Die evangelie volgens Eksodus
21 Julie 2019
Skriflesing: Eksodus 12:1-13
Ons kyk na die storielyn van die Bybel en staan vanoggend stil by Eksodus. Nou ons ken almal die verhaal van Israel in Egipte en Moses se roeping om hulle te bevry. Moses en Aaron gaan na die Farao reg aan die begin en sê: (lees Ex. 5:1). Maar Farao het geantwoord: (lees Ex. 5:2). Wat Farao vra is dit: elkeen het sy eie godsdiens en gode, wie is julle God, wat is so uniek van julle God, julle geloof, dat ek dit moet glo?
En daar is sekerlik geen beter antwoord op Farao se vraag as die teksgedeelte wat ons vanoggend gelees het oor die Paasfees nie. Vir beide Jode en Christene is die Paasfees die sentrale gebeurtenis van ons geloof. Paasnaweek het egter ons bloedigste naweek in die jaar geword. Want Paasnaweek het ’n vakansie-naweek geword. Die gevolg is dat die druk verkeer op die paaie ’n groot veiligheidsrisiko geword het – en dit juis in ’n naweek wat vir die Christelike kerk tot die hoogtepunte van die hele jaar hoort.
Die vraag is egter nie net of ons net vakansie hou op hierdie naweek nie, maar of dit vir ons meer is as ’n tradisionele feesdag omdat ons werklik nog die boodskap glo wat deur hierdie fees in herinnering geroep word? Die gevaar is dat daar ’n groot kloof kan ontstaan tussen die gewone wêreld waarin ons elke dag lewe – op die plaas en by die huis en werk – en die boodskap wat die Bybel aan ons verkondig. Dan is die dinge waaroor die Bybel praat vir ons soos al die ander verbeeldingsverhale waarmee ons as kinders grootgeword het. Kersvader, die tandemuis, die klas van goed. Ons praat daaroor asof dit waar is, maar in werklikheid glo ons dit nie regtig nie – ’n Lam wat geslag word, God wat aan ’n kruis hang, ons wat die liggaam en bloed van Jesus eet en drink – dit is mooi en selfs roerend, maar staan dan buite die wêreld van ons moderne realiteite. In die gewone, harde lewe koop ’n mens niks daarmee nie.
Nou miskien as jy jou eie hart ondersoek vanoggend sal jy vind dat jy miskien ook so dink, dat Paasfees vir jou net ’n mooi verhaal is, iets waarmee jy grootgeword het. Dat die evangelie in Eksodus vir jou ’n wonderlike verhaal is, maar nie meer as dit nie. Jy beleef nie die werklikheid daarvan nie. Jy glo dit nie.
Die vraag is natuurlik waar en hoe, in die werklikheid waarin ons leef, doen die Here, iets konkreet, sigbaar, tasbaar, dat ons werklik daarin kan deel? Baie mense vra, maar hoe kan ek God ervaar? Hoe kom God konkreet, prakties, voelbaar in my lewe? Waar en hoe raak God my aan? Wat doen Hy sodat ek dit kan waarneem en beleef? Hierop gee ons teks vanoggend ’n baie duidelike antwoord.
- Oordeel oor sonde
Maar kom ons begin eers by die begin. Die oordeel oor die sonde. God roep keer op keer die Farao om sy volk te laat trek, om hulle vry te laat van hulle slawerny. Maar Farao weier en die plae volg. Laastens kom die finale slag: ons lees dit in vers 12 (lees). Moses praat ook later in vers 23 oor die nag (lees). God neem ast’ware die toekoms vorentoe en bring die oordeelsdag vir een dag aarde toe.
Nou vir baie Christene is dit ’n vreemde, verrassende, onverwagse daad, miskien selfs teleurstellend. Die oordeel oor sonde. Oordeel oor sonde is nie iets wat ons deesdae meer juis sê nie. Miskien is dit net predikante wat nog daaroor praat en dan ook maar huiwerig, half verleë, bang om op tone te trap. Dit is ’n woord wat uit die mode geraak het, wat min mense nog gebruik of ooit hoor. Ons het al gewoond geraak daaraan om meer onskuldige taal te gebruik om oor die ellende van ons lewens te praat. Die kultuur van ons dag, die media, die sielkunde, die sosiologie, het ons geleer om anders oor ons ellende te praat en te dink. Maar in die proses het ons dalk meer verloor as wat ons besef. Ons het dalk insig verloor in die diepte van ons lewe. Ons het dalk die woordeskat verloor om werklik die lewe te beskryf en te verstaan. Die Paasfees – het vir ons moderne mense so vreemde, niksseggende vakansie fees geword omdat ons insig verloor het in die diepste nood van ons lewe.
Maar binne die Joods-Christelike tradisie, rondom die Paasfees, was dit anders. Want Paasfees dwing jou oor om sonde te praat. Dit is asof ons vandag net nie meer kan verstaan hoekom God die sonde oordeel nie. Dat ons hiermee sukkel is begryplik want om iets oor sonde te verstaan moet jy iets van God verstaan. Sonde veronderstel dat ons in ons alledaagse doen en late nie maar net onderling met mekaar te make het nie, maar in ons omgang met ander met God te make het. Hiervan is die uittog uit Egipte tog ’n sprekende voorbeeld. As Dawid later praat oor sy begeerte na Batseba in Psalm 51, bely hy immers ook – teen U alleen het ek gesondig.
As jy nie dit snap nie kan Paasfees vir jou nie van betekenis wees nie, want waarvoor word die Lam dam geslag, waarvoor word die bloed aan die deurposte besprinkel? Let ook op dat elkeen wat nie die bloed van die Lam op hulle deur gehad het nie getref was deur die dood van die eersgeborene. God tref nie net die Egiptenare nie. Want sonde is nie net iets wat die Egiptenare doen nie. Dit is in die eerste plek nie dinge wat ons doen nie, nie ’n paar verkeerde dade nie. Nee dit is wie ons is. Dit is die punt van die eersgeborenes wat sterf, van die eersgeborenes Israeliete ook wat aan God toegewy was en losgekoop moes word. Sonde is nie iets wat jy maar net die vinger na kan wys en eenkant toe staan om dit te aanskou nie. Sonde is wie ons is.
N.P. Van Wyk Louw het hierdie insig in sy “Ballade van die Bose” verwoord waar hy vertel hoe die bose ons vergesel waar ons ook al gaan, hoe ons die bose nie kan afskud nie, omdat dit deel is van ons. Hy sê:
Ek is in jou
gevleg, gerank
soos ’n wortel in die donker bank
en van voor die daeraad
se blank begin
straal ek by albei
jou oë in
Die lewe van elke eersgeborene het aan God behoort – ja as ’n oordeel vir sonde. Ook die van die Israeliete. Hulle moes losgekoop word elke jaar. God eien met die Paasfees die lewe van die eersgeborenes. Die eersgeborene verteenwoordig ast’ware die hele familie, sy verlede, sy hede, sy toekoms. Abraham het dit verstaan toe hy vir Isak moes gaan offer het – hy het verstaan hoekom die eersgeborene losgekoop moet word en sonde gestraf moet word. En daarom as Isak vra, “pa. Hier is die vuur en die hout, maar waar is die lam?” Dan antwoord Abraham sy seun: God sal vir Homself die lam vir ’n brandoffer voorsien. En dit bring ons by ons tweede punt uit ons teks uit: die Lam.
- Die Lam
Die tweede ding wat God sê is dat daar net een manier is om van hierdie dood, hierdie oordeel oor sonde te ontkom – ’n Lam. Die grootste dag van oordeel word gebring en God sê: slag ’n Lam en eet dit saam jou familie en sit die bloed op julle deurposte. Dit is die Paasfees.
In elke huis in Egipte daardie aand was daar of ’n dooie seun of ’n dooie lam. Die Lam het die skuld van die eersgeborene betaal. Die Lam is die simbool, die heenwysing, die teken van die ware Lam. Want Jesus Christus vier ook die Paasfees saam sy dissipels voor sy kruisiging. Daar is drie dinge by die Paasmaaltyd: ongesuurde brood, wyn en die Lam. Dan verduidelik Jesus vir hulle die Paasfees. Mens sou verwag dat Jesus die woorde van Eksodus 12 sou oproep (lees vers 27), maar nee Hy sê: dit is My liggaam. En die wyn – dit is my bloed. Maar daar is geen verwysing na die Lam nie. Watter paasmaaltyd is dit sou die dissipels wonder: daar is geen lam op die tafel nie. En nou weet ons hoekom. Want die Lam was by die tafel. So herinner Paulus ook die Korintiërs (lees 1 Kor. 5:7). Die paaslammers moes geslag word totdat die dood van die Paaslam n finale einde sou maak aan die bloedstorting van die ou bedeling. Soos die slagting van die paaslam Israel van die oordeel van God bewaar het en vir hulle redding gebring het, so is die dood van Christus as die plaasbekledende offer die diepste rede vir almal wat tot die nuwe Israel, Sy kerk, behoort.
Dit is hoekom Johannes die doper na Jesus gewys het en gesê het: “Kyk daar, die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem.” As Johannes dit sê bedoel hy dit met beklemtoning: kyk, neem in, besef – daar is die Lam van God. Het jy dit begryp? Hy is die waarna die skadu’s van die hele ou verbond gewys het.
Ons is nog net twee preke in hierdie reeks in, maar begryp jy al dat die hele Bybel oor Jesus gaan. Van Abraham, tot die Paaslam tot Openbaring. Die Bybel is die storie van die Lam. Die Lam wat voorsien is as ’n offer vir Isak. Die Lam wat geslag is vir die eersgeborenes by die Paasfees. Die hele Nuwe Testament is ook geskryf om op talle verskillende manier vir ons uit te spel wie Jesus is. Die Evangelies doen dit deur die verhaal te vertel van sy geboorte, sy prediking, sy wonderdade, sy lyding en dood, sy opstanding en verheerliking.
Die boek Handelinge en die briewe vertel die verhaal verder en laat ons begryp dat hierdie Jesus nie maar net ’n historiese figuur was wie se rol in ’n kort tyd uitgespeel is nie, maar die lewende Heer wat werksaam teenwoordig is deur sy Gees in die gemeente en in die wêreld.
Die boek Openbaring sluit die Bybel af met ’n magtige getuienis aangaande Jesus, die Lam geslag vir die sonde van die wêreld, wat terselfdertyd die Regter is oor die lewende en die dode, die Voleinder van alle dinge. Dit gaan in die Bybel om Jesus. Die Bybel wil ons laat verstaan dat die ware God alleen reg geken kan word deur Jesus.
So waar en hoe, in die werklikheid waarin ons leef, doen die Here, iets konkreet, sigbaar, tasbaar, dat ons werklik daarin kan deel? Hoe kan jy God ervaar? Hoe kom die evangelie konkreet, prakties, voelbaar in jou lewe? Waar en hoe raak God jou aan? Wat doen Hy sodat jy dit kan waarneem en beleef? Hierop antwoord die Skrif oor en oor, van Genesis tot Openbaring – kyk daar die Lam van God. Hy is die Paaslam. Nêrens duideliker as in die Nagmaal bekragtig Hy in ons die heil wat Hy aan ons meedeel. Dit is immers sigbare teken en seël van ‘n inwendige en onsigbare saak, en deur middel daarvan werk God in ons deur die krag van die Heilige Gees. Die teken is dus nie sonder sin en sonder inhoud om ons te bedrieg of te mislei nie; die waarheid daarvan is juis geleë in Jesus Christus, sonder wie die Nagmaal geheel en al betekenisloos sou wees.
Baie mense het ’n vae begrip hiervan. Vir baie is God nie veel meer as Kersvader of die tandemuis nie, of een of ander mag daarbuite of die stemmetjie op die skouer nie. Baie dink dat hulle iets van God kan leer ken uit die natuur of die geskiedenis, en daar is talle godsdienste in die wêreld wat met alle erns God probeer dien soos hulle meen dat Hy geken kan word uit die mens se eie ervaring of uit sy gevoel van nietigheid en skuld of uit sy besef van die oneindige.
Maar die Bybel sê vir ons dat ’n mens God nie op die maniere reg kan leer ken nie. As ’n mens God wil leer ken, moet jy na Jesus kyk. Paasfees is geheel en al betekenisloos as jy nie agter die lam, vir Christus sien nie. As Farao vra “wie is hierdie God?” Dan hoef Moses hom nie verder te wys as die Paasfees, die Lam, Christus nie. Net in Jesus het God sy gesig aan ons getoon. Buite Jesus om bly dit by ’n vae godsbesef, maar deur Jesus openbaar God aan ons wie Hy is en hoe Hy is. Só eksklusief is die Christelike boodskap. Dit gaan werklik om Jesus. In Hom het ons God of ons het Hom nie.
Daar is nie ’n deel in die Bybel, ’n genre, ’n tradisie, ’n skrywer, ’n enkele jota of tittel waar hierdie oortuiging nie op die een of ander manier na vore kom nie. Waar dit nie die boodskap is nie. Dit is waaroor die Skrif se bemoeienis met ons gaan. Van die skeppingsverhale in Genesis, tot by die hemelstad in Openbaring word hierdie boodskap gehoor. God is nie maar net ’n mag, ’n krag, ’n stemmetjie nie. Nee, Hy is in Jesus ons Vader. En dit is geweldig. Die hele boodskap van die Bybel het hierdie heilsboodskap van die Paasfees. Dit verkondig nie net vir ons iets om te weet nie, maar gee ons Christus self, die Lam.
Gemeente, dit is nie genoeg om te dink dat daar darem “iets” is bo en behalwe die aardse werklikheid nie. ’n Mens moet God in Jesus leer ken. In Hom alleen is daar vergiffenis, is daar ’n ontmoeting met God, is daar ewige lewe.
Kyk daar die Lam van God.
Amen