Huisgodsdiens – week 1

As Christene streef ons daarna om daagliks huisgodsdiens te beoefen. Ons besef die ontsaglike geestelike waarde van die lees van die Bybel saam met ons kinders en om saam te bid en God te loof. Maar dit is nie altyd so maklik nie. Daarom dat ek vanjaar weekliks ‘n riglyn gaan deurstuur wat mens sommer so op jou foon kan gebruik of uitdruk as jy sou wou.

Soos alle nuwe voornemens kom die probleem met die praktyk. Meeste van ons (ek inkluis) het waarskynlik al voorheen probeer om met huisgodsdiens te begin – miskien het jy al baie keer probeer – maar dit hakkel en stop uiteindelik altyd. Die grootste rede hiervoor is oorambisieuse planne.  Ek gaan hier op die WhatsApp groep elke Sondag ‘n weeklikse plan vir huisgodsdiens aanstuur wat julle as gesin sal help hierin. Dit is realisties, maklik en duidelike en dit stimuleer interaksie met die Skrif en gebed.

Hierdie plan is eenvoudig, duidelik, uitvoerbaar en winsgewend. Lees elke dag die gedeelte saam uit die Bybel op ‘n tyd wat vir julle werk. Daar is by elke dag se gedeelte ook twee vrae, om kinders op hulle tone te hou. Sondae slaan ons oor, dit is ‘n rusdag, maar goeie vrae kan uit die erediens voortkom.

Die aanbidding van God is die groot doel waarvoor ons en ons kinders gemaak is. Probeer dus om aanbidding aan die voorpunt van jou en julle gesinslewe te hou vanjaar. Onderrig, leer, katkisasie, huisgodsdiens – dit is nie die uiteindelike doelwitte nie; hulle is middele vir die nog groter doelwit van aanbidding — vreugdevolle, eerbiedige en afhanklike gemeenskap met God.

Mag die Here ons ook hierin help vanjaar.

Kommentaar