eenvoudig sy vrye keuse om dit te doen. Jy sien geloof kom van God af. Deur Sy genade skenk Hy dit. Maar ongeloof, my ongeloof, jou ongeloof, dit kom nie van God af nie. Die oorsaak van geloof lê buite onsself. Daarom vra ek jou vanoggend, gaan soek jy ook jou geloof buite jouself – in Jesus Christus? Of bou jy jou geloof nog op allerhande gevoelens – vandag voel ek gelowig en die Christelike musiek is so mooi en ek doen soveel goed vir ander – en daarop bou jy jou geloof. Of kyk jy diep binne-in jouself en ontdek dan God? Of het jy deur die genade buite jouself gekyk na Jesus Christus. Daar rus geloof, buite myself.

  1. Rede

Ons laaste punt. Die rede vir ongeloof en geloof. Hoekom is dit so dat sommige vanoggend hier huis toe gaan en die evangelie van genade glo? Hoekom? Artikel 6 sê dat God aan sommige die gawe van geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie volg uit sy ewige besluit. Hoe groot is God se goedheid nie, dat Hy wat verby miljoene gaan en in hulle sonde en verderf laat, in ewigheid jou verkies het om Sy kind en voorwerp van sy genade en verlossing te wees! Gemeente hier moet ons buig voor God se soewereiniteit. Sommige los Hy in hulle verderf, aan ander gee Hy genade. Ons het verlede week gelees in Romeine 9 dat Jakob uitverkies was, maar Esau word gehaat; en dit nie op grond van enige werke wat hulle verrig het nie, maar suiwer omdat dit God so behaag het. God het nie enigiets goeds in Jakob gesien wat Hom beweeg het om hom te verlos nie. Hy het geen waardigheid in ag geneem nie omdat daar geen waardigheid is nie. Die goedheid van God alleen regeer. Dit is ’n valse leer wat strydig is met die Woord van God, dat God verkies of verwerp soos Hy vooruitgesien het elkeen Sy genade waardig is of onwaardig is. Want dan sal jy heeltyd net neerkyk op ongelowiges. Paulus wil ook nie sê dat Esau self of elke lid van sy nageslag vir ewig die voorwerp van God se haat is nie, so min as wat elke lid van Jakob se nageslag sonder meer uitverkore is. Hy wil aantoon dat God die lyn van die verbond met Abraham oor Jakob laat loop en nie oor Esau nie en dat daarin vir Jakob en sy nageslag vele seëninge opgesluit was en dit alles enkel op Gods vrye guns alleen.

Vir die mens mag dit onregverdig lyk, maar Paulus verwerp die bedenking as absurd (Rom 9:14). Immers God is God. Selfs Moses, op wie die Jode hulle graag beroep, bevestig dat God self verklaar het dat Hy barmhartig sal wees oor wie Hy wil. Die Skrif leer dat daar in God geen onreg kan wees nie. As God iets wil, is dit per definisie goed. Wie is die mens per slot van rekening dan om met God wil redeneer? As God, wat aan geen mens iets verskuldig is nie, uit vrye genade besluit om sommige te red, kan daar by Hom van geen onreg, partydigheid of willekeur sprake wees nie. Hoe kan die sondige mens enige eise teenoor God stel? Die vraag is nie hoekom God net sekere mense verlos nie, nee die wonder, dat Hy enigsins iemand verlos.

Jullr sien, ons kan hierdie wysheid van God nie aanhoor nie of dit word dadelik ontstel deur ’n magdom vrae en dan probeer ons om op een of ander manier God tot verantwoording te roep, ons wil met God redeneer, vir Hom sê hoe ons dink Hy eintlik mense moet verlos. Ons moet onsself daarvan terughou om die leer oor predestinasie of voorbeskikking of die genadige skenk van geloof logies te wil verklaar. Ons moet buig voor God se wysheid. Waarom God slegs aan sommige mense geloof in Christus skenk en aan ander nie behoort tot die geheimenis van God waarin ons nie kan indring nie.

Gemeente alles wat ek nou gesê het, moet nie net in ons koppe vassteek nie, ons moet prakties gebruik maak daarvan in ons lewe, want hierdie leerstelling is die fontein van troos in alle moeilike tye en situasies wat ons in hierdie lewe mee te doen kry. Dit maak ons ook nederig, wanneer jy miskien met ongelowiges praat, ook ander wat miskien op een of ander verkeerde pad is. Dat jy hulle kan nader met die wete dat jy net so sondig soos hulle is, nie beter nie. Die rede hoekom jy ’n gelowige is, is nie omdat jy so wonderlik is nie. Dit lê buite jouself. Dit is genade. Dit is God se vrye guns alleen dat Hy jou deur Sy genade geloof geskenk het.

Hoekom is dit so dat ander mense wat hier rondom ons bly; nie hiernatoe kom om na die Woord van die Here luister nie? Ja, natuurlik is daar baie wat in ander kerke en die prediking en evangelisasie hier het ook baie tekorte. Maar die punt is dit is God se goedheid dat Hy jou hierheen gebring het. Nie omdat jy beter is nie. Nie een van ons is beter as die prostituut wat op die straathoek staan nie. En as jy dit begryp begin jy om die geheim van genade en die Christelike geloof te begryp. Jy word minder, God word meer. God sou geen onreg gedoen het as Hy my en jou in ons ellende gelaat het nie. Tog het dit die Here behaag om ons onder die geklank van die evangelie te bring. Ook vanoggend.

Gemeente uitverkiesing, vooruitbeskking, die geskenk van genade is nie ’n muur waarteen jy jouself in hoef vas te loop nie. Soos artikel 6 sê: “Verkeerde, onreine en onstandvastige mense verdraai hierdie leer tot hulle eie verderf, maar aan die heiliges en godvresendes gee dit ’n onuitspreeklike troos.” Ons baklei of teen die leer; of deur die genade is dit vir ons ’n wonder dat God homself steeds bemoei met jou.  Dat Hy ons en ons kinders genadig is. Hoe verhard jou hart ook al mag wees sê die leerreëls, Hy buig jou hart om tot geloof. Dit is Sy werk. Die geloof waarmee ’n mens Christus aangryp is ’n geskenk van God wat lewe wek uit die dood. Dit is daardie troos wat Paulus aan vashou in Romeine 8 (lees vers 35-39).

Daarom as jy vanoggend Sy stem hoor moet nie jou hart verhard nie. Kyk buite jouself na Christus. Omhels Hom met ’n lewende geloof. Die troos vanoggend is dat God in genade geloof skenk. Is dit ook ’n onuitspreeklike troos vir jou?

Amen

Kommentaar