Die opgestane Koning (2): Johannes 20:1-18

Die opgestane Koning (2): Johannes 20:1-18

Om te memoriseer: Romeine 8:11

“11Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.”

Die Woord: Johannes 20:9-10

9Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.10Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.

Oordenking:

In ons gejaag is dit maklik om vlugtig die Woord deur te lees eerder as om dit in te neem. Maar tog glo ons hierdie is die geïnspireerde Woord van God. Neem ‘n oomblik om stil te staan, dank God vir die Skrif en vra Hom om met jou deur hulle te praat vandag.

Soos on gister gelees het, het Jesus se dissipels verskillend gereageer op die ontdekking van die leë graf:

Johannes glo Jesus het opgestaan, maar is nie heeltemal gereed om dit te erken nie.

Petrus is stomgeslaan.

Maria Magdalena oorweeg nie eers die moontlikheid van ’n opstanding nie.

Dit is veral relevant dat hierdie die aanvanklike reaksies was van hulle wie se getuienis oor die opstanding so invloedryk sou word. In elke geval het die bevestiging van die opstanding eers gekom deur persoonlike ontmoetings met die opgestane Here (sien Johannes 20:16, 19-20).

Petrus en Johannes was in die binnekring van Jesus se Apostels. Hulle was deur Jesus vir drie jaar geonderrig en het hom hoor praat oor sy komende dood en opstanding, maar kon nie heeltemal al die lyne bymekaarbring toe hulle die leë graf sien nie. Die opstanding van Christus was so ’n merkwaardige gebeurtenis dat hulle dit nie kon voorspel of aanvaar deur rasionele denke alleen nie. Dit het ’n persoonlike ontmoeting vir elkeen met die opgestane Here gevat om of te glo of om die geloof te bevestig.

Dit voorsien ’n probleem: Hoe kry ons bevestiging dat ons geloof nie irrasioneel is nie?

Kyk na ons vers om te memoriseer vir die week. Nadat Jesus opgevaar het na die Hemel, het hy sy Gees gestuur om by sy mense te wees. Die Gees “getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Romeine 8:16). Wat Paulus vir ons sê is dat die Heilige Gees ’n werklike ervaring van God se teenwoordigheid met ons voorsien.

Hierdie is nie ’n irrasionele ervaring nie, maar eerder ’n innerlike, persoonlike bevestiging van wat ons rasioneel aanvaar – dat Jesus se opstanding bevestig dat hy die Seun van God is en dat hy mag oor als het, ook die dood. Ons aanvaar rasioneel die getuienis van die dissipels en die baie ooggetuies. Ons aanvaar rasioneel die getuienis van baie wie se lewens deur Sy krag verander is. Ons aanvaar rasioneel dat daar ’n objektiewe basis is om reg en verkeerd van mekaar te onderskei, in lig van God se heilige karakter. Ons glo rasioneel dat voor daar ’n enkele materiële voorwerp in die heelal was, was daar liefde tussen God die Vader, Seun en Heilige Gees; en dat die opofferende liefde wat vir ons gewys word in Christus, die enkele geneesmiddel is vir al die onmin en trane wat ons on lewens en wêreld uitmekaarskeur.

 Nadenke vir die week:

Wanneer ons na die opstanding kyk vind ons vryheid om ander te dien. Deur Christus se voorbeeld is ons vry om ander te dien in die mees radikale, liefdevolste manier waarop hy ons gedien het. Mag jy ook deur Christus se opstanding aangespoor word om ander te dien.

Gebed:

Vir jou hart: Dank God dat Hy deur die Heilige Gees ook Christus se opstanding in jou hart bevestig.

Vir jou kerk: Bid dat ons kollektief mense sal wees wat getuig dat ons kinders van God is.

Vir ons gemeenskap: Bid dat die Heilige Gees die harte van mense sal oopmaak wat aanneem dat geloof in Christus irrasioneel is en dat hulle sal sien dat die Christelike geloof ook rasioneel is.

 

Kommentaar